Akademia se studente ploeg terug by Filadelfia Ark

V.l.n.r. is Minette Nel, Yolandi Kruger, Marlette Smit, Nadine Slump en Franco Smith die groepslede van die Speelgrotprojek. Die student het vanjaar ʼn veilige speelruimte, ten volle ingerig met opvoedkundige speelgoed, by die Filadelfia Ark sorgsentrum vir haweloses begin. Foto: Akademia.ac.za

Marlette Smit, Minette Nel, Nadine Slump, Franco Smith en Yolandi Kruger, almal ondernemingsbestuurstudente in hulle finale jaar by Akademia, het in September ʼn opvoedkundige speelruimte vir kinders by Filadelfia Ark in die weste van Pretoria geopen.

Die ruimte, wat die Speelgrot genoem word, bied ʼn veilige speelruimte vir kinders tussen die ouderdomme van vyf en nege jaar wat tans by die sorgsentrum woon. Boonop gee dit hierdie kinders die geleentheid om met opvoedkundige speelgoed te speel wat die kinders se intellektuele en fyn motoriese vaardighede ontwikkel.

Onderwysers by Filadelfia Ark sal ook hierdie speelruimte gedurende skoollesse en pouses kan inspan.

“Na nege maande se harde werk en deursettingsvermoë kon ons die projek ʼn werklikheid maak en ʼn leë kamer in ʼn ingerigte speelkamer omskep. Dit was absoluut die moeite werd gewees toe ons die glimlagte en opgewondenheid op die kinders se gesigte sien toe ons die deur van die Speelgrot vir die eerste keer oopmaak,” het Kruger gesê.

Kruger meen elke kind verdien om te speel en te leer. “Ons wou die kinders graag blootstel aan opvoedkundige speelgoed – nes toe ons jonger was – sodat hulle ook die geleentheid het om te kan eksperimenteer en daardeur hulle vaardighede ontwikkel en verbeter.”

Dirk van Vuuren, die bestuurder van Filadelfia Ark, verduidelik dat dit ʼn geskenk van onskatbare waarde vir die kinders by die sentrum is. “Nou kan ons kinders ook deel aan die aktiwiteite waartoe ʼn gewone ou plaasskooltjie nie noodwendig toegang het nie. Ek glo hierdie Speelgrot sal die kinders se vermoëns uitbrei, veral hulle koördinasie en die koppeling tussen speel en opvoeding.”

Dié groep studente vorm deel van die Elitebeursprogram van Akademia en het sekere uitkomste waaraan hulle moet voldoen om die program te voltooi. Een van hierdie projekte is om ʼn volhoubare projek op die been te bring wat werklik ʼn verskil in die lewens van die gemeenskap maak.

Volgens Elize-Mari Coetzer, koördineerder van hierdie program, het die studente na afloop van ʼn suksesvolle projek gedemonstreer waartoe hulle in staat is deur selfs méér te bereik as wat van hulle verwag is. “Die projek was op die ou einde meer as die bereik van ʼn uitkoms. Die innerlike vervulling, dankbaarheid en liefde wat uit die projek gevloei het, is meer werd as die blote bereik van ʼn uitkoms. Ons is trots op die studente wat die ekstra myl geloop het in elke faset van die projek en dus bo verwagting presteer het.”

Smit, die groepslid wat verantwoordelik was vir die finansiële portefeulje, verduidelik dat hulle verskeie planne moes beraam en alternatiewe opsies moes oorweeg om voldoende geld en speelgoed in te vorder ten einde die Speelgrot ten volle in te rig. “Ons het meer as 700 pannekoeke gebak om te verkoop en die publiek het ook bydraes gelewer deur speelgoed te skenk.”

Finansiële donasies is van Akademia en die publiek ontvang, wat gebruik is om rakke op te sit en die speelkamer uit te verf. “SA Toy Trade was so gaaf om nuwe speelgoed te skenk en om ons te help om speelgoed volgens vaardighede te kategoriseer,” het Smit bygevoeg. ʼn Speelarea is ook buite die Speelgrot ingerig met klimrame wat hulle as donasies van die Akademia-studenteraad ontvang het.

Alhoewel die Speelgrot reeds ingerig is, het die groep studente steeds planne om die volhoubaarheid van die speelruimte te verseker. Die groep beoog om deurlopend donasies in te samel sodat speelgoed ook afgewissel kan word. Daarbenewens bied SA Toy Trade eersdaags ʼn werkswinkel aan vir die onderwysers by die sentrum om aan hulle tegnieke te leer om die speelgoed optimaal te benut sodat dit van opvoedkundige waarde vir die kinders is.

Meer oor Filadelfia Ark

Filadelfia Ark is ʼn sorgsentrum geleë in die weste van Pretoria. Die sentrum is opgerig vir die gemeenskap deur die gemeenskap, om vir hawelose mense te sorg. Ongeveer 500 persone, waarvan 140 kinders is, woon gratis by die sorgsentrum in houtwonings en word voorsien met drie maaltye per dag. Inwoners hou hulleself besig met die instandhouding en ontwikkeling van die sorgsentrum en omliggende areas deur self te boer, hout- en staalwerk te doen, en om tuin te maak en te kook. Ongeveer honderd kinders tussen die ouderdomme van een tot agtien jaar oud woon ook op die perseel. Besoek Filadelfia Ark se webblad vir meer inligting oor die sentrum.

Lede van die publiek wat by die Speelgrotprojek betrokke wil raak, kan ʼn e-pos aan Nadine Slum by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.