Akademia-dosent skryf vir die kassie

Johann Smith, ʼn heeltydse dosent in statistiek en sakeberekeninge by Akademia. (Foto: akademia.ac.za)

Johann Smith, ʼn heeltydse dosent in statistiek en sakeberekeninge by Akademia, se tweede kykNET-storiefilm, Kloon, is pas bekendgestel en hy is ook ʼn medeskrywer van die SABC-sepie 7de Laan.

“Ons leef in ʼn tyd waarin ons maklike antwoorde, gewoonlik deur middel van tegnologie, vir moeilike probleme soek. Dit is die tema wat ek in Kloon ondersoek,” sê Smith.

Die rolprent gaan oor ʼn groep jong, geniale vriende wat, in ʼn sekere sin, die idealistiese samelewing voorstel. Hulle besluit om ʼn mens te kloon en dié mens met hul eie stel waardes “groot te maak”.

Smith het voorheen vir kykNET se hospitaalsepie Binnelanders geskryf en hy het gehelp om ʼn tydskrif in die mynbedryf op die been te bring. Sy werk sluit verder ʼn aantal niefiksieboeke vir maatskappye in, en sy derde KykNET-storiefilm, wat uit een van sy radiodramas omskep is, is ook eersdaags op die kassie te sien.

Hy het al verskeie mediums en genres van skryfwerk beproef, onder meer kabaret, fantasieverhale, wetenskapfiksie en selfs lirieke. Hy hoop om eendag ʼn musiekspel te skryf.

Smith het sy eerste ongepubliseerde boek op ses geskryf met ongeveer 20 woorde en sewe prentjies, en dit was maar net die begin. Hy het op nege jaar al begin liedjies skryf op Carike Keuzenkamp se wysies en hy, sy broer en suster het gereeld konserte gehou.

“Daar is van kleins af ʼn liefde vir skryf en lees by ons as kinders gekweek en die biblioteekbesoeke was ʼn hoogtepunt. Sy ma is ʼn Afrikaans- en drama-onderwyseres, en sy eerste leermeester. Sy pa, aan die ander kant, is ʼn geduldige gehoorlid en sy grootste aanhanger.

“Alles wat ek skryf is ʼn direkte produk van die mense wat in my belê het – my ouers, my taalonderwysers en toneelonderwysers op skool, my mentors ná skool, mense wat moeite gedoen het om my werk te lees en ander skrywers.”

Om te skryf is weliswaar harde werk en dit neem baie tyd in beslag, veral omdat Smith heeltyds as dosent werk.

“Ek moet spesifieke tye allokeer vir skryfwerk, wat saans en oor naweke plaasvind. Soms moet ek 04:00 in die oggend wegspring. Maar, dit is die moeite werd, want om te sien hoe ʼn hele span mense soveel tyd, energie en geld bestee aan iets wat jy in die nag geskep het, is ʼn voorreg.”

Smith meen dit is ʼn voorreg om skryfwerk en doseerwerk te kan kombineer. Hy is tans besig met ʼn projek om woordsomme in kort storievideo’s te omskep. “Dit is werklik opwindend om op hierdie manier uiting aan my kreatiwiteit te gee.”

Die heel eerste studentetoneelstuk uit Smith se pen word binnekort deur Akademia se studentedramagroep opgevoer. Smith en Rika Nieuwoudt, dosent by Akademia en ook ʼn bekende gesig op Binnelanders, is die regisseurs. Smith sê: “Dit beloof om iets te wees waarna die publiek kan uitsien.”

Om deur rolprente en teater stories te vertel wat ʼn verskil maak, is een van Smith se grootste drome as skrywer.

“As iets wat ek skryf iemand ráák, dan het ek my doel bereik. As ek iemand net ʼn bietjie anders kan laat dink, dan was al die vroegoggende en laat nagte die moeite werd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.