Agterkleinkind vier die “moeder” van Vadersdag

Familiefoto uit die 1940’s van Sonora Smart Dodd, die moeder van Vadersdag (Foto: Betsy Hillerman Roddy en Barbara Hillerman Lieske via AP)

Betsy Roddy sal vandag op Vadersdag twee kaartjies maak: een van haar pa en een vir haar oumagrootjie, Sonora Smart Dodd.

Die tweede kaartjie is ʼn eeueoue familietradisie om die moeder van Vadersdag te vereer.

Sondag is die 107de Vadersdag wat in Amerika gedenk word sedert Dodd dié vakansiedag in 1910 ingestel het. Sy is die een verantwoordelik vir die jaarlikse geskenke – van sokkies en seep-op-ʼn-toutjie tot kinderskilderye wat met liefde deur klein handjies gemaak is.

Dodd het besluit om met dié tradisie te begin toe sy op Moedersdag in 1909 in die kerk in Spokane, Washington, gesit het en geluister het na ʼn diens oor Moedersdag.

“Dit het haar gepla,” verduidelik Dodd se 55-jarige agterkleinkind uit haar sitkamer in Los Angeles. “Sy het gedink: waarom is daar dan nie ʼn Vadersdag ook nie?”

Dodd en haar vyf jonger broers is deur hul pa grootgemaak nadat haar ma in 1898 tydens een van haar broer se geboortes gesterf het.

William Jackson Smart het begin boer nadat hy in die Burgeroorlog geveg het. Hy het albei ouerskaprolle vervul en dit met “leierskap en liefde” gedoen, het Dodd altyd vertel en sy was oortuig hy verdien ook krediet.

“Sy het onverpoosd gewerk om die plaaslike predikante en die YWCA te oortuig en die eerste Vadersdag is in 1910 in Spokane gehou,” het Roddy verduidelik met ʼn afskrif van The River Press van Fort Benton, Montana, wat oor die geleentheid berig het.

Alhoewel die berig voorspel het dat die viering die volgende jaar landswyd gehou sou word, het Vadersdag nie vinnig opslae gemaak nie. Dodd het die volgende 62 jaar gebruik om almal, van presidente tot handelaars, te oortuig.

Pres. Richard Nixon het uiteindelik in 1971 verklaar dat die derde Sondag van Junie ʼn federale vakansiedag sal wees om alle pa’s te vereer. Dodd is in 1978 in die ouderdom van 96 oorlede en het dus gesien hoe haar droom waarheid word.

ʼn Renaissance-vrou, die moeder van Vadersdag, was ʼn skilder, digter en sakevrou. Sy het saam met haar man ʼn lykshuis bedryf terwyl sy hul enigste seun, Jack, grootgemaak het.

Roddy, ʼn bemarkingsdirekteur van ʼn groot maatskappy in Los Angeles, het duidelik ook haar oumagrootjie se gene geërf. Sy het in Washington DC grootgeword en haar BA-graad in Engels verwerf by Penn State voor sy na Europa vertrek het om vir ʼn paar jaar ʼn rugsakreisiger te word tussen haar studies deur by die Oostenrykse tak van Webster University in Wene, waar sy ʼn meestersgraad in internasionale besigheid verwerf het.

Sy het byna 30 jaar gelede na Los Angeles verhuis en haar bekwaam in bemarking.

Sy het onlangs weduwee geword toe haar man ná 24 jaar se huwelik gesterf het. Sy het nooit self kinders gehad nie en was self ʼn enigste kind. Sy is dus die enigste direkte afstammeling van die skepper van Vadersdag.

Alhoewel sy altyd bewus was van die nalatenskap, het sy nooit graag openlik daaroor gepraat nie, tot nou toe. Sy het al hoe meer betrokke geraak by MyHeritage.com, die maatskappy wat help om mense se stambome na te vors. Dié maatskappy wou weet of sy haar familie se storie ken.

MyHeritage het ook geskiedkundige dokumente opgespoor oor Dodd wat Roddy en haar ma self nie van bewus was nie. Hulle oorweeg om van die artefakte uiteindelik aan ʼn museum te oorhandig.

Roddy het gesê sy was baie lief vir haar oumagrootjie en het haar jaarliks besoek. Sy koester die gedigte, boeke en briefies wat sy gekry het, waaronder ʼn nota wat haar in die lewe verwelkom toe sy gebore is.

Roddy sê as ʼn kind het sy Vadersdag as vanselfsprekend aanvaar, en aangeneem die vieringe, insluitend die spesiale kaartjie vir haar oumagrootjie, was maar net iets wat haar familie doen. Selfs as ʼn volwassene het sy stilgebly oor die tradisie, en dit aan haar ma oorgelaat om mense daarvan te vertel. Maar nie nou meer nie.

“Dit is nou tyd dat ek self die aflosstokkie oorneem en dit trots dra,” sê sy met ʼn glimlag. “Ek is die laaste direkte afstammeling. Die nalatenskap is hier, dit is ʼn eer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Haha ·

Ek bedoel teë gekom het….. Slaan daai blinde sambok my nou

SARIE VAN HEERDEN ·

Dankie Maroela, vir hierdie allermooie storietjie oor die ontstaan van Vadersdag. So tussen die moord en doodslagstories kom julle en gee vir ons iets moois. Dankie daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.