Akademie bied hoop te midde van bendegeweld

Studente aan die Chrysalis-akademie. (Foto: Facebook/Chrysalis Academy Tokai)

“Ek het gevoel dat my lewe geen rigting gehad het nie, maar van die oomblik wat ek hier aangekom het en alles kon ervaar wat hulle bied, het baie dinge verander.”

Só sê Siphokuhle Kapa (23), ʼn student aan die Chrysalis-akademie in Kaapstad, wat in 2000 deur die plaaslike regering naby die Pollsmoor-gevangenis op die been gebring is.

Dié akademie spits hom daarop toe om jong mense te bemagtig om die arbeidsveld te betree deur intensiewe oefenkampe en kursusse wat beroepsgerigte vaardighede soos kook, polisieopleiding en brandbestryding ontwikkel.

Die hooffokus van die oefenkampe, wat oor drie maande strek, is op fiksheid en dissipline asook gesonde geesteswelstand, leierskap, selfdissipline en emosionele intelligensie.

Die kursusse is gerig op mense tussen 18 en 25 jaar oud, met twee kursusse vir mans en een vir vroue. Enigeen wat aan die kriteria voldoen kan aanlyn aansoek doen om by die akademie aan te sluit.

Die kriteria sluit onder meer in dat die persoon gr. 9 in ‘n hoofstroomskool geslaag het, nie tans in diens geneem is of opleiding elders ontvang nie, geen kriminele rekord het nie en ‘n inwoner van die Wes-Kaap is.

Daar is tans 162 vroue wat deel is van die program wat oefenkamp-styl kursusse behels wat elke dag om 04:30 afskop. Om 21:30 is dit ligte uit.

Selfone, dwelms en sigarette is verbode. Weens Covid-19-regulasies word besoeke nie toegelaat nie, maar studente kry die geleentheid om af en toe hul familielede te bel en om aan hulle te skryf.

Studente bring twee weke van die kampus af deur waar hulle in Tokai en by die nabygeleë Tafelberg kampeer, stap en swem. Hulle moet ook by geleentheid vir 24 uur vas in afsondering op die akademie se terrein.

Chrysalis werk saam met die Kaapse provinsiale regering, wat grootliks die program finansier. Ten spyte daarvan dat Kaapstad ʼn reputasie as ʼn vakansieparadys het, is dié provinsie se strate ook van die gevaarlikste ter wêreld.

Studente aan die Chrysalis-akademie. (Foto: Facebook/Chrysalis Academy Tokai)

Kaapstad se moordkoers is verreweg die hoogste in Suid-Afrika, met 64 moorde per 100 000 mense. Daarteenoor is Johannesburg se moordkoers 37 per 100 000 mense en New York in die VSA s’n is 5,5.

Kaapse misdaad word gedryf deur bendes en hoë werkloosheidsyfers – dinge waarvan Gibson Jannecke wou wegkom.

“Ek het nie ʼn geskiedenis van dwelmmisbruik nie en was ook nie deel van ʼn bende nie, maar dit het steeds ʼn groot invloed op my lewe gehad,” sê Jannecke, wat in Macassar grootgeword het.

“Ek kon nie skool toe stap sonder om beroof te word nie. Ek kon nie op straat wees sonder dat my ouers bekommerd was oor geweerskote nie.”

Hy het in 2011 by Chrysalis aangesluit om jeugontwikkeling te studeer. Nou, ʼn dekade later, bied hy klasse daar aan.

“Wanneer jong mense hierheen kom, kyk ons nie na hulle as dwelmverslaafdes of arm mense nie,” sê Lucille Meyer, uitvoerende hoof van Chrysalis.

“Ons kyk bloot na hulle as mense wat moeilike lewens gelei het. Ons is hier as ʼn platform om hulle te help om hulle veerkragtigheid te verdiep en hulle potensiaal te ontgin.”

Zenande Hambiso (24) van Kraaifontein, een van Kaapstad se gesinsgeweld- en moordbrandpunte, wil graag ʼn wetstoepasser word.

Sy het gesukkel om haar familie te ondersteun ten spyte van die lang ure wat sy in ʼn plaaslike supermark gewerk het. Aanvanklik was die Chrysalis-akademie vir haar ʼn reuse-uitdaging, sê sy.

“Dit was moeilik om 04:00 wakker te word. Ek hou nie daarvan om vroeg op te staan nie, maar soos wat tyd verloop het, het ek daaraan gewoond geraak. Dit was ook moeilik om ʼn kamer te deel met mense wat verskillende gedrag toon, maar nou kom ons oor die weg.”

Hambiso wou nie verder uitbrei oor haar agtergrond nie, maar het gesê sy wil graag help om ʼn verskil in haar gemeenskap te maak deur die vaardighede wat sy by Chrysalis aanleer toe te pas.

“Ek sal graag eendag my eie ondersoekende maatskappy wil begin om vroue te help wat seksueel geteister, verkrag en mishandel word. Dit is skrikwekkend waardeur vroue elke dag moet gaan en ek wil verandering te weeg bring in die plek waar ek vandaan kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ruby ·

Dit is ‘n fantastiese program vir ons sukkelende en stukkende jongmense.

Wens hulle maak dit verpligtend voor ‘n werk gegee word, baie van ons jeug sukkel met erge verslawing, swak of GEEN dissipline en geen mentorskap en so word dit met elke generasie al erger.

Ek sien hierdie program as ‘n stok in die vernietigende wiel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.