Die Afrikaanse private hoëronderwysinstelling Akademia vier vanjaar nie net sy tiende bestaansjaar nie, maar óók sy grootste groep graduandi.
ʼn Totaal van 339 kwalifikasies is gister en vandag by hul jaarlikse kwalifikasieplegtigheid by die Atterbury Teater in Pretoria toegeken.
Volgens Liana van Rooy, registrateur by Akademia, is dit vir die instelling ʼn groot voorreg om vanjaar se kwalifikasies in persoon te kan toeken nadat dit weens Covid-19 die afgelope twee jaar in absentia toegeken is. “Die nuwe afgestudeerde studente het vir die grootste gedeelte van hul studietydperk onder die Covid-19-pandemie se juk gebuk gegaan. Dit is daarom ʼn baie spesiale oomblik om hul sukses, deursettingsvermoë en harde werk in persoon saam met hul geliefdes en dosente te kan vier.”
In totaal word 146 grade, 16 gevorderde diplomas, 14 nagraadse diplomas, 42 nagraadse onderwyssertifikate en 121 hoër sertifikate toegeken.
“Dit is vanjaar ons tiende jaar van pionierswerk en is dit met dankbaarheid dat ons die groei van die afgelope dekade kan ervaar. Tydens die eerste plegtigheid in 2013 het ons tien kwalifikasies toegeken, en kyk net waar is ons vandag. Jaar ná jaar groei ons teen ʼn snelle pas,” vertel Marthinus Visser, besturende direkteur by Akademia.
“Hierdie studente is goed toegerus om hul plek vol te staan in die arbeidswêreld en om hul gemeenskap te kan dien,” sê Visser verder.
Daar word verwag dat die toename in kwalifikasies by Akademia stewig sal groei aangesien daar jaarliks nuwe programme uitgerol word en die studentegetalle sterk toeneem. Twee van vanjaar se nuwe kwalifikasies sluit BEd (Grondslagfase-onderwys) en BEd (Intermediêre Fase-onderwys) in.
Dit is ook die eerste jaar dat die instelling alumni in die volgende programme het:
- BSocSci (Politiek, Ekonomie en Regte)
- Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)
- Nagraadse Diploma in Belasting
- Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde
Toppresteerders is ook in die onderskeie programme uitgewys. Die volgende slimkoppe het die beste presteer onder diegene wat ʼn minimum gemiddeld van 75% deur die loop van die program gehandhaaf het:
- August John Fred de Koker – BCom (Bestuursrekeningkunde)
- Gerhardus Hermanus Stephanus Pretorius – BCom (Ekonomie en Regte)
- Bradley Christopher Smith – BCom (Finansiële Beplanning)
- Amanda-Lee Jordaan – BCom (Ondernemingsbestuur)
- Robert Moore – BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
- Maria Elizabeth le Roux – Gevorderde Diploma in Projekbestuur
- Tania de Bruyn – Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
- Chanelle Booyens – Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde
- Amëlia Marais – Nagraadse Diploma in Belasting
- Charné Faure – Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde
- Jaco Conradie – Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)
Van Rooy noem ook dat die instelling trots is op elke afgestudeerde student wat Akademia se naam hoog hou en help bou aan ʼn universiteit van wêreldgehalte. “Van die nuwe alumni is reeds weer aan die studeer aan verdere kwalifikasies by Akademia, terwyl ander gereed is om ʼn bydrae in hul gemeenskap te maak. Mag sukses en goedheid elkeen vergesel op hul loopbaanpad, mag hulle ʼn reusebydrae lewer tot die gemeenskap waar hulle hulself sal bevind, en mag hulle altyd ʼn Akademia-ambassadeur wees.”
Wonderlik . Hou koers !
Trots op jou Tania de Bruyn.
Wonderlik! Veels geluk aan almal wat dit moontlik gemaak het. Wys die spul afbrekers en brandstigters wat gedoen kan word!
Mooi, baie trots op julle almal!