Antjie Krog-trust ondersteun skool vir outisme

Antjie-Krog-Stigting

Foto: Adéle Changuion

Die Antjie Krog-trust ten bate van die Spitskop Spesiale Skool vir Outisme is Woensdagaand in Pretoria bekendgestel waar sprekers soos Elsabé Zietsman en adv. Willem Krog oor die belangrikheid van só ʼn skool gepraat het.

Die skrywer en digter Antjie Krog het ʼn ruim bydrae tot Suid-Afrikaanse kultuur gelewer en haar skryfwerk is in verskeie tale vertaal.

Spitskop Spesiale Skool het sy oorsprong gekry uit die visie van ʼn desperate ma, Salomien Snyman (Krog se niggie), wat gedroom het om eendag haar twee outistiese seuns te kan stuur na ʼn plaaslike skool wat toegespits is op die spesiale onderwysbehoeftes wat outistiese leerders benodig.

Ná drie jaar se ondersoek met geen resultate het sy besef dat sy nie die enigste ouer kan wees met hierdie probleem nie. Snyman het deurgedruk en eindelik besluit om self ʼn skool tot stand te bring.

Zietsman het by dié geleentheid gesê sy het bewondering vir Snyman se deursettingsvermoë. “Ek het self ʼn trust van my eie en ek moes drie jaar sukkel om dit geregistreer te kry. Ek weet waardeur sy gaan en gegaan het. Ek salueer jou vanaand, en vir almal wat omgee.”

Die skool het sy deure in Februarie 2013 geopen as ʼn nie-winsgewende organisasie (NPO) met artikel 18A-status as openbare weldaadorganisasie (PBO) asook vlak 4 BBSEB-status. Die skool is geregistreer by die departement van maatskaplike ontwikkeling en onderwys as ʼn private skool vir spesiale behoeftes.

Die skool bied versorging, stimulasie en onderwys aan vir 42 kinders. Daar is ʼn akademiese sentrum wat spesifiek voorsiening maak vir kinders met akademiese potensiaal, maar wat nie die vermoë het om aan die eise van gewone skoolopleiding te voldoen nie.

Willem Krog, Krog se broer, het gesê sy suster het nie ʼn woord oor haarself te sê gehad by die bekendstelling nie. “Sy het gesê die begunstigde van die trust is veel belangriker as wat sy of haar werk ooit sal wees. Alles hier gaan oor die kinders en hoe ons hulle wil help,” het hy gesê.

ʼn Ander fokuspunt van die skool is om meer intensiewe terapie en vaardigheidsontwikkelingprogramme te verskaf aan diegene wie se kinders beperkings het wat hulle sal verhoed om tot selfstandige volwassenes te ontwikkel.

In ʼn spesiale video wat vertoon is, is benadruk dié projek moet ouers bystaan wie se kinders nie in gewone skole kan funksioneer nie. “Ons is afhanklik van geld van die gemeenskap om die ouers te ondersteun. Ons sien reeds soveel positiwiteit, baie van die kinders vorder so goed. ʼn Jong seun met serebrale gestremdheid wat geen beweging gehad het nie, beweeg nou met ondersteuning rond.”

Die skool beskik oor ʼn ten volle toegeruste fisioterapiekamer waar ʼn gekwalifiseerde fisioterapeut, Alta Graham, toesig hou oor die ontwikkelingsprogram en die kinders maandeliks evalueer. Benewens ʼn fisioterapeut het die skool ook ʼn voltydse arbeidsterapeut wat een-tot-een terapie aan die kinders bied.

Die doel van hierdie terapie is om hulle in staat te stel om met basiese lewensvaardighede ʼn bydra tot die samelewing te lewer en sodoende die potensiaal vir indiensneming as volwassenes te skep. Die skool neem ʼn holistiese benadering en bied ʼn opvoedkundige stelsel met minder leerders per klas. Kinders word bygestaan met ʼn een-tot-een ondersteuningstruktuur waarin gefokus word op spesifieke probleemareas.

Die kinders bestee heelwat tyd in die buitelug en die skool verskaf twee gebalanseerde maaltye per dag as deel van ʼn voedingskema.

Besoek die Antjie Krog-trust se webwerf of bel Salomien Snyman by 072 463 3657 vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Enna Burger ·

Vra is vry. Kan daar nie ook hulp vir Hartswater se Outisme skooltjie kom nie, dan kan my kleinseun dalk ook ‘n oop plekkie daar kry Asb, wat dit so nodig het vir ‘n Toekoms.

Melt Olckers ·

Ek is bly dat Spitskop hierdie ondersteuning kry. Ek ken Salomien Snyman en volg Spitskop se groei al lank. Sy doen goeie werk waar ons eie skole nalaat om iets te doen. Sterkte aan Salomien Snyman en Spitskop se personeel en leerders.
Outisme het meer publieke ondersteuning nodig.

Maryna Serfontein ·

Net ‘n kort woord van dank aan Maroela Media wat ons funksie by gewoon het en aan Adele vir haar hulp met die foto’s!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.