Aros beleef geskiedkundige 2021

Prof. Rikus Fick, Aros se rektor. (Foto: Verskaf)

Te midde van ʼn wêreldwye pandemie beleef die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) steeds ʼn geskiedkundige 2021 op vele gebiede.

Aros het vroeër in Maart die tersiêre instelling se jaarlikse gradeplegtigheid aangebied waar 186 kwalifikasies toegeken. Gedurende die seremonie is al die inperkingsreëls in ag geneem sodat studente steeds hul grade persoonlik kon ontvang terwyl die funksie ook regstreeks na familie en vriende uitgesaai is.

ʼn Totaal van tien graad R-diplomas, 132 BEd Grondslagfase- en 44 BEd Intermediêrefase-grade is toegeken. Wat die besondere aard van hierdie geleentheid verder verhoog, is dat dit die eerste Aros-groep BEd Intermediêrefase-onderrigstudente is wat die onderwyslandskap ingestuur word. In 2021 is hierdie studente toegerus om roepingsgedrewe onderwys te gee en ʼn verskil te maak.

“By Aros word studente begelei om die onderwysberoep ten eerste as ʼn roeping van die Here te aanvaar en te ervaar. Wanneer onderwys as ʼn roeping gesien word, gee dit sin en betekenis aan die onderwysberoep. Studente wat by Aros studeer het, beskik oor beroepsgerigte opleiding. Tydens hulle studie word daar ook op die ontwikkeling van Christelike waardes in die klaskamer gefokus. Aros-studente is hoog in aanvraag by Afrikaanse en Engelse private en openbare skole, ʼn verskeidenheid van ander opvoedkundige instellings en ook op internasionale vlak,” het prof. Rikus Fick, rektor van Aros, gesê.

Fick het bygevoeg dat hierdie ʼn besonderse groep studente is, wat in ʼn baie moeilike tyd hulle studie moes voltooi. Aros het egter besonder vinnig met aanlyn klasse en assesserings die nodige aanpassings gedoen. Sodoende is dit vir elke student moontlik gemaak om hul studiejaar suksesvol te voltooi.

“Ons is veral trots op hierdie groep gegradueerdes wat hul grade of diplomas voltooi het. Van die groep gegradueerdes het 23 van die 186 hul studie met lof geslaag (75%+). Ons is trots om hierdie bekwame groep studente as onderwysers die wêreld in te stuur,” het Fick verder gesê.

Daar is ook ander faktore wat tot die besondere aard van 2021 vir Aros bydra. Aros spog in 2021 met ʼn rekordgetal eerstejaars en kan met dankbaarheid aankondig dat 650 eerstejaars by die Aros-familie verwelkom is.

Tans beleef Aros uitsonderlike groei. Vir Aros is dit in die lig hiervan ook ʼn groot voorreg om in 2021 twee nuwe studierigtings aan te bied, naamlik NGOS en BEd Senior Fase en VOO. Albei hierdie studierigtings het groot belangstelling ontlok. Hierdie jaar word onderskeidelik 132 BEd Senior Fase- en VOO-studente en 54 NGOS-studente by Aros verwelkom.

“Ons wil graag voornemende studente wat dit as ʼn roeping beskou om ʼn onderwyser te word en by ʼn instelling wil studeer waar die onderrig op ʼn Christelik-reformatoriese grondslag geskied, verwelkom en uitnooi om aansoek te doen by Aros. Ons land het sulke mense dringend nodig,” het Fick bygevoeg.

Die onderrigmodel bied die ideale geleentheid vir voornemende onderwysers om hul studie en praktieseonderwys-ervaring gedurende die vier jaar te kombineer.

Aros is trots om te midde van al die uitdagings steeds voort te gaan met onderrig wat van hoë gehalte getuig en steeds koers te hou ten spyte van moeilike omstandighede. Op hierdie wyse word aan studente die geleentheid gebied om hul 2021- akademiese jaar suksesvol af te handel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.