Almal wat een van die immergewilde Afrikaans is Groot (AiG)-megakonserte in Pretoria en Kaapstad gaan bywoon, dra op ’n manier by om te sorg dat minstens 8 000 kinders nie in die aande honger gaan slaap nie.
Helpende Hand is vir die tweede agtereenvolgende jaar as AiG se amptelike liefdadigheidsorganisasie aangewys.
Dit volg nadat Helpende Hand en die organiseerders van AiG in 2018 hande gevat het om ’n verskil in behoeftige kleuters se lewens te maak. Helpende Hand se #StopHonger-veldtog is toe ook van stapel gestuur en Afrikaanse kunstenaars wat hul stemme gevoeg het tot dié projek is onder meer Touch of Class, Tarryn Lamb, Monique Steyn, Corlea, Dewald Wasserfall, Jay du Plessis, Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Riana Nel, Ivan Roux, Laurika Rauch en Demi Lee Moore.
“Om met Afrikaans is Groot vereenselwig te word, is vir ons van onskatbare waarde. Dit gee ons die geleentheid om vir meer as 90 000 mense bewus te maak van Helpende Hand se vele projekte. Dit help ook om ons doelwit te bereik om minstens 8 000 kleuters elke skooldag ’n gesonde bord kos voor te gee,” sê Ernst Vorster, adjunk-uitvoerende hoof van Helpende Hand.
“’n Onlangse studie het bevind dat sowat 85% van behoeftige Afrikaanse kleuters ná ʼn naweek honger by hul kleuterskole opdaag, terwyl 35% van die kleuters elke weeksoggend honger by die skool opdaag. Om 8 000 kinders elke skooldag te voed, moet Helpende Hand nagenoeg 1,5 miljoen etes ’n jaar voorsien. Dit is egter nie genoeg nie. Die nood groei en ons het reeds 12 000 aansoeke vir kos ontvang, so ons sal harder moet werk om te sorg dat nóg meer kinders gevoed moet word. Dit is skrikwekkend om te dink ons versorg tans 8 000 terwyl daar eintlik reeds aansoeke is om 12 000 kleuters te help voed. Dit is vreeslik om te dink elkeen van hierdie syfers verteenwoordig ʼn gesiggie en magie wat honger ly – dit is meer as ’n volgepakte Sun Arena-teater! Ons waardeer dus Afrikaans is Groot en die kunstenaars wat help om bewusmaking rakend dié krisis te skep,” sê Vorster.
Barry Pretorius, ’n vervaardiger en regisseur van AiG, beaam dit is nie ’n maklike taak om daagliks vir soveel kinders kos te gee nie en daarom ondersteun die organiseerders Helpende Hand se pogings.
“Afrikaans is Groot gebruik musiek en in ’n groot mate die uitvoerende kunste om mense te bereik en te inspireer. Ons glo werklik dat hierdie ideaal aansluit by Helpende Hand se uitkomste, onder meer om duisende kinders daagliks te voed, maar ook om baie duisende mense te inspireer om betrokke te raak by hierdie puik inisiatief. As Afrikaans is Groot ons reuse aantal ondersteuners kan motiveer om hul taal te dien, selfs deur ’n liefdadigheidsorganisasie soos Helpende Hand, is die sinergie suksesvol,” sê Pretorius.
Die AIG-konserte wat van 22 November tot 1 Desember in die Sun Arena by Time Square in Pretoria plaasvind, se kaartjies is reeds vroeg-vroeg uitverkoop. Weens die oorweldigende belangstelling is ʼn bykomende vertoning op 28 November bygevoeg.
Die vertonings in Kaapstad is volgende jaar op 21 en 22 Maart. Kaartjieverkope hiervoor open op 29 Oktober om 09:00 slegs op Computicket.
Pretorius het vroeër vanjaar bevestig Laurika Rauch en Elandré gaan ook deel vorm van die konserte. Talle ander bekende kunstenaars sal saam met hulle op die verhoog te sien wees, insluitend Steve Hofmeyr (slegs in Pretoria), Corlea, Karlien van Jaarsveld, Riana Nel, Elvis Blue, Demi Lee Moore en Bok van Blerk, om net ʼn paar te noem.
Daar is slegs ’n beperkte aantal kaartjies vir die vertoning op 28 November oor. Kaartjies is hier beskikbaar. Die publiek word gewaarsku om versigtig te wees vir derdeparty-kaartjieverkopers.
Mense wat nie die vertonings kan bywoon nie, kan Helpende Hand steeds ondersteun en ʼn bord kos vir ’n honger kleuter borg. SMS die woord STOP na 38546. SMS’e kos R10.
Borge wat onttrek het moet hulle koppe laat sak van skaamte want duidelik het hulle geen belang by die verligting van armoede en die voeding van kinders nie.
En een so borg is Sin City wat in werkliheid bydra tot armmoede!! AiG wil ook nie met sulke borge geasssosieer word nie …