Amputasie ná gru-ongeluk: ‘Ek leef nou voluit’

Luke van den Berg (Foto: Verskaf)

Luke van den Berg (Foto: Verskaf)

Luke van den Berg, wat in 2015 sy been in ʼn gru-motorfietsongeluk verloor het, sê selfs dié ongeluk wat hom so byna by die dood laat omdraai het, kan hom nie keer om voluit te lewe nie.

Maroela Media het vroeër berig Luke is in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal opgeneem nadat ʼn motor teen ʼn hoë spoed van agter teen sy motorfiets gebots het. Hy het ook verdere operasies ondergaan om staalplate in sy arms te sit.

Hy het vroeër vertel hy is vasbeslote om nie vir die res van sy lewe in ʼn rolstoel gekluister te wees nie.

Dit is nou skaars een jaar later, en Van den Berg “lewe weer ʼn vol lewe”. “Ek is al ʼn geruime tyd weer terug by die werk, en gaan so te sê aan asof normaal. Ek het net besluit niks sal my keer om ʼn gehaltelewe te leef nie.”

Hy is ʼn veiligheidsbeampte, maar het onlangs begin om liggaamsbou te doen. “Ek moes besluit: Óf ek kon lê en myself bejammer, en dalk vir altyd in die rolstoel wees, óf ek kan elke dag terugbaklei en hard werk om my lewe weer terug te kry.”

Hy het intussen ʼn prostese gekry, en vertel dit was moeilik om daaraan gewoond te raak. “Ek was aan die begin selfs bang om trappe te klim, en het baie geval. Ek het geweet ek moet deurdruk, en dinge sal beter word.”

Hy wil nou hê sy lewe moet ʼn getuienis vir ander wees, en probeer gereeld op informele grondslag motiveringswerk doen. “Ek wil hê ander mense moet weet dat dit alles in jou kop is. Ek het ʼn sterk ondersteuningstelsel gehad. My ma het daagliks 160 km heen en weer gependel om by my te kom kuier. Maar selfs vir die mense wat niemand het nie, wil ek sê jy het soveel innerlike krag, jy kan weer opstaan.”

Van den Berg beplan om meer betrokke te raak in liggaamsbou. “Maar elke dag is dit een stap op ʼn slag. Ek is geseënd, ek weet dit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wiebo ·

Luke, ek bewonder mense soos jy wat sulke wilskrag het. Ek weet as so iets my sou oorkom, sal ek nie die wilskrag he om aan te gaan nie. Mag daar net goeie tye vir jou voorle en sterkte met alles wat jy in die lewe aanpak!

Rikku ·

Ai Luke, jy is sowaar ‘n inspirasie vir ander.
Alle sukses vir jou toekoms.

Elbie van Wyk ·

Hi Luke,
My man was einde Feb ook in ‘n slegte motorfiets ongeluk – ek sal graag wil hê dat jy met hom gesels. Is dit moontlik? Ons bly in Centurion

Groete,
Elbie van Wyk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.