Agt bergspitse binne agt dae in vellies vir Wupperthal

Die Stellenbosse ingenieur Pieter Holtzhausen (37) in aksie. Foto: Verskaf.

Wat bring ʼn Stellenbosse ingenieur, die mense van die Cederberge en ʼn 93-jarige Kapenaar bymekaar? Die Oujaarsbrand wat Wupperthal laas jaar getref het, se verhaal is nog lank nie afgesluit nie, vertel Sarie Marais-Nell.

Wupperthal in die prentjiemooi Cederberge is ʼn geskiedkundige dorpie waar die inwoners se oop harte, kerkgebaseerde tradisies en ʼn nederige bestaanstyl hul lewens gekenmerk het.

Wupperthal, omring deur hemelhoë bergpieke, se hoofbronne van inkomste is ʼn skoenfabriek, rooibosteeboerdery, en toerisme.

Op Oujaarsaand laas jaar was daar ʼn dun straaltjie reisigers wat dié outentieke dorpie met kameras en breë glimlagte besoek het. Inwoners het planne beraam om Clanwilliam, hul naaste groot dorp te bereik vir winkels, ʼn dokter of apteek …

Die presiese oorsaak van die brand is steeds onseker, maar teen die middag, terwyl die afwagting van die Oujaarsvieringe amper tasbaar in die lug hang, het ʼn vernietigende vuur regdeur Wupperthal geswiep en ongeveer 80% van hul bekende omgewing vernietig. Die kerk, skoolkoshuis en skoenfabriek is genadiglik gespaar. Maar die Wupperthallers moes 2019 met baie min moed en vele onsekerhede binnegaan.

Suid-Afrikaners het die brandslagoffers aanvanklik toegegooi met hope donasies en ondersteuning. Staatsdepartemente het tydelike huise verskaf, maar hierdie formele ondersteuning is teen September gestaak. Sedertdien voel dit of die uitdagings vir hierdie mense – afgeleë en sonder gemaklike toegang tot die buitewêreld – oorweldigend raak.

Toe die Stellenbosse ingenieur Pieter Holtzhausen (37) vroeër vanjaar besef hoe groot die inwoners se fisieke en emosionele behoeftes steeds is, het sy kop oortyd begin werk om oplossings te soek.

“Ek het Wupperthal in die verlede gereeld besoek en het altyd baie liefde en aanvaarding hier beleef. Wupperthallers is pragtige en spesiale mense, maar nadat ek gesprekke met hul Morawiese predikant gevoer het, het ek besef hul herstelpad gaan nog lank duur. Die dorp kort, onder meer, ʼn dagsorgsentrum vir hul kinders.”

Pieter is ʼn gereelde ondersteuner van Wupperthal se skoenfabriek – die oudste werkende skoenfabriek in die land. Dit is in 1836 gestig deur die oupa van die Suid-Afrikaanse digter en skrywer C. Louis Leipoldt, en steeds een van die grootste werkskeppers en toeristeattraksies vir die omgewing se mense.

Omdat Pieter in sy vrye tyd graag bergreekse uitklim, was sy oplossing vir ʼn geldinsamelingsprojek iets wat Jan Alleman na asem laat snak het: Hy het ʼn bergreeksroete begin uitwerk om in sy Wupperthal-vellies die 300 km van Stellenbosch na Wupperthal te hardloop. Hy het ʼn uitdagende agt dae-roete oor agt uitdagende bergspitse gekoppel aan ʼn BackaBuddygeldinsameling om bewusmaking en fondse vir Wupperthal te bewerkstellig.

“Wupperthallers benodig nou ʼn tweede golf van omgee. As ek met my vellievoete bewusmaking kan doen, vertrou ek dat Suid-Afrikaners met helpende hande hierná opvolgaksies vir hierdie gemeenskap van stapel sal stuur,” het hy voor sy wegspring op 8 November gesê. Sy mikpunt is om R50 000 in te samel.

Pieter moes vooraf toestemming reël by Cape Nature en boere oor wie se grond hy draf, veral omdat hy beoog het om foto’s en videos van die natuur te neem. Hoewel hy bedags alleen gedraf het, het sy vrou hom saans by sy slaapplek ingewag met aandete, spiersalf en nuwe voorrade vir die volgende dag se roete.

Die roete wat Holtzhausen gevolg het. Foto: Verskaf.

Pieter, sy Wupperthal-vellies en sy gedagtes was ure lank alleen terwyl hy die eerste twee dae oor die Jonkershoek- en Franschhoekberge gedraf het.

Hierna het die Ceres-, Tulbagh- Winterhoek- en Cederberge-spitse met klimroetes van honderde meter gevolg, terwyl sy BackaBuddy-bydraes op tuisfront geleidelik gestyg het. Toe Pieter agt dae later sy dapper wedloop teen homself en teen die natuur op Wupperthal se Morawiese kerktrappies afsluit, het hy ver meer as R100 000 vir Wupperthal ingesamel.

Een van sy grootste ondersteuners was Danie Laubscher van Durbanville, wat sy hand diep in sy sak gesteek het om uit te help.

“As vyfjarige het ek en my jonger boetie ons plaashuis buite Clanwilliam laat afbrand. Ons was alleen in die kombuis terwyl my ma elders in die huis besig was. My pa en ons ouer broer het op die lande gewerk. Tipies kind, het ons met vuurhoutjies gespeel en probeer om sulke toue wat uit die dak gehang het, brand te steek. Toe daardie rietdak vlamvat, was daar geen genade nie – my ma het slegs kans gehad om ons tweelingbabasussies uit hul wiegie te gryp. Ons het met net die klere aan ons lyf daar uitgehardloop.”

Hierdie tragiese voorval op die plaas Vanrynsekraal 20 km wes van Clanwilliam, het bure en die omgewing se mense laat reageer: Hulle het tente, komberse, klere en kos aangedra; gehelp dat die rietdak vervang word met ʼn sinkdak.

“Al het ek nie daardie dag pak gekry nie, het die skuldgevoel al die jare by my gebly.”

Uiteindelik het hy begin verstaan dat hy slegs ʼn kind was toe dit gebeur het en voel oom Danie op 93 nie meer so skuldig hieroor nie.

“Maar toe Wupperthal op Oujaarsdag so sleg onder die brande deurloop, het dit weer ʼn ding by my kom wakkermaak. Dis waarom ek ‘n diepe verstaan van Wupperthal se lyding het en wou ek graag bydra toe Pieter hierdie wonderlike projek aanpak.”

Vir foto’s oor hierdie opwindende inisiatief deur Pieter, loer gerus op Instagram by @runtowupperthal; en by BackaBuddy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.