Agtjarige wil só met Kaapse droogtekrisis help

Justin (Foto: Facebook)

ʼn Agtjarige laerskoolseun van Centurion het ʼn oplossing om Kapenaars in die droogtekrisis by te staan: Hy wil dié krisis bottel vir bottel – elkeen met ʼn persoonlike briefie – verlig.

Die jong Justin Janse van Rensburg, ʼn leerder aan die Laerskool Wierdapark, se versoek aan sy ma om twee bottels water saam met haar op ʼn werksbesoek aan Kaapstad te neem om aan twee vreemdelinge uit te deel, verower die harte van talle op sosiale media.

Estelle, Justin se ma, het Donderdag aan Maroela Media vertel sy is vandeesweek in die Wes-Kaap om onder meer met verskaffers byeen te kom vir die onderneming waar sy werk wat water-ontsoutingsaanlegte in dié provinsie wil aanlê.

Sy sê hoewel sy indirek op ʼn byna daaglikse grondslag met die droogtekrisis te doen het, toon Justin al sedert ʼn jong ouderdom groot belangstelling in natuur- en maatskaplike kwessies.

“Hy is vreeslik ingelig en lees gereeld koerant of boeke oor die dinge wat hom interesseer,” vertel sy. “Justin het heeltemal op sy eie – deur middel van televisie en ander media – besef dat daar ʼn krisis in die Wes-Kaap is en dat talle mense regtig ʼn groot waternood het.”

Estelle vertel Justin het ʼn versoek aan haar gerig om twee bottels water te koop en dit met ʼn briefie, geskryf deur hom, aan enigiemand in Kaapstad te gee. “Ek het aanvanklik eers gevra hoekom ek water moet saamneem, en toe bring hy dié briefie: Hallo, my naam is Justin. Hierdie water kom uit Gauteng uit met liefde. Ek hoop julle kry reën in die Kaap.

Justin se briefie (Foto: Verskaf)

Justin, wat vanjaar met sy gr. 3-skooljaar begin het, het volgens Estelle twee jaar gelede die waterkringloop van die natuur bewys in ʼn projek wat hy vir die jaarlikse Wetenskap-ekspo aangepak het. Hy het onlangs voorgestel dat dié projek waarskynlik met die droogtekrisis kan help.

“Hy het gevra hoekom ons dan nie die waterkringloop op ʼn groter skaal kan gebruik om water op ʼn manier te herwin of te ontsout nie. Ek het hom gevra hoe dit sou werk, en hy het dadelik begin plannetjies maak. Sy hart is op die regte plek,” vertel sy.

Ander kwessies, soos onder meer dieremishandeling, lê hom ook na aan die hart. “Ons het onlangs vermoed dat ʼn man honde teel om in hondegevegte te gebruik,” sê sy. “Hy het uit sy eie die Dierebeskermingsvereniging se nommer opgesoek en hulle gebel. Die DBV het toe wel opgedaag en ondersoek ingestel. Hy was baie ontsteld – hy is baie sensitief vir sulke tipe dinge en wil nie hê mense of diere moet seer hê of swaarkry nie.”

Hy was ook al op patrollie saam met veldwagters in die Kruger-wildtuin om renosters te beskerm teen stropers.

Estelle is Donderdag in Kaapstad met die bottels én die brief en het beloof om vir Justin foto’s te stuur as bewyse dat sy wel die water aan mense geskenk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Aussie ·

Mooi so seun, 10/10 vir jou goeie gesindheid en besorgdheid teen oor mense en diere. Jou omgee sal jou ver in die lewe bring. Hou so aan. Baie trots op jou. Mamma gee vir jou seun n stywe druk van die Aussie tannie af.

cathy ·

Mooi gesindheid Justin, ons het meer mense soos jy nodig ongeag ouderdom, jy het n mooi hart en sal ver kom in die lewe

Lilly ·

Fantasties, Justin! Onthou julle so paar jaar gelede het ons oons water ingesamel en dit na plekke geneem. Hoekom doen ons dit nie weer vir die mense in die kaap nie??

Hermann ·

Mooi so justin
Bedink n plan hoe om daardie 60% mense in die kaap wat nie water wil spaar nie in die tronk te kry en om by hul geld te kry om via boetes om water ontsouting industriee te begin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.