Anrinѐ glo taal kan brûe bou

Anrinѐ Oerlemans

Anrinѐ Oerlemans van Hoërskool Menlopark spog met agt onderskeidings. Dié sukses het sy behaal in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, Duits, Frans, geskiedenis en ontwerp.

Anrinѐ sien uit na ʼn matriekbootreis voordat sy BA Tale aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Sy wil graag ʼn vertaler en ʼn tolk word. Sy sê sy het ʼn aanvoeling en aanleg vir tale en hoop om eendag soveel tale moontlik te kan praat.

Haar ouers is Riaan, ʼn siviele ingenieur, en Anneke, ʼn tuisteskepper. Sy is die oudste van vier kinders. Sy het ʼn broer, Dricus, wat verlede jaar in gr. 11 was, en twee sussies, Christelle wat in gr. 8 was en Rijanli in gr. 6.

Anrinѐ glo dat tale deure oopmaak vir mense om mekaar te verstaan en dat dit die sleutel is tot probleemoplossing in ons land en in ons wêreld. Sy hou vol tale kan jou help om van ander kulture en lande te leer en kan ʼn brug vorm tussen verskillende kulture en sienswyses. Sy vertel hoe die tyd wat sy in Duitsland as uitruilstudent deurgebring het, haar oë oopgemaak het vir só veel goed wat buite ons land gebeur. Sy het in gr. 10 Frans begin neem omdat sy besef het watter verskil tale in ʼn mens se lewe kan maak.

Anrinѐ het aan redenaars en openbare redevoering deelgeneem. In 2016 was sy onder die 20 top-kandidate in die nasionale ronde van die Taalbond se redenaarskompetisie en in 2014 het sy onder die tien top-wenners in die ATKV se Spelathon geëindig.

Sy was van 2013 tot 2017 een van haar skool se tien top- akademiese presteerders. In gr. 11 het sy die ontwerpvakprys verower en die afgelope vyf jaar het sy telkens deurgedring tot die tweede ronde van die wiskunde-oplimpiade.

Haar leierskapvernuf het sy in 2016 geslyp op die ATKV-jeugberaad.

Sy het hokkie gespeel en in haar vrye tyd lees sy graag en luister na musiek. Boonop is sy gaande oor kook en bak.

Haar ma is vir haar ʼn rolmodel, die mens wat haar geleer dat alles met ʼn doel gebeur, en dat jy moet probeer, anders sal jy nooit weet of dit sal werk nie.

My ma ondersteun my in alles wat ek aanpak en leer my om positief te bly ten spyte van terugslae.

“Harde werk, genade van bo en goeie tydsbestuur” is die rede vir haar sukses.

 Anrinѐ sê haar kreatiwiteit is een van haar sterkpunte en sy sukkel soms met ongeduld. Sy is nietemin iemand wat voluit leef en skroom nie om ander te help waar sy nood sien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.