Angus Buchan hou gebedsaamtrek in Kaapstad

“Die Here het tydens my stiltetyd ’n paar maande gelede dit sterk op my hart gelê om die Evangelie van Jesus Christus na Mitchell’s Plein te neem.” Só sê die evangelis Angus Buchan, stigter van die It’s Time-byeenkoms in Bloemfontein. Buchan glo God het ’n yslike verantwoordelikheid op sy skouers geplaas vir verlorenes. “Ook vir diegene wat swak van gees en van hart is, vir hulle wat in bende-aktiwiteite vasgevang is, en in die sinnelose verontagsaming van menslike lewe wat daagliks op die Kaapse Vlakte plaasvind.”

Buchan, wat op 22 April 2017 die grootste gebedsaamtrek in die geskiedenis van Suid-Afrika op Bloemfontein gelei het, het einde verlede jaar dié visie ontvang vir die aanbied van ’n soortgelyke reuse-gebedsaamtrek in die hartjie van die Kaapse Vlakte.

“Ek was nog nooit so opgewonde oor ons geliefde land, Suid-Afrika, nie.” Ek glo dat die It’s Time Kaapstad-geleentheid ’n lig gaan wees wat nie net oor die vasteland van Afrika gaan skyn nie, maar oor die hele wêreld,” sê Buchan.

Swartklip-sportterrein, Mitchell’s Plein
Die It’s Time-biddag in Kaapstad vind plaas op Saterdag, 24 Maart 2018, by die Swartklip-sportterrein in Mitchell’s Plein. It’s Time Kaapstad is ’n eendag-geleentheid van 11:00 tot 16:00. Die hekke open reeds om 06:00 en Buchan gaan na verwagting die skare vanaf 12:00 toespreek. Die geleentheid behoort teen 14:00 klaar te wees.

Water
Slegs toiletgeriewe word verskaf. Almal wat dit bywoon moet asseblief hul eie kos en water saambring. Streng maatreëls word in plek gestel om geen munisipale water te gebruik nie. Water sal van ander dele in Suid-Afrika ingebring word en alle besoekers word versoek om hul eie drinkwater te bring. Bring ook stoele, eetgoed en sonskerm. Ouers wat kinders saambring, word versoek om hul selnommer groot op die kinders se arms te skryf. Let daarop dat geen gazebo’s, strandsambrele en hommeltuie (drones) toegelaat word nie.

Koste en verkeer
Toegang tot die byeenkoms is gratis. Geen kaartjies na die biddag sal verkoop word nie en daar gaan ook nie op die dag enigiets te koop aangebied word nie. Gratis parkeerkaartjies met spesiale roetes na die terrein en die parkeerplekke is beskikbaar by www.itickets.co.za en www.angusbuchan.co.za.

Dit sal die grootste massabyeenkoms nog in Kaapstad wees. Besoekers word aangemoedig om van busse gebruik te maak om te verseker dat daar so min as moontlik verkeersopeenhopings is. Reëlings is met die Golden Arrow-busdiens getref, wat busse vir die geleentheid teen kosprys beskikbaar sal stel.

Veiligheid en sekerheid
Meer as 2 000 vrywilligers sal tydens die geleentheid sekerheidsmaatskappye, die metropolisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens bystaan. Besoekers sal duidelike aanwysings kry na die toegewysde parkeerplekke. Reëlings is reeds met verskeie skole en organisasies in die omgewing getref wat veilige parkeerplek sal verskaf. Alle parkeerplekke is binne ’n 5 km-radius van die byeenkoms.

Volgens Buchan gaan It’s Time Kaapstad ’n geskiedkundige geleentheid wees en niemand kan bekostig om dit mis te loop nie.

Vir meer inligting en om parkeerkaartjies te bespreek, besoek www.angusbuchan.co.za. Bly ook op hoogte deur Angus Buchan op sosiale media te volg:
Facebook
Twitter
Instagram

Golden Arrow-busdiens
Vir besprekings van busse stuur ʼn e-pos na [email protected] of skakel 021 937 8800.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.