Agt marathonne in agt dae vir honger kinders

Die veteraanhardloper Christo van der Berg. (Foto: Verskaf)

Ernstige beserings aan albei sy knieë het die veteraanhardloper Christo van der Berg aangespoor om binnekort die Suid-Afrikaanse ekwivalent van die Spaanse Camino de Santiago aan te durf.

Run for Hope is sy pelgrimstog om agt marathonne in agt dae te voltooi om Solidariteit Helpende Hand te bemagtig om daagliks meer as 8 000 hulpbehoewende kleuters te help voed. Sy reis skop Saterdag in Stellenbosch in die Wes-Kaap af, en dit eindig op 23 Oktober aan die suidpunt van Afrika by Kaap Agulhas.

“Ons is almal op ʼn pelgrimstog, ons het almal uitdagings om te bowe te kom – sommiges is groot en ander klein, maar almal is op een of ander wyse insiggewend.

“My uitdaging was ʼn kniebesering wat veroorsaak het dat ek skaars ʼn honderd meter ver kon hardloop. Teen die einde van verlede jaar het ek besluit om hierdie terugslag te trotseer deur myself uit te daag om dié pelgrimstog – om agt marathonne in agt dae te voltooi – aan te pak. In samewerking met Helpende Hand in die Wes-Kaap beoog ons om ook van die geleentheid gebruik te maak en geld in te samel om honger kinders te voed,” sê Van der Berg.

Sy gekose roete is deur Communitas gevestig. Dit is ʼn ondersteuningsnetwerk wat gemeenskappe lei om hul roeping te ontdek en uit te leef. Communitas is deel van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Hul Pelgrimstog van Hoop-roete, wat Van der Berg gaan onderneem, begin in Stellenbosch en loop deur Franschhoek, Rusty Gate, Wolfkraal, Volmoed, Gansbaai, Elim en Springfield, en dit eindig aan die suidpunt van Afrika by Kaap Agulhas.

Die pelgrimsroete wat Christo van der Berg gaan aandurf. (Foto: Verskaf)

Reeds sedert die Pelgrimstog van Hoop afgeskop het, dien Communitas as ondersteuningsbron vir pelgrims. Hulle verskaf algemene inligting, hou ʼn gidsboek op datum, en hulle hou ook rekord van alle pelgrims wat die tog aanpak. Die Pilgrims’ Assist-span ondersteun pelgrims met registrasies, besprekings, oornagbehuising, en hulle verskaf ook enige ander bystand wat benodig word om die roete suksesvol te voltooi.

“Tydens my pelgrimstog gaan ek skole en kerke in elke dorpie besoek om die plaaslike gemeenskap te ontmoet en hul stories te ontdek: verhale van baanbrekerswerk op plase, van die oorlogsgevangenes wat die paaie gebou het, asook van die streek se eerste inwoners wat in kusgrotte gewoon het,” sê Van der Berg.

Hierdie pelgrimstog is nie net vir Van der Berg ʼn persoonlike uitdaging nie, maar lê hom ook baie na aan die hart.

“Ons weet nie altyd watter uitdagings die mense om ons beleef nie. Kinders kan nie vir hulself baklei nie, en hulle moet van dít wat aan hulle gegee word, oorleef. Ek gebruik my pelgrimstog om blootstelling aan Helpende Hand se missie om honger kinders te voed, te gee,” sê hy.

Run for Hope se doelwit is om soveel kinders as moontlik by die voedingsprogram te laat inskakel. Om een kind vir een dag te voed, kos slegs R40. Belangstellendes kan www.runforhope.co.za besoek om die pelgrimstog te borg, of om ʼn bydrae te maak om ʼn bord kos aan te koop. Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.