Allemintige 2 900 km-fietsrit voltooi teen geslagsgeweld

Deon Viljoen en Gerhard Botes by Hakskeenpan. (Foto: Verskaf)

Gerhard Botes en Deon Viljoen het besluit tot hier toe met geslagsgebaseerde geweld en nie verder nie.

Die twee manne, albei 67 en afgetree, het Dinsdag ʼn allemintige 2 900 km-fietsrit deur die Karoo en die Noord-Kaap voltooi om die kollig te laat val op die vlaag van geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika.

Viljoen het aan Maroela Media gesê dit is Leilani Kuter se verhaal wat die manne aangespoor het om hulle eie rit vir bewusmaking oor die kwessie aan te pak.

“Dit is vanjaar 29 jaar na Leilani verkrag en vir die dood gelos is. Ons het besluit om in haar voetspore met ons fietse te volg en ʼn 100 km af te lê vir elke jaar na die voorval,” sê Viljoen.

Die manne het op Vrydag 9 April uit Noupoort in die Karoo weggespring en ’n uitdagende tog onderneem. Met die 59 dae lange rit het hulle verskeie dorpe, waaronder Springbok, Colesberg, Philipstown, Hopetown, Kimberley, Griekwastad en Upington, besoek. Op hulle terugtog het hulle by Calvinia, Williston en De Aar aangedoen en het dit op Hanover afgesluit.

Botes en Viljoen by die 2 000 km-kerf van hulle rit. (Foto: Verskaf)

Hierdie opwindende inisiatief is in vennootskap met Kuter se niewinsgewende maatskappy, Yellow for Survivors, gedoen. Sy het dit in 2019 gestig om aan oorlewendes van verkragting en geslagsgebaseerde geweld hulpbronne en veilige ruimtes beskikbaar te stel om so die ondersteuning te kry wat hulle nodig het om te genees.

Kuter het 729 km in 2019 en 448 km in 2020 gestap om die publiek bewus te maak van geslagsgebaseerde geweld en geld vir verkragtingskrisisorganisasies in te samel.

Oor die uitdagings van die fietsrytog het Botes opgemerk: “Steil, lang opdraandes kan ook nogal ʼn uitdaging wees, veral met die swaar sleepwa wat jy agter jou aansleep. Al voel dit of iemand die heeltyd teen jou rem, is dit niks wat ons nie kan oorkom nie.”

Hy meen dit was ʼn voorreg om die rit op 67-jarige ouderdom aan te pak, en dit nog boonop vir ʼn saak soos die van Yellow For Survivors.

Viljoen sê selfs nie eers die Wes-Kaap se Vanrhynspas kon die twee fietsryers in hulle rit stuit nie. Een van hulle grootste hoogtepunte was om by die Hakskeenpan te stop waar landspoedrekords opgestel word.

Botes sê die laaste dag van die rit was van die uitdagendste gewees. (Foto: Verskaf)

“Dit was wonderlik om te beleef hoe groot trokke en die taxi’s ons gerespekteer op die oop pad en wyd om ons ry. Hulle groet met toeters en waai vriendelik.

“Die mense met wie ons gesels het, was veral verbaas oor ons ‘hoë’ ouderdom. Hulle reaksie is een van verbasing, maar hulle het ons entoesiasties aangespoor en bedank vir dit wat ons vir die saak doen.

“Sommige beloof om ʼn finansiële bydrae te maak. Omtrent almal vra ook of ons nie bang is nie! Nee, ons was glad nie bang nie, en is oral in die streek met ope armes en die grootste gasvryheid ontvang,” voeg Viljoen by.

Botes ondersteun Leilani vanaf haar eerste staptog in 2019 en is sedertdien tydens haar stapveldtogte haar kameraman, entoesiastiese aanmoediger en beskermengel.

“Ek is ongelooflik trots op Gerhard en Deon en dankbaar dat hulle bereid was om hierdie grootse uitdaging aan te pak. Hulle het net weer bewys dat niks onmoontlik is nie. Die geld wat ingesamel is deur hulle veldtog sal aan skuilings geskenk word wat slagoffers van geslagsgeweld bystaan, plekke soos Huis Jabes in die Kaap en Hands On Africa in Middelburg,” sê Kuter.

Tot dusver is net oor die R25 000 ingesamel van die manne se R50 000 doelwit. Hulle is vol moed dat hulle dié teiken gaan bereik.

Skenkings kan steeds gemaak word by die skarebefondsingsplatform Back A Buddy of mense kan die webwerf www.yellowforsurvivors.co.za besoek om ʼn donasie te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.