Akademia vier vyf jaar met nuwe kampus

Die Akademia-kampus. Foto: Verskaf

Die Akademia-kampus. Foto: Verskaf

Akademia, die gemeenskapsuniversiteit in Centurion, vier vanjaar sy vyfde bestaansjaar met ʼn splinternuwe kampus, dosente en akademiese hoof.

Piet le Roux, voorheen hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, neem vanjaar die leisels as hoof van akademie oor. Le Roux sal onder meer verantwoordelik wees vir die strategiese posisionering van Akademia as ’n gemeenskapsuniversiteit, die vestiging van vennootskappe en akademiese uitbreidings.

Marthinus Visser, bestuurshoof van Akademia, sê hy is opgewonde oor Le Roux se aanstelling by Akademia. “Akademia gaan 2016 met nagenoeg 400 studente in verskeie graad- en hoër sertifikaatprogramme tegemoet. Ons het ons oprigtingsfase suksesvol voltooi en Piet le Roux sluit vir fase twee by ons aan, naamlik die uitbou van Akademia as gemeenskapsuniversiteit.”

Le Roux sê hy is opgewonde oor die rol wat hy by dié instansie gaan speel. “Akademia het ʼn blink toekoms om ʼn gerekende universiteit te word. Terwyl universiteite in Suid-Afrika, deels in navolging van wêreldwye neigings en deels weens politieke druk, vandag geneig is om bande met hul gemeenskappe los te maak, sal Akademia opnuut vanuit die gemeenskap ʼn brug na die internasionale kenniswêreld slaan.”

Benewens die gebruik van Afrikaans en sy aard as gemeenskapsinstelling is Akademia ook nog aan die voorpunt van moderne onderwystegnologie, sê Le Roux. “Akademia dink nuut en vars oor onderrig en leer. Terwyl die inligtingstegnologie-revolusie vandag ou universiteitsmodelle grondig uitdaag, is ons model juis op sulke tegnologie gebou.”

Akademia betrek ook vandeesweek sy nuwe gebou in Centurion, verlede jaar aangeskaf deur die KampusTrust van die Solidariteit Beweging. Die perseel, slegs 2 km van die Gautrein-stasie en Supersport Park, beslaan 1,1 ha met vloerruimte van 2600 m².

Die gebou is einde verlede jaar heringerig met die jongste tegnologie in vier professionele video-ateljees, vanwaar dosente met interaktiewe videotegnologie lesings in sewe studiesentrums landwyd tegelyk kan aanbied.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het sy gelukwensing uitgespreek. “Op die nuwe kampus wink die toekoms vir Akademia as volwaardige Afrikaanse universiteit. Met die aankoop van die geboue doen die Solidariteit Beweging se Kampustrust ʼn belegging van etlike miljoene rande in Akademia – ʼn belegging waarin ons baie vertroue plaas.”

Akademia bied tans BCom-grade in Bestuursrekeningkunde en Ondernemingsbestuur, sowel as hoër sertifikate in Rekeningkunde en Kantooradministrasie aan. Nόg grade en kwalifikasies is in ʼn gevorderde stadium van akkreditasie en aankondigings kan eersdaags verwag word. Vir verdere inligting besoek www.akademia.ac.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Frederik ·

Sterkte op die pad vorentoe. Hoop ander grade word gou aangebied, want by die bestaande universiteite raak nou te gevaarlik om jou kind in te skryf.

Johann Marx ·

Sodra die Ingenieursgrade aangebied word, so gou skuif ek my Ingenieurs-studente…

Izzy ·

Baie geluk

Asseblief, oorweeg dit om ‘n kampus te bou in die platteland ook. Daar’s duisende van ons Afrikaanse kinders wat alreeds 3 -4 ure gemiddeld ry na Potch (naaste Afr kampus).

rudi ·

Ek het op potch geswat en ek moet se klasgaan was meeste van die tyd nie vir my. Ek het gehou van selfstudeer. Ek sien hul het baie geld spandeer aan internet onderig waar jy nie hoof klas toe te gaan nie. Ek dink dit is ‘n goeie idee. Ek wet net nie of mens gereed is daarvoor nie.

Maddox ·

Wel gedaan julle!. Net so klein versoek indien moontlik. Wat van so video-toer van die perseel en fasaliteite wat julle miskien kan oplaai youtube toe. Sal nogal lekker wees as mens kan sien hoe dit daar lyk.

Chris du Plessis ·

Goeiemiddag Maddox

Baie dankie vir die voorstel! Ons is tans besig met die intrekproses, maar behoort hier binnekort meer foto’s beskikbaar te stel! Ons sal so gou doenlik moontlik kyk hoe ons aan jou versoek kan gehoor gee!!

Francois ·

Hartlik geluk! Dit is uiters noodsaaklik dat Akademia se aanbieding van graad- en diplomakursusse so spoedig moontlik uitgebrei word ten einde soveel moontlik studente wat kwaliteit-onderrig in Afrikaans wil ontvang, te akkomodeer.

koos ·

Geluk. Bou ‘n kwaliteit instelling van die hoogste standaarde.Moenie slegs op die rug van Afrikaans die instelling bou nie, maar fokus op kwaliteit.

Michael ·

Dit is die weg vorentoe gedissiplineerde doelgerigte hoër onderwys,ek dra reeds finansieel by en as elke ware burger dieselfde doen is daar ‘n toekoms vir ons jeug.Ek daag almal uit wat nog nie finansieel bydra om so spoedig moontlik te registreer by Afriforum.

Charlotte ·

Wonderlik. Als Afrikaans,as ek jonger was kon ek ook deur julle studeer. Mooi hou so aan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.