AJ skud 140kg af ná trauma

AJ vd Walt

AJ voltooi die Sanlam Kaapstad-marathon. Foto: Verskaf / Jetline Action Photos

Baie van ons wens daagliks ons kan die ongewensde kilogramme om die heupe sommer lag-lag afskud.

AJ van der Walt (33), ʼn eiendomsagent van Hartswater, het drie jaar gelede dié wens vir homself bewaarheid toe hy besluit het om ʼn gedaanteverwisseling te ondergaan deur sy leefstyl handomkeer te verander en daadwerklik gewig te verloor.

AJ vertel aan Maroela Media hy het in 2014 die skaal op 282 kg laat kreun. Hy was toe 30 jaar oud en baie ongesond, sê hy. “Ek was van skooltyd af al oorgewig. Ek was nooit ʼn ou vir sport nie, so ek was glad nie baie aktief nie. My ongesonde leefstyl het erger geword toe ek gaan swot het. Al was ek altyd die grootste ou by enige plek waar ek aangekom het, en al het mense altyd aanmerkings oor my gewig gemaak, was ek steeds ʼn spontane mens. Ek het nie weggekruip nie,” vertel hy.

AJ vd Walt

AJ het voor sy gewigsverlies 282 kg geweeg. Foto: Facebook / AJ van der Walt

Die dag wat hy besluit het om sy lewe te verander, het met ʼn traumatiese ervaring gepaard gegaan wat hom diep geraak het. “Die oggend van 1 Junie 2014 het twee van my ouma se vriende nie, soos oudergewoonte, by die kerk opgedaag nie. Ons het daarheen gery om te kyk of alles pluis is,” vertel hy.

“Toe ons by hulle huis aankom, het ons geklop, maar geen antwoord gekry nie. Ek het om die huis gestap en kon deur die slaapkamervenster sien dat alles deurmekaar gekrap is. Ek het skielik die tannie van binne af hoor roep. Ek het besluit om die voordeur oop te breek met my skouer, en toe val ek op die mat. Die oom is met ʼn hamer doodgeslaan en die tannie is herhaaldelik met ʼn mes gesteek.

“Om daarop af te kom was verskriklik. Dit het my laat besef ek doen aan myself wat daardie mense aan die oumense gedoen het. Ek het besluit ek moet daadwerklik ʼn plan maak met my gewig, want wat is die lewensverwagting van iemand wat op 30 met ʼn gewig van 282 kg leef? Ek is die volgende oggend na my dokter toe, en hy het voorgestel ek oorweeg banting.”

Hy glo dit is dié leefstyldieet – wat hoofsaaklik bestaan uit hoë vetinname deur vleis, en lae koolhidraatinname – wat sy lewe gered het. “Ek wou iets doen wat volhoubaar is. Dit is waar die meeste mense die pad byster raak. Hulle dieet vir ʼn paar weke en weerhou hulself van alles wat lekker is, en sodra hulle uit hul roetine val, val die dieet ook weg. Daarom dat ek sê ʼn mens moet jou leefstyl verander.”

Die banting het só goed gewerk dat hy deel geraak het van die Tim Noakes-stigting. “Dit is ʼn volhoubare dieet vir iemand wat hou van vleis. Dit gaan nie vir almal wees nie, maar dit het vir my gewerk,” sê hy.

Saam met die banting het hy ook begin om meer aktief te raak. “Deesdae staan ek 04:30 in die oggend op om so 12 km te gaan draf, of ek woon ʼn fietsryklas by die gimnasium by as dit te koud is buite. Aan die einde van die dag probeer ek 2 km swem. Ek neem ook deel aan halfmarathonne en fietswedrenne om sodoende aktief te bly en myself deurgaans te motiveer.”

Vandag is die skaal nie meer sy vyand nie en staan die skaal se naald konstant tussen 143 en 145 kg stil. “Ek is nog nie klaar nie,” lag AJ, wat ook bo ander uittoring weens sy lengte van 1,96 m. “Ek het nog so 35 kg wat ek wil afskud.”

AJ vd Walt

AJ tydens die Sanlam Kaapstad-marathon. Foto: Verskaf / Jetline Action Photos

Hy sê elke aspek van sy lewe het verander. “Selfs wanneer ek met vakansie gaan, bly ek aktief. Ek doen alles wat daar is om te doen, want nou kán ek,” sê hy.

