Alba Bouwer se graf weer heel

v.l.n.r. Almo Zietsman (skoonseun van Bouwer), Marlene Zietsman, Leon Coetzee (stiefseun by Bouwer se eerste man), Lettie Coetzee, Monique Hofmeyr, Francois Hofmeyr (stiefseun by Bouwer se tweede man), Elizma Smith, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Kaap, Juanine Kok, FAK-kultuurorganiseerder, Ciska Strauss (kleindogter van Bouwer), Wilna en Jan Hofmeyr (stiefseun by Bouwer tweede man). (Foto: verskaf)

Nadat haar graf in Januarie vanjaar geskend is, is die bekroonde skrywer Alba Bouwer se grafsteen in die Riversdal-begraafplaas ter herdenking van haar verjaardag weer heel gemaak.

Bouwer is op 5 Oktober 2010 in die ouderdom van 90 in Somerset-Wes oorlede.

Haar familie, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die grafsteenonderneming Wessels & Kie op Oudtshoorn het kragte saamgesnoer om haar grafsteen te herstel.

Wessels & Kie, wat Bouwer se oorspronklike grafsteen gemaak het, het die nuwe grafsteen geskenk, vervoer en gemonteer.

Lede van die FAK-Kultuurnetwerk op Riversdal en familielede van Bouwer het die herdenking van haar geboortedag op 16 Maart vanjaar met ’n huldigingsgeleentheid in die biblioteek in die dorp gevier.

Karien Coetzee, lid van die FAK-Kultuurnetwerk op Riversdal, het voorlesings gedoen uit drie van Bouwer se boeke. Coetzee het genoem dat sy dadelik verlief geraak het op Bouwer se skryfstyl.

“Dit lees baie maklik, dit bind ’n mens.”

Drie van Bouwer se stiefseuns het tydens die geleentheid hul kosbare herinneringe van hul ma gedeel.

“Alba was baie lief vir boeke. Sy het nie rakke vol boeke gehad nie, sy het mure vol boeke gehad,” vertel Leon Coetzee, een van die seuns.

Bouwer was getroud met die wewenaar, Hubert Coetzee, wat ’n jong seun en dogter gehad het. Sy is ’n paar jaar ná Coetzee se afsterwe met Jan Hofmeyr, wewenaar en pa van vyf seuns, getroud.

Bouwer is gebore en getoë op ’n plaas in die Vrystaat. Nadat sy as onderwyseres gekwalifiseer het, het sy die platteland vir Burgersdorp in die Oos-Kaap en later Kaapstad verruil.

Haar skrywersloopbaan het sy oorsprong gehad toe die stories wat sy oor haar kinderdae neergepen het, destyds op die tafel van die redakteur van die tydskrif Sarie beland het.

Talle publikasies, waaronder kinderboeke, romans vir volwassenes, geestelike boeke en gebedeboeke, het uit haar pen verskyn. Sy was in 1955 die eerste vroueontvanger van die Scheepersprys vir jeugliteratuur vir Stories van Rivierplaas. Sy het ook die CP Hoogenhout-toekenning en M.E.R.-prys vir van haar werke ontvang.

“Met woorde het sy vir die kinders van Suid-Afrika in eenvoud karakters en beelde geskep om lank en ver en tot oudag te koester.” Dít som die kern op van die groot literêre nalatenskap van Albertha Magdalena (Alba) Bouwer. Sy was lief vir kinders en dis veral vir kinderboeke, soos die immer gewilde Stories van Rivierplaas, waarvoor sy as skrywer onthou word,” is die woorde wat op haar grafsteen verewig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Christine

Sy was my oupa se niggie en ‘n baie spesiale vrou.