Akademia bied eerste nagraadse kwalifikasies aan in finansies, opvoedkunde

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Esther Tuttle/Unsplash.)

Die Afrikaanse private hoëronderwysinstelling Akademia het Woensdag drie nuwe nagraadse kwalifikasies vir 2021 bekendgemaak.

Die kwalifikasies sluit ʼn nagraadse diploma in belasting en ʼn nagraadse diploma in bestuursrekeningkunde in, asook Akademia se eerste aanbod in opvoedkunde wat ʼn nagraadse onderwyssertifikaat (NGOS) is vir die senior fase en verdere onderwys en opleiding.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, sê die instelling is trots op hierdie nuwe reeks eerstes.

“Nadat ʼn deeglike akkreditasieproses by die Raad op Hoër Onderwys voltooi is, kan hierdie drie kwalifikasies van volgende jaar oor ʼn landswye netwerk van studiesentrums in Suid-Afrika en in Windhoek aangebied word.

“Afrikaanssprekende studente wat ʼn voorgraadse kwalifikasie in die toepaslike rigting voltooi het, kan nou hulle loopbaanmoontlikhede uitbrei deur verder te studeer om in een van hierdie drie rigtings te spesialiseer – en boonop kan hulle die studies in hul moedertaal doen,” sê Visser.

Hy meen ook die kwalifikasies is ideaal vir werkende mense wat verder wil studeer.

(Grafika: Akademia.)

Volgens Visser dien die nagraadse diploma in bestuursrekeningkunde as ʼn aanvullende studiemoontlikheid tot Akademia se bestaande BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie. Hierdie nagraadse diploma bied die nodige voorbereiding om toelating tot die instituut vir geoktrooieerde bestuursrekenmeesters (Cima) – die wêreld se grootste professionele liggaam in hierdie veld – se finale eksamens op strategiese vlak te vergemaklik. Na voltooiing van die Cima-eksamens en -vereistes kan studente as geoktrooieerde bestuursrekenmeesters kwalifiseer.

“Akademia se nagraadse diploma in belasting bied die ideale geleentheid vir studente wat reeds ʼn voorgraadse kwalifikasie in ʼn rekeningkundige veld voltooi het en in belasting wil spesialiseer,” sê Visser. Hierdie kwalifikasie stel studente in staat om die belangrike taak van organisatoriese en individuele nakoming van die vereistes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die nasionale tesourie te verseker.

Prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, meen dat die NGOS wat volgende jaar aangebied word, die eerste stap in die ontwikkeling en totstandkoming van ʼn volledige Fakulteit Opvoedkunde is.

“By Akademia is ons toegewyd om met hierdie kwalifikasie uitstaande onderwysers vir graad 8 tot 12 op te lei, wat oor die nodige pedagogiese inhoudskennis, vaardighede en ervaring in die werksplek beskik.”

“Ons by Akademia is dankbaar oor die jongste verwikkelinge vir 2021”, sê Visser. “Dit beteken dat ons steeds hoop kan skep in onsekere tye, en beter geleenthede kan skep vir studente. Ons glo dat afgestudeerde studente van hierdie kwalifikasies hulself goed in die werksplek as afgeronde kundiges sal posisioneer, en ʼn groot bydrae sal kan lewer in gemeenskappe waarin hul hulself bevind.”

Aansoeke vir studie in 2021 is reeds oop. Besoek Akademia se webblad vir meer inligting oor hierdie kwalifikasies, asook om aanlyn aansoek te doen vir toelating tot die programme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.