Akademia behaal nóg ʼn mylpaal

akademia

Foto: Maroela Media

Akademia, ʼn private hoëronderwysinstelling in Pretoria, het vandag sy vierde promosieplegtigheid aangebied met ʼn seremonie waartydens 30 afstuderende studente diplomas en hoër sertifikate ontvang het.

Dié instelling het in 2012 met 40 studente begin en spog vandag met 420 studente.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, meen daar is verskeie redes waarom hulle soveel sukses en groei behaal. “Ons spreek ʼn basiese behoefte aan van die Afrikaanse gemeenskap – ʼn gemeenskap wat homself wil ontwikkel en instellings wil skep vir ontwikkeling.”

Visser sê ook Akademia is ʼn instelling waarvan die idee-raamwerk belyn is met die hoofstroom van die Afrikaanse gemeenskap. “Ons is Afrikaans, ons het ʼn oop idee-raamwerk, ons wil nie verkramp en geïsoleerd wees nie en ons werk uit ʼn Christelike lewensbeskouing.”

Akademia sal volgende jaar nog ʼn mylpaal behaal deur sy eerste gradeplegtigheid aan te bied. “Ons kon oor die afgelope vier jaar ons model ordentlik toets en terugvoer kry. Dit is baie duidelik dat die model effektief is en dat dit mense se potensiaal optimaal ontsluit.”

Visser sê studente is belangrik vir die sukses van Akademia en dat dié instelling nou ʼn fondasie het waarop hulle verder moet bou. “Dit wat hulle [die afgestudeerdes] gaan uitleef, waar hulle beweeg en hoe hulle kommunikeer, sal Akademia bevorder. Hulle moet ook aanhoudend leer – of dit formele kwalifikasies, of kort programme is – hulle moet net aanhou.”

Akademia is geakkrediteer deur die hoër onderwyskwaliteitskomitee van die raad op hoër onderwys, die statutêre akkreditasieliggaam wat alle hoër onderwysprogramme en instellings in Suid-Afrika akkrediteer.

Besoek Akademia se webtuiste vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarie ·

Baie geluk! Staan sterk, vertrou en bou dis die antwoord. Terwyl die ander universiteite met die# sukkel gaan julle voort met uitnemendheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.