Akademia koop ‘studentelewe’ by WAT

ʼn Gesonde en aktiewe studentelewe lê Akademia na aan die hart. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het ter viering van Afrikaanse Taaldag op 14 Augustus die woord “studentelewe” in die Woordeboek vir die Afrikaanse Taal (WAT) gekoop. Dit is die derde woord wat Akademia ter ondersteuning van WAT se Borg ʼn woord-veldtog aankoop, naas “universiteit” en “dekaan”.

“Die keuse het juis op die woord ‘studentelewe’ geval, aangesien die onlangse ontploffing van die instelling se eie studentelewe die belangrikheid daarvan getoon het,” meen dr. Desiree Muller, bestuurder van studentesake by Akademia. Sy sê dit is sinvol om dié instelling se woordeskat aan so ʼn unieke belewenis te koppel.

Muller beskryf Akademia se studentelewe as uiteenlopend, opwindend en vol potensiaal. “Dit is ʼn groot voorreg om met ʼn skoon bladsy te kan begin en ʼn studentelewe te ontwikkel met die aktiewe insette van ons eie studente,” sê sy.

“Ons wil nie hê ons studente moet verveeld of terneergedruk wees nie, maar eerder die volheid van hul jeug en talente saam met ander medestudente geniet en ontgin.”

Dr. Desiree Muller, bestuurder van studentesake, met die amptelike sertifikaat van eienaarskap van die woord “studentelewe” in die WAT. (Foto: Verskaf)

Volgens Muller skep Akademia se nuutingerigte Centurion-kampus reeds ʼn wonderlike kampuservaring met ʼn bruisende studentelewe.

“Huidige aktiwiteite sluit aksienetbal in en ʼn stapklub wat staptogte oor naweke aanpak. Op kulturele gebied is daar debat, ons koor (met Franco Prinsloo as koordirigent), leierskap- en loopbaanontwikkeling, mentorskapsprogramme, ʼn koffie- en boekklub, drama, sêr en nog vele meer. Ons studente neem ook aan ʼn aktiewe sosiale lewe en koshuiservaring deel.” Sy sê verder dat verskeie sportaktiwiteite soos atletiek en rugby beplan word, sodra die inperkingsmaatreëls dit toelaat.

Muller moedig ander instellings en mense aan om die WAT te ondersteun deur hul eie gunstelingwoord of selfs -woorde te koop. “Om die WAT te onderhou verg kosbare tyd van kundiges. Die minste wat ons as sprekers van dié lieflike taal kan doen, is om dié kosbare bron te onderhou sodat ons taal behoue kan bly,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jasper

Die studente is bevoorreg om te kan studeer in hulle moedertaal sonder vrees vir anargiste wat universiteit reëls verontagsaam en klasse onderbreek,maak gebruik van die geleenthede en kom bo uit.