Akademia vier Wêreldomgewingsmaand met herwinningsprojek

ʼn Kraakvars herwinningsprojek deur Akademia – in samewerking met AfriForum – is van stapel gestuur. Hierdie projek sal op Akademia se Centurion-kampus plaasvind waar herwinningsdromme vir die gebruik van Akademia-studente sowel as personeel gehuisves sal word. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse private hoëronderwysinstelling Akademia het vroeër die maand saam met die burgerregteorganisasie AfriForum ʼn herwinningsprojek op sy Centurion-kampus van stapel gestuur.

Suid-Afrika vier jaarliks gedurende Junie ʼn omgewingsmaand om omgewingsbewustheid te skep en bondgenote vir ʼn volhoubare, skoner omgewing bymekaar te bring.

Akademia wil ʼn sigbare rol in die herwinning van afvalstowwe speel en studente, sowel as personeel, kan die herwinningsdromme op die Centurion-kampus gebruik om ʼn verskil in die omgewing te maak.

Die doel van die projek is om bewustheid onder studente, personeel en die gemeenskap te skep, sowel as om volhoubare herwinningsgewoontes te kweek.

Volgens prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, wil dié instelling met navorsing en vennootskappe tot die ontwikkeling van verbeterde metodes van afvalbeheer en herwinning bydra. In die toekoms sal dit ʼn groterwordende rol in die ontwikkeling van vakdissiplines by Akademia speel, veral in die natuurwetenskappe.

Daar word jaarliks meer as 2,12 miljard ton afval wêreldwyd gestort.

“Hierdie afval, wat op verskeie plekke gestort word, is nie net besig om ekostelsels noemenswaardig te besoedel nie, maar is selfs besig om die skoonheid van die skepping op baie plekke om ons tot ʼn onplesierige ashoop te reduseer.

“Ons omgewing is saam met die natuurlike hulpbronne wat daarin voorkom geskep, en dit is dus ons verantwoordelikheid om hierdie hulpbronne volhoubaar te benut, en nie net eenvoudig weg te gooi nie. Dit is vanuit hierdie oogpunt dat die Fakulteit Natuurwetenskappe afvalherwinning as belangrik ag,” het Rautenbach gesê.

Vyf herwinningsdromme is deur AfriForum aan Akademia geskenk. Hierdie dromme vorm deel van ʼn groter herwinningsprojek op die Centurion-kampus. (Foto: Verskaf)

Dr. Desiree Muller, bestuurder van studentesake by Akademia, vertel dat die herwinningsprojek reeds groot opgewondenheid onder die studente skep.

“Die studente sien uit om ook hul bydrae te kan maak om die omgewing te bewaar. Die private studenteverblyf is ook reeds besig om hul rommel te verdeel om die herwinningsprojek te ondersteun.”

Die befondsing wat deur die herwinde materiaal ingewin word, sal ook gebruik word om van die studenteraad se projekte te finansier.

“AfriForum sal ook aanhou om ʼn verskil in gemeenskappe te maak. Hierdie is AfriForum Centurion-tak se derde herwinningsprojek, en die tak beoog om dit nog verder uit te brei. Ons wil graag elke rolspeler bedank vir hul rol in hierdie projek,” het JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid, gesê.

“Deur sigbare afvalherwinningsfasiliteite op die kampus beskikbaar te stel, voed ons nie net ons eie studente oor die belangrikheid hiervan op nie, ons hoop dat dit ook later na omliggende gemeenskappe kan deursypel. Dankie aan AfriForum vir die waardevolle skenking van herwinningsdromme om hierdie noodsaaklike taak te verwesenlik,” het Rautenbach bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.