Akademia spog met akkreditasie van professionele finansiële liggame

(Argieffoto)

Die Afrikaanse instelling vir hoër onderwys, Akademia, het akkreditasies by verskeie professionele finansiële liggame in Suid-Afrika vir sy grade ontvang.

Akademia geniet tans erkenning by die Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters (CIMA), Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA), Finansiëlebeplanningsinstituut van Suider-Afrika (FPI), Suid-Afrikaanse Instituut vir Sakerekenmeesters (SAIBA) en Suid-Afrikaanse Instituut vir Professionele Rekenmeesters (SAIPA). Hierdie akkreditasies maak Akademia-studente in onderskeie finansiële rigtings se loopbaanpad wawyd oop.

Volgens Rika Niewoudt, departementshoof van Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe, is akkreditasies by professionele liggame uiters belangrik om twee redes. “Eerstens vestig en verseker dit die roete tot die suksesvolle voltooiing van ʼn professionele kwalifikasie, en tweedens bied dit gemoedsrus dat die kwalifikasie wat aangebied word van hoë gehalte is en deur nog ʼn liggaam erken word.”

Wanneer studente vir ʼn professionele kwalifikasie studeer, is dit uiters belangrik om ʼn kwalifikasie te voltooi wat hulle in die werksplek weer verder sal toerus, sê sy.

“Professionele liggame vervul ʼn belangrike taak om goeie standaarde van praktyk daar te stel en te reguleer. Daarom werk Akademia graag saam met onderskeie liggame om te verseker dat ons, die studente en die professie, in ooreenstemming met en selfs beter is as wat in die werksplek verwag word.”

CIMA

Akademia het reeds akkreditasie by CIMA vir drie kwalifikasies ontvang. Studente wat BCom (Bestuursrekeningkunde), BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde) of die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde aan die instelling voltooi, kan registreer om hulle CIMA-kwalifikasies verder te voltooi.

FSCA

Akademia se Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde, asook die BCom (Finansiële Beplanning) geniet akkreditasie by FSCA, voorheen bekend as die Raad op Finansiële Dienste (Financial Services Board – FSB). Die insluiting van die kwalifikasies op die lys van erkende kwalifikasies beteken dat studente wat die kwalifikasie voltooi het, voldoen aan die FAIS-wetlike vereiste (Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste 37 van 2002) van verskeie kategorieë.

FPI

Akademia se kursus vir BCom (Finansiële Beplanning) is deur die FPI goedgekeur as ʼn gemagtigde verskaffer van opleiding vir die titel Finansiëlediensteadviseur (FSA™). Die voordeel van die verkryging van ʼn kwalifikasie met die FSA™-titel by ʼn gemagtigde verskaffer van opleiding, soos Akademia, is dat afgestudeerdes vrygestel word van die professionele vaardigheidseksamen by die FPI. Studente wat BCom (Finansiële Beplanning) by die instelling studeer, kan hul twee jaar lange toepaslike werkservaring opdoen terwyl hulle studeer en versnel dus hul pad na ʼn professionele loopbaan in finansiële beplanning.

SAIBA

Akademia is ʼn geakkrediteerde hoëronderwysinstelling by SAIBA wat beteken dat studente wat in die volgende rigtings by die instelling studeer, asook reeds toepaslike werkservaring opdoen, aansoek kan doen om professionele benamings by SAIBA.

 SAIPA

Akademia se BCom (Bestuursrekeningkunde) en BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde) geniet amptelike akkreditasie by SAIPA. Dit beteken dat die instelling se studente ná suksesvolle voltooiing van die kwalifikasies aan die akademiese vereiste van SAIPA voldoen om verder as professionele rekenmeesters of rekenkundige tegnici te kwalifiseer (met slegs die praktiese werkservaringvereiste wat dan voltooi moet word vir registrasie).

Nieuwoudt noem dat dit ʼn voorreg is dat die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe met talle akkreditasies spog.

“Ons akademici en programontwikkelaars doen alles in hul vermoë om gehaltekwalifikasies aan te bied om die bes moontlike opleiding en opvoeding aan studente te verskaf, en hierdie akkreditasies is weereens ʼn bevestiging hiervan. Ons is werklik dankbaar dat ons studente met geakkrediteerde en erkende kwalifikasies kan toerus en met selfvertroue die werksplek kan instuur.”

  • Besoek die Akademia-webblad by www.akademia.ac.za vir meer inligting oor die instelling se nauurse en voltydse programaanbod.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Harley Davidson ·

Die weskaap moet net afstig van Suid-Afrika dan is opvoeding instansies weer prioriteit no 1 en kan die nageslag uitsien na ‘n beter toekoms.

Andrew ·

ek neem aan dit sluit nou uit die kaap self. Opvoeding blyk nie om prioriteit in Khayelitsha en op die vlaktes te wees nie.

VaalDonkie ·

Jong, Stellenbosch en UCT is al dekades lank linkse instellings. Ek sou nie verwag hulle gaan beter raak nie. Maar ja, bou ‘n groot heining rondom die Kaap en laat ons ons eie ding doen.

Danie ·

Welgedaan Akademia!! Ek wens julle alle sterkte toe en dank julle om ons taal op te bou!

Nici ·

Fantasies vir die nageslag! Is dit nie nou tyd om ‘n mediese skool te bou wat dokters, verpleegsters, fisio’s en tandartse oplei nie?

Vernon ·

Kom ons hoop net die besighede neem hierdie jongmense indiens. Daar is natuurlik n kans dat maatskappye weer gaan diskrimineer en net mense aanstel wat by ander plekke studeer!

Carel ·

Wag maar vir die eerste White Privilege klagtes, sodra gesogte Akademia gegradueerdes die arbeidsmark betree

annie ·

Een van die vernaamste aspekte van akkreditasie is die kwalifikasies van lektore en hul volhoubare verdere opleiding. Ons kan nie afsak na ‘n vierde-vlak-Afrika-akademici-styl waar lektore met eerstejaarsgehalte-werkstukke skielik in doktore en professore ontpop nie. Ons het uiters bekwame mense wat nogal ook Afrikaans praat wat opgekommandeer moet/kan word. Nepotisme is ‘n volhoubare virussiekte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.