Vroeër vandeesmaand het hy sy eerste volmarathon van 42 km in die Kaap voltooi. “Die afsnytyd vir daardie wedlope is 6,5 ure. Dit gee my ʼn gemaklike kans om die wedloop te voltooi en as ʼn mens eers dít gedoen het, is dit in jou kop ook gedoen,” het hy gesê. “Vir my gaan dit daaroor as jy jou kop op ʼn ding gesit het, moet jy net oefen en vasbyt. Ek geniet dit om agter te hardloop, want daar kry ek die geleentheid om met mense te gesels en stories te deel. Daar kan ons mekaar motiveer,” vertel hy.

Deesdae hou hy daarvan om ander mense wat gewig wil verloor te help deur hulle af te rig in die korrekte maniere om hul gewigsverlies te volhou. “Uit die aard van my werk is ek baie op die pad, en ek gesels daagliks met omtrent 10 of 20 mense wat hul leefstyle wil verander, maar nie weet waar om te begin nie.”

Hy het ingeskryf om volgende jaar die Comrades-marathon te hardloop. “Ek moet eers volgende jaar Februarie daarvoor kwalifiseer, maar ek twyfel nie vir ʼn oomblik dat ek dit gaan maak nie. Ek weet ek gaan dit doen, ek weet nog net nie hoe nie,” skerts hy. “Ek sê nou die dag vir my ma – ʼn marathon leer jou soveel van jouself. Om ʼn marathon te hardloop, gaan nie oor jou lyf nie. Dit gaan oor jou kop. As dit oor jou lyf gegaan het, sou jy ná 21 km opgehou het.”

Enigiemand wat AJ wil kontak vir advies oor gewigsverlies, kan na sy Facebook-blad gaan, of sy blog besoek by www.im-possible.co.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Zana ·

Baie baie geluk met so ñ prestasie AJ! Dit vat baie guts en is die beste ding wat jy ooit vir jouself kon doen! Sterkte met die pad vorentoe en voorbereiding vir die Comrades. Maar ek dink jou kop is klaar reg! Dankie Maroela Media vir so ñ inspirerende storie! Dit gee mens sommer moed vir die dag!

Basson ·

Ongelooflik!
Baie baie geluk, dis absoluut fantasties en baie inspirerend.
Die geheim van jou sukses is heel moontlik gelee in die feit dat jy eienaarskap geneem het van jou eie gesondheid en dus jou lewe.
Sal graag jou bloedtoetse vergl van voor en na die tyd wil sien. (Trigs, S-GGT, ens)

Johnniej ·

AJ Baie geluk jou kop is in die regte rigting ek het self ook comrads gehardloop en as jou kop nie reg ingestel is nie dan kan jy maar los nog voor jy begin het so is dit ook met jou lewens patroon nogmaals baie geluk en sterkte verder met alles.

christa ·

Pragtig, dalk moet meer mense ‘n trauma beleef om hulle self reg te ruk. Hoekom moet so-iets eers gebeur voor mense na hulle self wil omsien.

bee ·

Welgedaan!! wat n pragtige storie! Ek hoop hy hou sy gewig af, en volhou met sy gesonde lewenstyl!! wat n absolute inspirasie!!

Johan ·

Dis nou lekker goeie nuus om telees vir ‘n vrydag. Welldone!!!

Verstom ·

Jy is ‘n wonderlike aansporing en inspirasie vir baie mense wat dink dit kan nie gedoen word nie. Banting is dié dieet vir enige iemand wat wil gewig verloor. Dit is waar dat dit nie vir elkeen maklik is nie, maar enige een kan dit doen, dis ‘n “mind shift”. Dit werk. Baie geluk en voorspoed met die ekstra wat nog moet af.

Blommie ·

Ag nee wat ‘n dop of 2, 3, of 4 gaan net weer gewig by las. Mens is baie beter af sonder drank en sigarette. Net my mening

Raai Raai ·

Banting is n baie duur dieet, maar dit werk baie goed, nie almal kan op Banting gaan nie omdat dit te duur is vandag

$$$ ·

Bes moontlik heelwat goedkoper as die moontlike prys wat jy gesondheids- en geldgewys later in jou lewe kan betaal vir Parkinsons. Alzheimer, diabetes, KVS, ens ens?

