Akademia het pas bekendgemaak dat die Afrikaanse hoëronderwysinstelling van 2020 die graad BCom (Ekonomie en Regte) aanvul met Baccalaureus Legum (LLB).
Die aankondiging is Maandag 11 November gemaak en sal die instelling se tweede regskwalifikasie wees aangesien dit sedert 2017 die graad BCom (Ekonomie en Regte) aanbied.
Die akkreditasie van hierdie kwalifikasie is ʼn groot mylpaal vir Akademia, aangesien dit deel vorm van die instelling se toekomsplanne om na steeds meer studierigtings uit te brei.
Volgens Liana Venter, registrateur by Akademia, is die instelling veral trots op hierdie suksesvolle akkreditasie nadat LLB-programme op nasionale vlak onlangs by alle openbare hoëronderwysinstellings hersien is. “Die volwaardige akkreditasie van ons LLB-program is ʼn aanduiding van die gehalte, asook die vernuwende samestelling, van hierdie kwalifikasie aan Akademia.”
Navrae oor die aanbieding van LLB by Akademia het toenemend ingestroom. “Nou kan Akademia uiteindelik, nadat die deeglike akkreditasieproses by die Raad op Hoëronderwys voltooi is, hierdie gesogte kwalifikasie aanbied,” sê Venter.
Akademia se LLB-graad is daarop gerig om bekwame, vaardige en dinamiese regsgraduandi te lewer wat toegerus is met ʼn deeglike kennis en begrip van toepaslike regsbeginsels. “Dié kurrikulum is so saamgestel dat dit ook die daadwerklike behoefte van dissiplinegebaseerde nie-regsmodules aanspreek. Hierdie modules sluit onder meer die sosiale, ekonomiese en politieke werklikhede waarbinne die reg funksioneer in,” meen Venter.
Akademia se LLB-kwalifikasie sal studente voorberei vir toegang tot die regspraktyk, maar ook vir ʼn wye verskeidenheid ander loopbane wat die toepassing van regsbeginsels vereis. Boonop bied dit die nodige voorbereiding vir verdere meestersgraadstudies in die regte. “Teorie en die toepassing van regsbeginsels is ʼn deurslaggewende komponent van die program en sodoende word verseker dat studente die vermoë het om intellektueel te ontwikkel en te groei,” sê Venter.
Dr. René de Klerk, programkoördineerder van die BCom-program (Ekonomie en Regte) by Akademia, reken dat studies in die regswese altyd gesog en relevant sal bly. “Om regte te studeer is ʼn integrale deel van die klassieke mensdom se ontwikkeling. Suid-Afrika het juis regsgeleerdes met ʼn stewige morele kompas nodig vir die verdere ontwikkeling en uitbou van ʼn stabiele en vooruitstrewende samelewing.”
Volgens De Klerk word LLB-studies by Akademia van ander instellings onderskei deurdat Afrikaanse studente onderrig in hul moedertaal kan ontvang en daardeur ʼn beter begrip van komplekse idees vorm. “Die Akademia-student is uiteindelik uitnemend gekwalifiseer omdat hierdie regspraktisyns hulle kliënte in Afrikaans sal kan adviseer en bystaan, maar steeds toegerus is om in Engels te praktiseer.”
- Besoek Akademia se webblad vir meer inligting oor hierdie kwalifikasie, asook om aanlyn aansoek te doen om toelating tot die LLB-program in 2020.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
8 Kommentare
Uitstekend!
…. en wie is die menere wat dit gaan aanbied? Niemand skryf in vir klasse sonder verwysings na respektabele lektore nie of gaan manne in klapmusse deur donker gangetjies skarrel na studente in grotte om by kerslig onderrig a la alchemiste te fluister?
Wonderlik!
Afrikaans is Groot!
Mag dit die begin wees van ‘n proses om die “regs-bedryf” in Suid Afrika te praktiseer soos dit oorspronklik bedoel was. Ek was vanoggend in ‘n Landdros hof vir ‘n werker se saak….en dis swak wat daar aangaan….Dis net uitstel en tee drink….tot satwordens toe.
Ek dink die graad gaan moeilk wees om in Afrikaans te voltooi – maar knap gedaan!