Aksie om Afrikaans in Danville-laerskole te red

Die Afrikaanse Toekomstrust het Lig Kinderbediening se hand gevat om minderbevoorregte ouers van Danville by te staan met die registrasie van hul kinders vir die 2022-skooljaar. (Foto: Verskaf)

In ʼn poging om Afrikaans as onderrigtaal in die weste van Pretoria te beskerm, het die Afrikaanse Toekomstrust en Lig Kinderbediening hande gevat deur ʼn registrasiedag, ten opsigte van die 2022-skooljaar, by die Lig Kinderbedieningsentrum in Danville te hou.

Ingeligte vrywilligers het tientalle ouers vroeër in September bygestaan en die nodige dokumente beëdig in ʼn poging om te verseker dat hierdie kinders se toegang tot geletterdheid – en meer spesifiek onderrig in hul moedertaal – nie verder in die wiele gery word nie.

Volgens Dinah Bronkhorst, die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Toekomstrust, gaan dié omgewing reeds onder sy eie ekonomies maatskaplike uitdagings gebuk en kan hulle nie verder toesien dat kinders weens hul ouers se tekortkominge ʼn kans op onderrig misloop en in die siklus van armoede verval nie.

“Nuwe intrekkers het die demografie van Danville drasties verander. Die gebied het so verengels dat die dubbelmedium-skool, Laerskool Westerlig, byvoorbeeld nou slegs een Afrikaanse klas per graad het en nie meer die arm Afrikaanse gemeenskap in ag kan neem nie.

“Hierdie gesinne, wat gewoonlik in houthuisies agter in iemand se erf woon, het nie geld vir vervoer nie en is uitgelewer aan beperkte ruimte in skole wat hulle te voet kan bereik,” verduidelik sy.

Elvira Burger van die Lig Kinderbediening. (Foto: Verskaf)

Volgens Elvira Burger, die uitvoerende hoof van Lig Kinderbediening se terapiesentrum, is die registrasieprojek van stapel gestuur om ouers by te staan en probleme met die onderwysdepartement se aanlyn registrasiestelsel te oorbrug.

Die vrywilligers het byvoorbeeld ʼn jong meisie wat reeds in 2020 in gr. 1 moes gewees het, se ouers gehelp om haar te registreer. Sy het verlede jaar haar plek by die skool verbeur omdat haar ouers haar nie kon inskryf nie.

“Dié stelsel, wat veronderstel is om almal ʼn gelyke onderrigkans te gee, faal hierdie minderbevoorregte kinders. In baie gevalle is kinders sonder enige ouerbetrokkenheid heeltemal op hulself aangewese.

“Afgesien van die feit dat ʼn ouer data en internettoegang benodig om sy of haar kind in te skryf – wat hulle nie het nie – het ons weer beleef dat dit tot twee uur kan neem om een enkele aansoek te voltooi omdat die departement se stelsel maklik ‘hang’,” verduidelik Burger.

Volgens haar is ouers ook geneig om gr. R oor te slaan omdat daar geen kwytskelding vir skoolgeld luidens die staat is nie. Leerders wat hierdie belangrike graad, wat kinders voorberei en basiese vaardighede vir gr. 1 aanleer, misloop se skoolloopbaan skop met ʼn geweldige agterstand af, wat tot die skamele slaagsyfer van 50% vir die gebied bydra.

“Ouers weet eenvoudig nie van die belangrikheid van stimulasie of hoe die hedendaagse skoolstelsel werk nie. Hulle kan dalk R100 per maand tot hul kinders se skoolgeld bydra en besef nie die uitwerking van een jaar uitstel op hul kinders se toekoms nie. Sonder die nodige ondersteuning het die kinders van Danville geen kans om ooit hul potensiaal te bereik nie,” sê Bronkhorst.

Die Cordiers is gehelp om hulle dogter vir gr. 1 in 2022 te registreer. (Foto: Verskaf)

Uit die aard van die finansiële krisis waarin die mense hulle bevind, spruit daar uiteraard ook ʼn sekondêre behoefte aan skoolkosblikke, -klere en basiese skryfbehoeftes. Die niewinsgewende organisasies beoog ook om ʼn huiswerksentrum, wat spesifiek op gr. 1- tot gr. 3-leerders sal fokus, op die been te bring.

“Die eerste kinders met wie ons ʼn pad begin stap het, matrikuleer nou. Jy kan duidelik sien dat hulle ʼn ander koers as hul ouers kies en ambisie het om hul omstandighede te verbeter. Hierdie projek is ʼn getuienis van hoop,” sê Burger.

Indien lede van die publiek of instansies by die projek betrokke wil raak, kan hulle ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

N kind moet in sy eie taal vlot kan lees voor die ouderdom van tien jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.