Akademia gaan referate by internasionale konferensie lewer

akademia-in-australie

Sunel Combrinck, Mareli van der Merwe, Willem Scholtz, Elzette le Roux en Nicolene Steenkamp sal Akademia by ‘n internasionale konferensie oor universiteitsonderrig verteenwoordig. Foto: Jaco-Louis Kruger.

Vyf akademici van die privaat hoëronderwysinstelling, Akademia, is genooi om voorleggings by ʼn konferensie aan te bied, wat handel oor die verbetering van universiteitsonderrig in Port Macquarie in Australië.

Sunel Combrinck, Mareli van der Merwe, Willem Scholtz, Elzette le Roux en Nicolene Steenkamp, almal dosente by Akademia, sal drie referate by die konferensie lewer wat handel oor verskeie digitale onderrig-relevante temas.

Die dosente sal ook ʼn werklike klaservaring by die konferensie simuleer in die hoop om die suksesse en uitdagings van die instelling se onderrigleermodel met mede-akademici internasionaal te deel.

“Ons is trots op ons akademici wat die instelling by hierdie konferensie gaan verteenwoordig. Akademia se hoëtegnologieonderrigmodelle is oor die afgelope sewe jaar as ʼn wenresep bewys. Dat daar drie onderskeie referate vir lewering by ʼn geagte internasionale konferensie gekeur is, dien weereens as bevestiging dat Akademia op die voorpunt van innovasie in die hoëronderwysomgewing is,” het dr. Saretha Brüssow, dekaan by Akademia, gesê.

Die 43ste Verbetering van Universiteitsonderrig-konferensie word van 27 tot 29 Junie by die Charles Sturt Universiteit in Australië aangebied. Vanjaar se konferensietema is getiteld, Nuwe ruimtes vir leer: Geleenthede en uitdagings vir innoverende onderrig.

“Met inagname van Akademia se unieke hoëtegnologieonderrigleermodelle is dié instelling se deelname aan hierdie konferensie uiters gepas,” het Brüssow bygevoeg.

Tydens die besoek aan Australië gaan Akademia ook by ander universiteite se deure aanklop, onder meer die Universiteit van Adelaide, die Universiteit van Sydney en die Universiteit van Wes-Australië. Die doel van hierdie universiteitsbesoeke is om Akademia se onderrigmodelle verder uit te bou en ʼn selfs meer innoverende onderrigervaring vir Afrikaanssprekende studente te skep het Brüssow gesê.

  • Besoek Akademia se webblad by akademia.ac.za of stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting oor die instelling se onderrigleermodelle en programaanbod.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

1+1 ·

“Skitterend” Ons bou !!! Trots op almal wat by hierdie konsep betrokke is.

piper ·

baie goed gedoen. hulle gaan so gewild raak dat ons ander vriende ook daar wil kom studeer nadat hulle die ander universiteite verwoes het. dan gaan hulle ook nog vra dat die klasse in engels moet wees.

Elred Ferreira ·

Die probleem met Akedemia is dat die regering nie werklik kan toelaat dat uitnemendheid plaasvind in die land nie,want dan word hyself en sy ondersteuners se ondergemiddeldheid te veel aan die kaak gestel.In n sosialistiese bestel moet alle uitnemendheid afgebreek word tot jou eie derderangse vlak,dan voel jy beter oor jouself.So die regering sal eintlik nie Akedemia kan toelaat nie!

Francois ·

Uitstekende nuus, ons is trots op julle Akademia! Hou asseblief so aan totdat my kinders oud genoeg is om universiteit toe te gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.