Arabies-Afrikaanse werke deur Taalmonument vereer

Taalmonument in die Paarl. (Foto: Verskaf)

As deel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se 45ste verjaardag in 2020 het die monument ʼn kompetisie van stapel gestuur waardeur Afrikaanse tekste in Arabiese of Jawiese (Arabies soos aangepas om spesifieke Afrikaanse klanke weer te gee) skrif getranslitereer kon word.

Ter ere van Arabies-Afrikaans se bydrae tot die wording van Afrikaans is die ATM verheug om die top-12 inskrywings van die instelling se jongste skryfkompetisie uit te stal.

Gasan Kriel is as die wenner aangewys en die naaswenners is Mogamat Alexander en Tasneem Chilwan. Die ander finaliste is Albrecht Beer, Faheem Rhoda Jackson, Fuad Peters, Luqmaan Mohamed, MF Gamieldien, Mogamat Armien Slamang, Naeema Fredericks, Stefan Abdoer-Ragmaan Lombard en Uzair Ben Ebrahim, wie se werk uit meer as 40 tekste gekies is om in die Groen Galery uitgestal te word. Die Romeinse en Arabiese tekste word langs mekaar in die galery uitgestal.

Kriel sê hy, as student van Arabies, is bly om te sien dat daar erkenning vir die skryftradisie se bydrae tot Afrikaans is. “Arabies-Afrikaans is deel van ons erfenis wat bewaar moet word,” sê hy.

Chilwan reken die herlewing van Arabies-Afrikaans is opwindend en baie belangrik. “Ek vind Arabies-Afrikaans baie interessant, want dit is deel van my familie se herkoms.”

Alexander sê hy het altyd Arabies-Afrikaanse tekste gelees wat geskryf is voor die bestaan van Afrikaanse spelreëls en grammatika, en voordat Afrikaans as amptelike taal aanvaar is. “Vir my is dit belangrik dat die skryftradisie behoue bly. Dit is deel van ons erfenis.”

Die positiewe reaksie en talle inskrywings – van religieuse tekste, oorspronklike werke oor Afrikaans en kwessies soos ubuntu tot die lirieke van Spoegwolf en Refentse – bewys dat daar steeds ʼn groot belangstelling in Arabies-Afrikaans is. Boonop is inskrywings vanuit lande soos Duitsland, Oostenryk en Saoedi-Arabië ontvang, wat werklik ʼn pluimpie vir die ATM se internasionale aanlyn teenwoordigheid is.

Dr. Shamiega Chaudhari, kenner van Arabies en hoof van die Departement van Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare, sê dit was ʼn groot eer om hierdie kompetisie te kon beoordeel.

“Dit het my hartsnare geroer dat mense, selfs van heinde en ver, wel daarin belangstel. Ek wil graag vir almal wat ingeskryf het, gelukwens. Hoewel hulle nie almal in die wennerskategorie kon wees nie, is elkeen ʼn wenner wat my betref.”

In Desember 2020 is die top-drie nuwe Arabies-Afrikaanse werke deur die Historium Trust met R10 000 beloon vir hul uitstaande bydrae tot hierdie unieke skryftradisie. Ter ere van Versoeningsmaand en die afskaffing van slawerny is ʼn geselligheid in die Paarl gehou waar die drie skrywers pryse ontvang het en prof. Hein Willemse, redakteur van Die Afrikaans van die Kaapse Moslems, ʼn kort lesing lewer het.

Tasneem Chilwan se huldeblyk aan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM). (Foto: Verskaf)

Arabies-Afrikaans word algemeen aanvaar as die eerste geskrewe vorm van Afrikaans. Talle geskrifte – soos studentenotaboeke, verkiesingsplakkate, publikasies en manuskripte – het behoue gebly. Tot dusver is 74 van dié werke wat tussen 1845 en 1957 geskryf is deur kundiges ontdek en geïdentifiseer. Hieronder tel voorbeelde van die vroegste Afrikaanse literatuur, en daar word vermoed dat heelwat onopgetekende Arabies-Afrikaanse geskrifte in privaat besit is.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die missie van die instelling om onder meer die versweë geskiedenis van Afrikaans te belig en die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook die taal se eietydse gedaantes te vier.

“Ons moedig mense aan om ook op dié manier hul deelname aan die taal te herbevestig,” sê Jonas. “In die Taalmuseum in die Paarl gee ons heelwat erkenning aan Abu Bakr Effendi wat in die 1800’s ʼn groot rol in die ontwikkeling van Arabies- Afrikaans en derhalwe ook Afrikaans in die Bo-Kaap gespeel het. Ons wil graag sien dat die Afrikaanse gemeenskap hierop voortbou.”

Jonas sê die meeste besoekers stel nie net baie belang in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar is ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane.

Die uitstalling is tot Mei 2021 in die Taalmonument se tuin te sien en dit kan ook aanlyn op die Taalmonument se webwerf besoek word. Vorige uitstallings is ook hier te sien. Jan van Wijk het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ʼn rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van verskeie opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in die galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mundus ·

Die Afrikaanssprekendes was histories geskei deur rassepolitiek. Baie Afrikaners het geen benul van die eintlike oorsprong van Afrikaans nie. Ek oorvereenvoudig dit dalk, maar dit kom daarop neer dat die slawe uit hoofsaaklik Indonisië en Malysië ‘n eenvoudiger Hollands by die werk begin praat het. Die Boere wou op ‘n latere stadium hulle self van ‘n verdrag tussens Holland en die Britte distansiëer, en het selfs hierdie ‘verplatte’ Hollands as taal geneem om die ‘eie nasie’ bewering te versterk. Hulle was na regte nie meer Hollanders nie. In daardie tyd was daar glo meer geletterdheid onder die slawe as onder die Boere. Geskiedenis kan maklik verdraai word om ‘n sekere politieke stand te steun, maar hierdie geskrewe oorblyfsels van die allerdaagse lewe in daardie tyd, laat geen twyfel oor waar Afrikaans vandaan kom nie.

MT ·

Jammer Mundus, jou beskrywing van die ontstaan van Afrikaans is nie korrek nie.

‘n Goeie plek om met jou navorsing te begin, is die gesaghebbende boek van JC Steyn ‘Ons gaan ‘n taal maak’.

Dit sal jou help om die kaf van die koring te skei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.