Anna Neethling-Pohl word onthou

Anna Neethling-Pohl. (Foto: Morné van Rooyen/Facebook)

Op ’n koue wintersmiddag in ʼn begraafplaas op Graaff-Reinet, is die doyenne van Afrikaanse teater, Anna Neethling-Pohl, op die 30 jarige herdenking van haar sterfdag, 14 Augustus, vereer.

Lede van die FAK-Graaff-Reinet-kultuurnetwerk, FAK-personeellede en die hoofleerders van die Hoër Volkskool Graaff-Reinet waar Anna Neethling-Pohl skoolgegaan het, het vanjaar by die Cradockstraat-begraafplaas op Graaff-Reinet byeengekom om dié geleentheid te behartig.

Die hoofseun en hoofdogter van Hoër Volkskool het skriflesing en gebed by die huldigingsgeleentheid gedoen, huldeblyke is gelewer en die FAK het ’n krans gelê.

Anna Servasina Pohl, wat die verhoognaam Anna Neethling-Pohl gebruik het om verwarring met die sopraan Anna Elizabeth Pohl te voorkom, is op 14 Augustus 1992 oorlede. Haar laaste rusplek is in haar geboortedorp langs haar ouers.

Die woorde van NP van Wyk Louw, “mooi is die lewe en die dood is mooi,” is op ʼn klein steentjie by die graf verewig. Dit dien as die laaste herinnering van dié formidabele vrou.

Haar loopbaan het in die onderwys begin, maar het later uitgekring na die uitsaaiwese en die vermaakbedryf.

Neethling-Pohl was die eerste vroulike Afrikaanse omroeper by die SAUK. Daar het sy 21 jaar lank radiowerk gedoen, en die skoene van regisseur, vervaardiger, vertaler en skrywer volgestaan.

Sy was ’n toegewyde Christen wat by geleentheid in ’n radioprogram gesê het: “Iemand wat in die Karoo grootgeword het, kan eintlik nie anders as om te glo nie. Daar waar die wêreld so oop is en die hemel so wyd, daar glo ’n mens in jou Skepper.”

Pohl was in die dertigerjare die dryfkrag agter die stigting van Afrikaanse toneelverenigings en was verantwoordelik vir talle deure wat vir Afrikaanse toneelvordering oopgegaan het.

Sy het self in 50 teaterstukke gespeel en was die regisseur van meer as 60 teaterproduksies.

Lede van die FAK-Graaff-Reinet-kultuurnetwerk, FAK-personeellede en die hoofleerders van die Hoër Volkskool Graaff-Reinet het vanjaar by die Cradockstraat-begraafplaas op Graaff-Reinet byeengekom om hulde aan haar te bring. (Foto: verskaf)

Alhoewel sy die verhoog verkies het, het sy tog in 1938 haar verskyning op die silwerdoek gemaak in die rolprent Die bou van ʼn nasie. Sy het later met die koms van televisie in reekse soos Ballade vir ʼn enkeling en Die Mannheim-sage gespeel.

Sy het baanbrekerswerk by die dramadepartement van die Universiteit van Pretoria gedoen en is in 1986 met die spoggerige Laureate-toekenning vereer.

Katinka Heyns, Lerina Erasmus, Tobie Cronjé, Sandra Prinsloo en Trudie Taljaard is onder die name wat destyds in Neethling-Pohl se dramaklas was.

Sy het vir Suid-Afrikaanse akteurs die geleentheid geskep om deel van Shakespeare se wêreld te word deur sewe van sy dramas en 25 sonnette in Afrikaans te vertaal. Sy het self die rol van Lady Macbeth in een van dié produksies vertolk.

Met haar voordragprogramme het sy ʼn liefde vir digkuns onder Suid-Afrikaners begin kweek.

Die voordrag van die NP van Wyk Louw-gedig Die dieper reg tydens die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in 1938, staan veral uit as een van die hoogtepunte van haar lewe en loopbaan.

As volksfeesorganiseerder het sy ’n sleutelrol gespeel by die inwyding van die Voortrekkermonument, die 1952-Van Riebeeckfees, die viering van Die wonder van Afrikaans en republiekfeeste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

kaplyn ·

Wat ‘n merkwaardige vrou. Toevallig is die straat waarin ek bly na haar vernoem. Dit sal ook seker verander word nadat die straat wat uit Anna Neethling-Pohl straat loop skielik verander is na ‘n naam wat ek nog nooit vantevore gehoor het nie. Ek het haar ontmoet aangesien sy langs my ma gebly het in Flemmingpark en ek gereeld met haar gesels het. Sy was ‘n plat op die aarde vrou. Tannie Anna ons saluut u.

koos ·

Hulle word nie meer so gemaak nie… :-(
Ons het vandag sulke ystermense in hierdie land nodig (en ek praat ook met myself hier).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.