Akademia vier tien jaar met grootste groep graduandi

Akademia ken vanjaar byna 350 kwalifikasies toe tydens die kwalifikasieplegtigheid wat op 21 en 22 April by die Atterbury Teater in Pretoria gehou is. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse private hoëronderwysinstelling Akademia vier vanjaar nie net sy tiende bestaansjaar nie, maar óók sy grootste groep graduandi.

ʼn Totaal van 339 kwalifikasies is gister en vandag by hul jaarlikse kwalifikasieplegtigheid by die Atterbury Teater in Pretoria toegeken.

Volgens Liana van Rooy, registrateur by Akademia, is dit vir die instelling ʼn groot voorreg om vanjaar se kwalifikasies in persoon te kan toeken nadat dit weens Covid-19 die afgelope twee jaar in absentia toegeken is. “Die nuwe afgestudeerde studente het vir die grootste gedeelte van hul studietydperk onder die Covid-19-pandemie se juk gebuk gegaan. Dit is daarom ʼn baie spesiale oomblik om hul sukses, deursettingsvermoë en harde werk in persoon saam met hul geliefdes en dosente te kan vier.”

By Akademia word daar klem daarop gelê om volronde alumni te lewer wat hoogstaande opleiding ontvang het en gereed is om ʼn verskil in hul gemeenskap te maak. (Foto: Verskaf)

In totaal word 146 grade, 16 gevorderde diplomas, 14 nagraadse diplomas, 42 nagraadse onderwyssertifikate en 121 hoër sertifikate toegeken.

“Dit is vanjaar ons tiende jaar van pionierswerk en is dit met dankbaarheid dat ons die groei van die afgelope dekade kan ervaar. Tydens die eerste plegtigheid in 2013 het ons tien kwalifikasies toegeken, en kyk net waar is ons vandag. Jaar ná jaar groei ons teen ʼn snelle pas,” vertel Marthinus Visser, besturende direkteur by Akademia.

“Hierdie studente is goed toegerus om hul plek vol te staan in die arbeidswêreld en om hul gemeenskap te kan dien,” sê Visser verder.

Daar word verwag dat die toename in kwalifikasies by Akademia stewig sal groei aangesien daar jaarliks nuwe programme uitgerol word en die studentegetalle sterk toeneem. Twee van vanjaar se nuwe kwalifikasies sluit BEd (Grondslagfase-onderwys) en BEd (Intermediêre Fase-onderwys) in.

Dit is ook die eerste jaar dat die instelling alumni in die volgende programme het:

  • BSocSci (Politiek, Ekonomie en Regte)
  • Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)
  • Nagraadse Diploma in Belasting
  • Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde

Toppresteerders is ook in die onderskeie programme uitgewys. Die volgende slimkoppe het die beste presteer onder diegene wat ʼn minimum gemiddeld van 75% deur die loop van die program gehandhaaf het:

  • August John Fred de Koker – BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • Gerhardus Hermanus Stephanus Pretorius – BCom (Ekonomie en Regte)
  • Bradley Christopher Smith – BCom (Finansiële Beplanning)
  • Amanda-Lee Jordaan – BCom (Ondernemingsbestuur)
  • Robert Moore – BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
  • Maria Elizabeth le Roux – Gevorderde Diploma in Projekbestuur
  • Tania de Bruyn – Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
  • Chanelle Booyens – Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde
  • Amëlia Marais – Nagraadse Diploma in Belasting
  • Charné Faure – Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde
  • Jaco Conradie – Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, prof. Danie Goosen, akademiese hoof, Marthinus Visser, besturende direkteur, en prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde. (Foto: Verskaf)

Van Rooy noem ook dat die instelling trots is op elke afgestudeerde student wat Akademia se naam hoog hou en help bou aan ʼn universiteit van wêreldgehalte. “Van die nuwe alumni is reeds weer aan die studeer aan verdere kwalifikasies by Akademia, terwyl ander gereed is om ʼn bydrae in hul gemeenskap te maak. Mag sukses en goedheid elkeen vergesel op hul loopbaanpad, mag hulle ʼn reusebydrae lewer tot die gemeenskap waar hulle hulself sal bevind, en mag hulle altyd ʼn Akademia-ambassadeur wees.”

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Groen Ghoen ·

Wonderlik! Veels geluk aan almal wat dit moontlik gemaak het. Wys die spul afbrekers en brandstigters wat gedoen kan word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.