Angus Buchan kom bid vir Krugersdorp

Angus Buchan. (Foto: Reint Dykema) 

Nadat hy ’n smeekbrief van ’n Krugersdorp-inwoner ontvang het, het Angus Buchan besluit om ’n gebedsdag in en vir dié dorp te hou. Op dié dag sal daar vir werkloosheid, armoede, misdaad, dwelmmisbruik, alkoholisme en satanisme gebid word.

“Ons gaan nie net vir Krugersdorp en Mogale-munisipaliteit bid nie, maar vir almal in ons geliefde Suid-Afrika. Ons sal lewe spreek oor ons land, ons mense, diegene wat siek, depressief en werkloos is,” het Buchan gesê.

“Ons glo dat net Jesus genesing, verandering en hoop na ons land toe sal bring. Dit is waarom ons die geleentheid Speak Jesus noem.”

Dié geleentheid kan gratis bygewoon word en sal op Saterdag 24 September by ’n venue naby Krugersdorp gehou word.

Die hekke maak om 07:00 oop en Buchan sien uit daarna om mense te verwelkom.

Mense word aangemoedig om water, ’n hoed, sonskerm, kos, gemaklike skoene, toiletpapier, stoele, piekniekkomberse en ’n sak vir vullis saam te neem.

Daar sal nie kosstalletjies beskikbaar wees nie en daar word geen gas- of gewone braairoosters toegelaat nie. As gevolg van die groot groep mense wat die geleentheid gaan bywoon, word daar ook gevra dat mense nie gazebo’s of sambrele oprig nie.

Ouers word aangemoedig om hul kinders in helder kleure aan te trek en hul arms met selfoonnommers te merk.

Daar sal vervoerdienste deur die dag beskikbaar wees, vir meer inligting daaroor kan dié webwerf besoek word.

Om jou plek by die gebedsdag te bespreek, besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter9 ·

Ons moet net onthou dat dit nie oor Angus Buchman gaan nie- en hy sal dit self ook bevestig-God word nie oorreed om iets te doen nie. Hy kyk na die harte van mense, en wanneer mens in opregtheid na Hom toe gaan verhoor Hy gebed in ooreenstemming met Sy Wil… Kan 1 mens of 10 000 wees.

Grens ·

Uitstekend, gaan probeer bywoon. Dankie Oom Angus vir jou bereidwilligheid.

Atta ·

Ongelukkig het te veel Christene meer vertroue in ʼn mens as op Die Mens, Jesus Christus. Hoe bekender die prediker en hoe groter die getalle wat hy kan trek, hoe makliker kan God se arm mos gedraai word. Toe Jesus se dissipels Hom vra dat Hy hulle moet leer bid, het Hy nie gesê dat hulle moet “lewe spreek” nie, maar wel dat ons God moet vra om ons van die bose te verlos. Die krag lê by God, nie in my woorde nie.

Koos 100 ·

Atta, my heel eerste gedagte ook. Jammer oor my negatiewe segmente, maar enige mens kan bid. Het nie ‘n persoon nodig om te bid nie. Dit was die wet in die ou testament. Daar moes die hoë priester die offers bring en met God praat. Jesus se kruisdood het die deur vir ons na God oop gemaak. Mense jy kan enige plek en tyd met God praat, jy hoef nie te wag vir ‘n persoon, op ‘n spesifieke tyd en plek nie. God verhoor alle gebede, nie net sekere mense sin nie. Hy sal altyd gee wat sy kinders nodig het, en nie altyd wat hulle wil hê nie.

JouPa ·

Het ongelukkig 2 keer na Angus geluister. Hy praat verskliklik baie maar hy sê baie min. Mense moet nie afgode van ander mense maak nie, maar moet GOD eerste stel als en self met Hom komunikeer en Sy wil volg

Gawie ·

JouPa, ek het al baie meer as net 2 keer na Angus gaan luister. Ek dink jy verwar hom dalk met iemand anders, want hierdie man weet hoe om ‘n ware boodskap van God te bring. Nog nie een keer wat ek na hom geluister het wat ek nie uitgedaag gevoel het om dinge in my lewe te verander nie.
Of dalk het jy maar net nie gehou van die uitdagings wat hy aan jou gestel het nie . . . . .

koos ·

Hoekom gaan ons Sondag kerk toe? Om die dominee/ pastoor/ priester/ eerwaarde te sien? Nee, om as gelowiges saam te aanbid want waar daar twee of meer teenwoordig is, sal die Here ook wees. So, oom Angus, go for it, die Here seën jou en jou werk.

Prikkie ·

Moenie vir Angus wag nie – begin bid self.

God luister nie net na spesifieke mense nie, Hy luister na alle opregtes van hart.

Die plig om te bid begin by onsself,.

Atta, Koos en Vaaldonkie, julle is al drie 100% in die kol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.