Akademia kry akkreditasie by professionele rekeningkunde liggaam

akademia-bcom-erkenning-2018-11-29

Akademia vier op 27 November die akkreditasie van die instelling se BCom Bestuursrekeningkunde-program deur CIMA. Heather Bangwayo, CIMA-onderwysbestuurder in Afrika, en Rika Nieuwoudt, programkoördineerder van hierdie kwalifikasie, het die spesiale geleentheid saamgevier. Foto: Verskaf.

Die gemeenskapsuniversiteit Akademia kan nou daarmee spog dat die tersiêre instelling se BCom Bestuursrekeningkunde-kwalifikasie deur CIMA (Chartered Institute of Management Accountants) geakkrediteer is.

Die CIMA is een van die grootste vooraanstaande professionele liggame vir bestuursrekenmeesters in die wêreld.

“Die liggaam se internasionale erkenning beteken dat Akademia se huidige en afgestudeerde BCom Bestuursrekeningkunde-studente sekere vrystellings ontvang om sodoende makliker en vinniger hul professionele lidmaatskap by die CIMA te kry.

“Die voordele van ʼn versnelde roete tot die professionele CIMA-kwalifikasie hou eindelose geleenthede vir graduandi in om hulle relevant in die werksplek te posisioneer,” sê Rika Nieuwoudt, programkoördineerder van hierdie kwalifikasie.

Akademia se BCom Bestuursrekeningkundegraad word sedert Januarie 2015 aangebied en is ontwikkel om belyn te wees met die inhoud van die internasionale CIMA-program.

“Dat hierdie graad deur ʼn internasionale liggaam geakkrediteer is, bevestig weereens dat ons afgestudeerdes goed voorberei word vir ʼn toekoms as professionele bestuursrekenmeesters,” voeg Nieuwoudt by.

Boonop het dié instelling ook die hoogste vrystelling vir die voorgraadse kwalifikasie in die Suid-Afrikaanse hoëronderwysveld behaal.

“Dit is opvallend dat Akademia hom in ʼn relatiewe kort tydperk as uitnemende vakaanbieder onderskei het en reeds internasionaal gereken word. Ons is ongelooflik trots op hierdie prestasie, veral omdat dit nou eers ons sewende bestaansjaar is.

“Dit is ʼn groot voorreg om ʼn voorkeurvennoot van ʼn internasionale professionele liggaam te wees. Ons sien uit daarna om ons aanbod in bestuursrekeningkunde mettertyd saam met ons akademiese en bedryfsvennote verder uit te brei tot selfs nagraadse studies in hierdie veld,” verduidelik Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling

  • BCom Bestuursrekeningkunde word tans by Akademia se dertien studiesentrums, landwyd en in Namibië, aangebied. Aansoeke vir studies in 2019 is nog oop tot 19 Januarie 2019. Vir meer inligting oor hierdie graad en Akademia se onderrigleermodel, besoek akademia.ac.za, stuur ʼn e-pos na [email protected] of kontak 0861 222 888.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Judge Dredd ·

Baie geluk Academia!
Doen so voort en en bied nog meer grade aan.

M ·

Stunning Akademia. Nou vir onderwys, ingeneerswese en medies fakulteite. Kom mense ondersteun hulle

François Joubert ·

Voorwaar ‘n puik prestasie. So kan ons nou studente in hul moedertaal skool om hul volwaardige plek in die Internasionale arbeidsmark in te neem. Hier is onsettend baie Afrikaanse CPA en CMA’s in Kanada.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.