Ambagsengel: Van moeggesukkel tot klaargesukkel

Foto: Verskaf

Moeggesukkel fokus veral op bemagtiging en gee ook opleiding in verskillende rigtings sodat nuwe vaardighede aangeleer kan word.. Foto: Verskaf

Daar is baie mense wat swaar kry in die wêreld, en dit is opbouend om te sien hoe sommige mense bo hul omstandighede kan uitstyg en ander, deur hul eie seer, help.

Jacques Papenfus, stigter van Moeggesukkel, is só iemand. Ná Jacques sy ouers, twee broers en suster in ʼn motorongeluk verloor het, het hy hom op die ouderdom van 18 aan dwelms oorgegee. Hy was vir agt jaar in dié leefstyl vasgeketting.

Vandag is hy reeds nege jaar “skoon” en help nou ander wat ook sukkel met verslawing en armoede. Maroela Media het vroeër berig oor die werk wat Moeggesukkel verrig.

“Baie mense word vasgevang in die greep van drank en dwelms as gevolg van iets wat gebeur het in hul jong dae of dinge wat hulle nie kan verwerk nie,” sê Jacques.

Moeggesukkel fokus veral op bemagtiging en gee ook opleiding in verskillende rigtings sodat nuwe vaardighede aangeleer kan word. Juis daarom het Jacques en sy span dit goedgedink om ʼn meganiese en duikklop-werkswinkel, naamlik MGS Auto, te begin sodat tegniese opleiding verskaf kan word en mense ambagte aanleer in duikklop- en meganiese herstelwerk asook die versiening van voertuie.

“Ons gebruik die verlore energie van mense wat op moedverloor se vlakte is en leer hulle nuwe vaardighede aan. Ons het top-ambagsmanne wat opleiding gee en dit werk baie goed.

Hierdie inisiatief was so suksesvol dat MGS Auto nou van perseel moet verander om meer mense te kan oplei.

“Die leerlinge het nou al ontwikkel tot volwaardige vakmanne wat diens van ʼn hoë gehalte teen ʼn billike prys aan die publiek lewer. Die eerste Moeggesukkel-perseel het eenvoudig uit sy nate gegroei.”

Jacques is baie beskeie oor die talle mense wat al gehelp is en hoeveel lewens al geraak is deur sy inisiatief.

“Die Here het my heelgemaak, en nou is ek maar net ʼn nederige persoon wat ander mense probeer help.”

Besoek MSG Auto se nuwe perseel by Dirk Smit Industrial Park 28, Jakarandastraat, Hennopspark, Centurion, of gaan maak ʼn draai op Moeggesukkel se webwerf of Facebook-blad.

Luister na die podsending vir die volledige onderhoud met Jacques.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Evert ·

Ek het my motor by hulle laat herstel. Ek was baie tevrede met hulle diens. Ek wens hulle net die beste toe.

ANOM ·

Ek bid elke dag van my lewe dat iemand soos Jacques oor my boetie se lewe kan loop. Ongelukkig het omstandigehede sy lewe drasties verander. Dankie Jacques vir jou verandering in die sameleweing en dat jy soveel terug sit. Ek hoop ek kan ook eendag so iets op die been bring wat n betekenis het.

Olivier stoetery ·

Welgedaan meneer! Mag jy n voorbeeld vir ons almal wees om n hulpende hand uit te reik na ons naaste en ons land and volk te help opbou een persoon op n slag. Maroela jul kan gerus meer sulke berigte plaas! Welgedaan en mag jul van krag tot krag groei want wat die land nodig het is vaardighede….papiere beteken maar eintlik niks as jy nie die werk kan doen nie en dit sien ons in vandag se regering al te goed!

Antoinet ·

Ek kan net dink hoeveel geduld en omgee in elke persoon en projek gesit word. Dit wil gedoen wees!! Ek dink meer mense moet van Moeggesukkel weet. Sal dit nie fantasties wees as daar nog sulke plekke in meer dorpe op gebring kan word nie!

Esme van Dyk ·

Uitstekende diens ontvang teen billike pryse. Beveel hul ten sterkste aan. Dankie Jacques en span. God seen jul!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.