Akademia-dosent kry internasionale veer in die hoed

Zhan Goosen (Foto: Akademia)

ʼn Dosent in projekbestuur van die gemeenskapsuniversiteit Akademia het onlangs ʼn internasionale toekenning vir ʼn navorsingsartikel oor stadsontwerp in Singapoer verower.

Zhan Goosen het dié toekenning vroeër vanjaar by die 20ste Internasionale Konferensie oor Volhoubare en Strategiese Stadsontwerp gekry. Dié konferensie poog jaarliks om akademiese wetenskaplikes, navorsers en navorsingswetenskaplikes byeen te bring om hul ervaring en navorsingsresultate voor te dra. Dit bied ook ʼn interdissiplinêre platform vir navorsers om die mees onlangse tendense en knelpunte te bespreek.

Goosen se artikel, “Third places for social sustainability: A planning framework based on local and international comparisons”, vorm deel van haar PhD-studie in stadsontwerp wat sy deur die Noordwes-Universiteit studeer.

Dié artikel handel oor die beplanning van openbare ruimtes binne stedelike gebiede van Suid-Afrika en hoe dit ʼn positiewe sosiale uitwerking op mense sal verseker.

“Volgehoue bevolkingsgroei en eksponensiële migrasie van mense vanaf landelike na stedelike gebiede plaas heeltyd druk op stedelike omgewings,” vertel sy. “Hierdie unieke en openbare ruimtes wat geskep moet word, moet dus nie net omgewings- en ekonomiese voordele inhou vir die stad nie, maar ook die sosiale volhoubaarheid van die mense positief beïnvloed en verseker.”

Oor dié toekenning is sy “trots”. “Ek was nie by die ete op die finale aand nie en het dus nie die oomblik ervaar [toe die toekenning uitgedeel is] nie. [Die organiseerders] het my toe per e-pos laat weet. Ek was steeds bietjie trots.”

Goosen sê navorsing is haar grootste passie. “Ek het reeds vroeg in my loopbaan my passie vir navorsing ontdek toe ek besef het ek is meer aangetrokke tot die akademiese sy van beplanning as die praktyk daarvan,” vertel sy.

“Dit kom nie altyd maklik nie en vir my was dit beslis ʼn tegniek wat ek moes aanleer; en vandag leer ek steeds hoe om die navorsingswêreld te benader. Soos wat ek foute gemaak het – en vandag steeds foute maak – leer mens elke dag. Stadig maar seker het die onbekende ruimte vir my bekend geword. Wat my die meeste aantrek, is dat daar geen beperkinge gestel word nie en dat my kennis daagliks verbreed word; dit laat my groei as mens.”

Navorsing is daarom vir haar ʼn waardevolle tydverdryf en nié ʼn straf nie. “Ek begin reeds benoud raak as ek dink wat ek volgende jaar sonder my PhD-studie gaan doen. Ek hoop om my vlak van navorsing te verbeter deur meer aandag te gee aan publisering in geakkrediteerde joernale. Ek sien uit daarna om ook verdere navorsing te doen in die veld van projekbestuur – en wie weet, dalk is daar nóg ʼn meestersgraad in die toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Abe ·

Ja man, iets mooi uit Suid Afrika. Baie geluk envoorspoed met die toekenning.

Vlam ·

Weer eens ‘n bewys dat Afrikaans geensins in die pad staan van internasionale uitnemendheid nie. Hier het ons ‘n Afrikaanssprekende wat in Afrikaans aan ‘n Afrikaanstalige instansie klasgee en wat op die wêreldverhoog erkenning ontvang. En so is daar vele ander Afrikaanse akademici wat hul studies in Afrikaans voltooi het en wat internasionaal-gerekende kenners op hul vakgebiede is. Vat so al die Afrikaans-haters!

Vliegende Struisvogel ·

Een ex-skoolmaat , van my is Professor in Linguïstiek aan University of Michigan, en doen ondersoek na Afrikaans. Gisteren is hy bevorder tot departmentshoof.

JC ·

Mooi so Akademia en personeel; hou so aan, julle maak ons trots en hou Afrikaans se naam hoog !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.