Akademia vier Internasionale Moedertaaldag

Akademia studente vier Internasionale Moedertaaldag (Foto; verskaf)

Akademia glo daarin om Internasionale Moedertaaldag te vier, want die Afrikaanse private hoër onderwysinstelling glo taal is ʼn simbool van ʼn student se identiteit.

Dr. Rachel Maritz, dekaan van Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het met Maroela Media gesels oor die belangrikheid van Afrikaans as moedertaalonderrig.

“Dit is natuurlik vir Akademia baie belangrik omdat ons Afrikaans binne die hoëronderwys-arena bevorder. Dis vir ons belangrik dat Afrikaans as voertaal vir tersiêre onderrig gebruik word. Daarom is dit vir ons waardevol dat daar iets soos ʼn Internasionale Moedertaaldag is – dit laat weer die kollig op die belangrikheid van Afrikaans val.”

Maritz verduidelik verder dat daar twee pilare is waarop die belangrikheid van voertaal rus. Die een is instrumenteel van aard en die ander simbolies.

“Die instrumentele funksie daarvan het te doen met inligtingsoordrag, wat ons so bevoorreg is om in Afrikaans te kan doen. Die dosente en studente se deelname aan groepsaktiwiteite is instrumenteel van aard en dit geskied ook in ons moedertaal.

“Dis vir ons belangrik dat ons studente met vrymoedigheid kan deelneem. Hulle gebruik hul moedertaal om konsepte te verwerf vir daardie inligtingsoordrag.

“Die simboliese funksie van taal is ook belangrik. Taal is ʼn simbool van jou identiteit. En by Akademia, wat Afrikaans betref, wil ons graag hê ons studente moet veilig voel binne ʼn omgewing waar hulle met die waardes identifiseer. Hulle vereenselwig hulle met die taalgemeenskap se waardes.”

Studente se hoër kognitiewe vaardighede hou verband met die taal waarin hulle onderrig ontvang.

“Navorsing het bewys wanneer jy kennis verwerf in ʼn taal waarin jy vaardig is, bied dit vir jou ʼn beter kans om verwikkelde materiaal onder die knie te kry. “Wisselwerking wat deurlopend in die klas plaasvind, dra daartoe by dat studente ʼn dieper begrip het van die leermateriaal waarmee hulle besig is.”

Afrikaans het ʼn ryk geskiedenis binne die Suid-Afrikaanse universiteitswese.

“Afrikaans is natuurlik ryk aan gevestigde akademiese terme.”

Maritz het Afrikaans as “Euro-Afrikaanse” taal beskryf.

“Dit kom uit Europa en uit Afrika. Ons het daardie verbondenheid met veral Nederlands, en dit maak Afrikaans ʼn taal wat ʼn ryk akademiese tradisie het. Dít gee ʼn sterk grondslag vir tersiêre onderrig.”

Onderrig in hul moedertaal spoor die studente by Akademia aan om deel te neem aan akademiese wisselwerking.

“Ons kom agter dat studente met selfvertroue aan akademiese aktiwiteite kan deelneem. Die konsepte word in Afrikaans verduidelik, maar ons leer ook uit Engelse bronne. Ons het toegang tot Afrikaanse, Engelse en Nederlandse bronne. Die student word nie geïsoleer van ʼn veeltalige wêreld nie.”

Kritiese denke ontwikkel makliker wanneer studente in hul moedertaal onderrig ontvang.

“Ons sit in ʼn land waar die grootste amptelike taal Engels is. Een van die belangrike goed wat jy onder ons studente kan sien, is kritiese denke en probleemoplossing. Navorsers het bewys studente wat nie in hul moedertaal studeer nie, sukkel met kritiese denke en probleemoplossing.

“Kritiese denke is die intellektuele proses waar jy inligting konseptualiseer, toepas, ontleed en evalueer. Daardie kritiese denke is verskriklik belangrik in tersiêre opleiding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.