NS : My banting leefstyl is inderdaad goedkoper as die hoofstroom HCLF model wat ek eers gevolg het, en wat my ook op ‘n pad na baie siektes geplaas het. Gelukkig het ek betyds besef dat dr’s en dieetkundiges maar net die hoofstroom sjabloon model volg met hulle advies, en mens moet self maar baie navorsing doen :)

Banter ·

Geensins duurder as mens kyk na die plus punte. Doen navorsing en volg jou eie plan. Brood en suiker is die 2 hoof vetmakers. Net om dit te sny gaan jy alreeds baie spaar.

Veritas ·

Laat my dink aan wat die doodhonger jakkals vir die brandmaer haas gesê het tydens die groot droogte. ‘Jy’s lekker vet nê, jou maergat!’.

m ·

Dis so ongelooflike positiewe storie. Jy het goedgedoen. Bly ma nie maklik om gewig te verloor nie. Dis n leefstyl verandering.

Wazzie ·

Ek is self lekker mollig. Het banting probeer, maar dit werk nie (omdat ek saans twee pakke tjips, 4 liter kouk en ‘n sjokiladie verorber).

Wens ek kan ook eendag my niggies uitspoeg. Ek word vreeslik gespot. Ek drink nie meer alkihol nie.

Niel ·

Dit is voorwaar ‘n prestasie, maar wees versigitg. Die verhaal laat my terug ding aan ‘n goeie vriend, Dries het ook heelwat gewig afgeskud (hy het ‘n standard Citi Golf volgesit voor) en begin leef. Was ook lief om te gaan draf, fietsry, ens. Tot eendag toe hy 12m van ‘n rotse geval het by een van die Crystal Pools voetslaanpaaie in Gordonsbaai. Hy het sy wind uitgeval, verdrink en polisieduikers moes sy liggaam uitduik.
So jammer dat iemand wat homself goedgedoen het so tragies moes heengaan. RIP ou Driesie, ons dink nog elke dag aan jou.

amelia ·

Neil – waarvoor moet AJ versigtig wees? Jou vriend se voorval het mos nou absoluut niks met die storie te doen nie.

Niel ·

My naam is Niel, nie Neil nie.
Ek sê mr net AJ moet versigtig wees as hy avontuurlustige/adrenalien aktiwiteite sou wou aanpak noudat hy kan.
Hoop dit help.

Basson ·

Ja ek het simpatie met jou Niel.
Ek weet ook van sulke gevalle :(

Lobstertjie ·

Wonderlik vir jou….. Ek bewonder jou moed en deursettingsvermoe en met die banting leefstyl is dit soveel makliker, leefstylsiektes maak mense vroeg dood. Ek het albei my broers so verloor voor hulle 60 jaar oud was, en dit help nie jy begin te laat in jou lewe nie, die skade is dan klaar gedoen. Sterkte vir jou en hoop die res van jou gewig neem gou die wyk.

Pieter ·

Aj Dit Is Baie Mooi Van Jou.Wat Jy gedoen Het..Jy Lyk Sommer Goed Ek Kan Dit Nie Glo Nie Rerig Hoe Voel Dit ???

Adriaan ·

Goed gedoen, dis altyd lekker om te hoor dat iemand sy lewe op n goeie manier verander het. Ek hou duim vas AJ kan sy gewig ook op die lang termyn (wanneer hy fisies nie meer so aktief is nie) reg bestuur.

Basson ·

Dis ‘n Groot-Suiker mite dat om aktief te wees die (primêre) rede vir gewigsverlies is.
Jy kan nie weghardloop van jou (verkeerd belaaide) vurk! ☺

jan_alleman ·

daar is a gevaar in die banting dieet , ek was self n groot voorstaander van die dieet en het 40 kg verloor daarmee MAAR vandag sit ek met n seldsame siekte , baie hoge suur in my ligaam en skade aan my byniere , nimmereindigende inflamasie wat nie onder beheer gebring kan word nie, balans is alles

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.