Akademia stel Fakulteit Opvoedkunde bekend

Prof. Gawie du Toit, die dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, saam met prof. Irma Eloff, gasspreker by die geleentheid. (Foto: Verskaf)

Die private hoëronderwysinstelling Akademia het op 5 Oktober, wat ook Wêreldonderwysersdag is, amptelik sy Fakulteit Opvoedkunde bekendgestel.

Prof. Irma Eloff, wat gasspreker by die geleentheid opgetree het, beskou dit as ʼn geskiedkundige geleentheid wat ʼn uitstekende grondslag vir onderwys en opleiding in Afrikaans bied.

“Ons gaan oor tien jaar terugkyk na hierdie dag en ons gaan bly wees oor die fondamente wat vandag gelê is. Ons gaan ook fees vier oor die uitstekende onderwysers wat in Afrikaans opleiding geniet het,” sê sy.

Eloff het gaste toegespreek oor Afrikaanse onderwys en die behoefte aan Akademia as hoëronderwysinstelling. Sy noem dat die stigting van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia werklik ʼn geskiedkundige geleentheid is.

Prof. Irma Eloff, wat gasspreker by die geleentheid opgetree het, beskou dit as ʼn geskiedkundige geleentheid wat ʼn uitstekende grondslag vir onderwys en opleiding in Afrikaans bied. (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout)

Die bekendstellingsfunksie is in die AfriForum Teater in Pretoria gehou, en skoolhoofde, onderwysers, akademici, onderwysliggame en Akademia-vriende het die spoggeleentheid bygewoon om saam met die instelling dié groei op ʼn gepaste wyse te vier.

Nie net is die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia verantwoordelik vir die opvoeding en opleiding van onderwysers vir hoër- én laerskole nie, maar geskied dit ook in Afrikaans as medium van onderrig. Sodoende dra hierdie fakulteit daartoe by dat onderwys in Afrikaans by skole kan plaasvind en dat die leerders weer by dié instelling kan inskryf om hulle naskoolse studies in dié taal voort te sit.

“Weens die aard en wese van opvoedkunde sal studente wat aan Akademia studeer, volledig toegerus word om as beginneronderwysers met selfvertroue hulle professionele loopbane in die onderwys te betree,” sê prof. Gawie du Toit, dekaan van dié fakulteit. “Daar is reeds ʼn dinamiese dosentekorps aangestel wat aktief help vorm aan die onderwysstudente se hart en denke.”

Du Toit deel dat die fakulteit as uniek beskou word weens die opvoedingsideaal wat toegepas word. Hy verduidelik dat die idee ʼn samehang van dissiplines en die sterk gemeenskapkarakter in die onderwys met mekaar vervleg word.

“Deur studente bloot te stel aan hierdie wysheidsideaal is ons wens dat hulle uiteindelik ‘dienende leiers’ van die onderwysgemeenskap sal wees wat tot die beswil van hulle gemeenskap en die groter gemeenskap sal optree,” meen Du Toit.

Akademia bied sedert die begin van die jaar ʼn Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys), ook bekend as NGOS, na-uurs aan. Volgens Akademia is hierdie studierigting reeds ʼn gewilde studieopsie en het dit sover alle verwagtinge oortref.

Maroela Media het vroeër berig dat BEd (Intermediêre Fase-onderwys) vanaf 2022 heeltyds op Akademia se Centurion-kampus aangebied gaan word. Inskrywings vir hierdie kwalifikasie stroom reeds in.

Prof. Gawie du Toit (dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde), saam met dr. Annelie Wassenaar (departementshoof en programkoördineerder van NGOS) en dr. Maretha Steyn, (programkoördineerder van BEd) tydens die Akademia-bekendstelling van die Fakulteit Opvoedkunde. (Foto: Verskaf)

Met ʼn reeds suksesvolle NGOS-program, wat die eerste onderwysers aan die einde van die jaar lewer, kan die instelling nie anders as om positief te wees oor die toekoms van die Fakulteit Opvoedkunde nie. “Ons is oortuig en vertrou dat ons NGOS-studente nie net kognitief gestimuleer is nie, maar dat hulle ook in totaliteit as mens gegroei het, wat met vertroue en met hoop die toekoms en die onderwys tegemoet sal gaan. Dit is ons oogmerk vir al die ander onderwysprogramme wat in die toekoms by Akademia die lig gaan sien,” verduidelik Du Toit.

Die nuwe fakulteit spog met vyf heeltydse en agt deeltydse dosente en het ʼn sterk visie om die fakulteit verder uit te brei. Daar word beplan om teen 2026 twee honneursgrade in Opvoedkunde by die instelling aan te bied om in die behoefte van diegene te voorsien wat nagraadse loopbane in die opvoedkunde wil beoefen.

“Nagraadse diplomas in onderwysleierskap en -bestuur; wiskunde-onderwys en taalonderwys asook ʼn meestersgraad in die opvoedkunde gaan deel uitmaak van die nagraadse programaanbod sodat studente hulle studies in dié rigtings kan voortsit,” noem Du Toit.

ʼn Loopbaan in opvoedkunde bied die geleentheid om deel van ʼn span te wees wat jong mense vir hul toekoms help vorm. As jy belangstel om ʼn beroep in die onderwys te volg, doen vandag nog aansoek vir BEd (Intermediêre Fase-onderwys) of NGOS (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys) vir 2022. Studieaansoeke is reeds oop. Besoek Akademia se webwerf vir meer inligting of om aansoek te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

As dit gedoen kan word hoe great sal dit wees as die weskaap ‘n referendum hou soos beplan en onderhandel om ‘n onafhanklike tuisstaat te word met Akademia aan boord sal die afrikaans sprekende burger weer hoop he.

Alida

Veels geluk, Akademia! Dis uitstekende nuus. Nou moet julle nog net ‘n regte kampus bou, verkieslik in die Weskaap of Suidkaap! (Vir wanneer hulle eendag afstig, soos Jasper sê.) Teen die tempo waarteen Afrikaanse Gautengers en Vrystaters Suidkaap toe trek, gaan die meeste Afrikaanse kinders binnekort hier bly.