Akademia ken 225 kwalifikasies toe

akademia-gradeplegtigheid-2017-04-07

(Argieffoto)

Die Afrikaanse privaat hoëronderwysinstelling Akademia het Vrydag 225 welverdiende kwalifikasies in absentia toegeken.

Hierdie kwalifikasietoekennings is die meeste wat Akademia nog toegeken het, en ʼn reusetoename vanaf die instelling se eerste plegtigheid in 2013, waar tien kwalifikasies oorhandig is.

Altesaam 128 grade, 14 gevorderde diplomas en 83 hoër sertifikate word vanjaar oorhandig. ʼn Groot jaarlikse toename in kwalifikasies word verwag namate Akademia se studentegetalle en programaanbod groei.

Volgens Liana Venter, registrateur by Akademia, is die instelling veral trots op hierdie studente wat ondanks die ontwrigting en onsekere tye weens Covid-19 hulle studie suksesvol voltooi het.

“Die studente se toewyding en doelgerigtheid gaan nie ongesiens verby nie en inspireer almal om hulle. By Akademia besef ons dat die jaar – gegewe omstandighede en veral omdat die meeste studente bedags werk – nie altyd maklik vir studente was nie, maar hulle het ons verwagtinge met uitnemende prestasies oortref.”

Toppresteerders in die onderskeie programme is die studente met die hoogste prestasie in die kwalifikasie onder diegene wat ʼn minimum gemiddeld van 75% deur die loop van die program gehandhaaf het.

Die volgende toppresteerders vir 2020 word in die besonder gelukgewens:

  • Janette Alberts: BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • Jacobus Cornelius van der Walt: BCom (Ekonomie en Regte)
  • Ilse Poole: BCom (Ondernemingsbestuur)
  • Ben Reynecke Fouché: Gevorderde Diploma in Projekbestuur
  • Cecilia Johanna Engelbrecht: Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
  • Michelle van Wyk: Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde

Weens die inperkingsmaatreëls wat groot byeenkomste beperk, word Akademia genoodsaak om vanjaar se kwalifikasies in absentia te oorhandig. Daar word beoog om later vanjaar, sodra regulasies dit toelaat, ʼn amptelike erkenningsgeleentheid te hou om die prestasies te vier.

“Studente het onverpoosd gewerk om hierdie kwalifikasies te voltooi, en Akademia-personeel sal graag saam met die afgestudeerde studente wil feesvier. Daarom is die erkenningsgeleentheid bloot uitgestel en nie afgestel nie,” sê Venter.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia, sê as ʼn roepingsgedrewe instelling is dit belangrik dat die afgestudeerde studente ook hulle roepingsbesef binne en ten dienste van hulle eie gemeenskap of gemeenskappe sal uitlewe. Goosen meen dat die instelling dit deur twee oorhoofse oogmerke bevorder, naamlik deur die lewering van hoogstaande opleiding asook diepgaande opvoeding.

“Met ʼn fokus op opleiding stel Akademia ons studente in staat om die bes moontlike skoling in bepaalde dissiplines (onder meer die rekeningkunde, die onderwys, die reg, ondernemingsbestuur, die ekonomie en die politieke wetenskap) te ontvang.”

Goosen glo verder dat studente só toegerus word om hulle plek ten volle in die arbeidswêreld in te neem en ʼn suksesvolle loopbaan te volg.

Hy noem dat opvoeding aan die ander kant studente in staat stel om nie nét gespesialiseerde kennis van spesifieke dissiplines te ontvang nie, maar om noodsaaklike insig te ontwikkel om die samehang tussen die verskillende dissiplines te verstaan.

“Akademia gaan uit van ʼn algemeen aanvaarde standpunt dat studente wat inderdaad die geheel kan raaksien ook in hulle menswees gevorm en verdiep word. Sodanige studente word by uitstek toegerus om ook die volwasse lewe met ʼn oop, kritiese en roepingsbewuste gesindheid te betree.”

Uiteindelik word alumni gekweek wat met internasionaal erkende standaarde vergelyk, maar wat ook gevorm is met die oog op insig in die geheel van dinge. “Hoewel ons talle maatstawwe kan gebruik om ‘sukses’ aan te meet, beklemtoon Akademia met sukses dat ons afgestudeerde studente groot vreugde in die beroepslewe sal ervaar – ʼn vreugde wat spruit uit die wete dat hulle daardie gekose beroep op ʼn voortreflike wyse beoefen.”

Akademia verwelkom graag 2020 se afgestudeerde studente as alumni, en wens hulle alle voorspoed toe met die loopbaanreis. “Ons wens vir hulle is om wesenlike verskille in die werkplek en in die gemeenskappe te maak waar hulle hulself bevind, en aktief betrokke by die alumni-netwerk te wees. Wie weet, dalk verwelkom ons hulle weer in die nabye toekoms vir verdere studie,” vertel Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elsabe ·

Baie geluk aan elkeen wat gedetermineerd vasbyt en dan die vrugte pluk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.