Akademia open studiesentrum in Port Elizabeth

akademia

Argieffoto: Reint Dykema

Akademia brei in 2018 na die Oos-Kaap uit wanneer ʼn studiesentrum in Port Elizabeth sy deure vir voornemende studente oopgooi.

Paul Vogel, Akademia se operasionele bestuurder, verduidelik dat die studiesentrum op die terrein van Akademia se vennoot, die Voortrekkers, geleë is. “Akademia is baie opgewonde om saam met die Voortrekkers vir die gemeenskap van Port Elizabeth die geleentheid te bied om op hul voorstoep in Afrikaans te studeer.”

Die nuwe studiesentrum sal op presies dieselfde wyse as sy 11 landswye eweknieë funksioneer, met studente wat verpligte na-uurse klasse by die interaktiewe studiesentrum bywoon. Die sentrum is met moderne videokonferensie-tegnologie toegerus en gratis internettoegang is beskikbaar om studente toegang tot die Spens, Akademia se unieke aanlyn ondersteuningstelsel en biblioteek, te gee.

Watter kwalifikasies word aangebied?

Akademia fokus op toeganklike en bekostigbare moedertaalonderrig wat plaaslik en internasionaal relevant is. Die geakkrediteerde programaanbod en praktiese, beroepsgerigte kwalifikasies bied aan studente die geleentheid om eersteklas hoër opleiding en opvoeding te ontvang, om daardeur ʼn bydrae in sowel sy en haar gemeenskap as die wêreld te lewer.

Studente kan tans vir BCom-grade in ondernemingsbestuur, bestuursrekeningkunde, ekonomie en regte asook finansiële beplanning inskryf. Hoër sertifikate in rekeningkunde en kantooradministrasie word ook aangebied asook ʼn gevorderde diploma in projekbestuur. Intussen word kwalifikasies op die gebied van regsgeleerdheid, rekeningkunde, verpleegkunde en sosiale wetenskappe ook ontwikkel.

Hoe werk die onderrigmodel?

Akademia se onderrigmodel kombineer ʼn klaservaring met afstandsonderrig. Alle klasse is regstreeks met mekaar, sowel as met een van vier professionele ateljees by Akademia se hoofgebou waar die dosent gesetel is, in verbinding. Studente sien op een groot skerm die klasnotas en op ’n tweede skerm word die dosent lewensgroot vertoon.

Kontaksessies duur ongeveer 50 minute en studente kan aan die klas deelneem deur eenvoudig ’n hand op te steek en ’n vraag te vra. Sagteware bring outomaties so ’n student na die voorgrond van die videovoer in ander klasse, byna asof die vraag in dieselfde lokaal gevra is. Op soortgelyke wyse kan die dosent vrae aan enige student in enige van die klasse rig en word die bespreking regstreeks oor studiesentrums heen gedeel en ervaar.

Die ateljees vanwaar die dosente klasse aanbied is van gevorderde tegnologie voorsien. Voor dosente verskyn al die verskillende klasse op groot televisieskerms, waar dosente studente kan identifiseer vir vrae en opdragte. Digitale penne dra dít wat dosente ook al op die papier voor hulle skryf oor na die skerms in studiesentrums. Terselfdertyd is klank- en videoingenieurs deurentyd in die beheerkamer besig om klank, video en ander tegnologiese aspekte te monitor en optimaliseer.

Ná klasse word die opnames geredigeer en binne enkele dae op Akademia se digitale leerruimte, die Spens, vir studente beskikbaar gemaak. Hier kan studente video-opnames van die klasse aflaai, argiefmateriaal bestudeer, of selfs net die klankbaan op hul selfone laai om later weer as ’n potgooi te luister.

  • Aansoeke vir studies in 2018 by dié sentrum kan nou gedoen word. Besoek akademia.ac.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Albaster ·

Alumniebydraes moet geskuif word na Akademia. My alma mater het Afrikaners nou heeltemal verwerp.

Liamari ·

Trots! Dink dis tyd dat daar soorgelyke tipe opleiding vir skoolgaande kinders ook gebied word. Dit raak al hoe meer die “in ding” dat privaat skole amper heeltemal “on line” funksioneer met onderwysers wat sodoende klasgee en dan net sekere dae fisiese kontaksessies het. Die kostes kan dan net onder privaatskool kostes beloop. Ons moet al hoe meer onafhanklik van staat begin funksioneer.

humor ·

Sien uit dat Akademia ook hier in Windhoek gevestig gaan word.Ook dat ons hier Solidariteit ruim sal ondersteun om dit vir ons jeug moontlik te maak.

Eish ·

So trots op die mensies wat dit moontlik maak! Dankie Solidariteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.