Aros betree ʼn volgende era met nuwe leierskap

aros-michael-heyns-en-rikus-fick-01

Prof. Michael Heyns is die nuwe viserektor van Aros en prof. Rikus Fick sal op 1 Junie as rektor van die instelling intree. Foto: Aros.ac.za

Die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros), ʼn private Christelike hoëronderwysinstelling, spog met ʼn splinternuwe topbestuur wat die leisels in 2019 sal oorneem.

Prof. Rikus Fick sal op 1 Junie as die rektor van die instelling intree, wat spesialisonderwysgrade in Afrikaans op ʼn kampus in Waverley, Pretoria aanbied. Prof. Michael Heyns is op 1 Maart as viserektor aangestel.

Fick het waardevolle ondervinding in sekondêre onderwys opgedoen in die vyf jaar as onderwyser in Latyn en Afrikaans by Potchefstroom Gimnasium. Hy was meer onlangs, sedert 2012, die studentedekaan en direkteur van studentelewe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) waar hy ondervinding in universiteitsbestuur en studentelewe opgedoen het.

Volgens Talita Lofthouse, waarnemende bemarkingsbestuurder van Aros, is hy steeds deeltyds by die akademie betrokke en het die afgelope jare talle meesters- en doktorsgraadstudente begelei.

Heyns was die afgelope tien jaar direkteur van die skool van filosofie en hoof van die instituut vir grondslae-ondersoek aan die NWU.

“Hy het as navorser talle akademiese voordragte nasionaal en internasionaal gelewer. Hy was betrokke by verskeie meesters- en doktorsgraadstudente en het heelwat artikels in populêre intellektuele- en geakkrediteerde tydskrifte gepubliseer.”

Die instelling het vandeesmaand tydens sy jaarlikse gradeplegtigheid ook ʼn verdere 164 spesialiste by die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel toegevoeg. Aros het ʼn diploma in graad R-onderrig aan 13 studente toegeken. Die BEd-graad in grondslagfase-onderrig is aan 151 graduandi toegeken met 32 studente wat hul kwalifikasie met onderskeiding behaal het.

Volgens Lofthouse bring dit die totaal van gekwalifiseerde onderwysers wat reeds deur Aros afgestudeer het, op 450 te staan.

Aros het vanjaar 454 nuwe eerstejaarstudente aan die instelling verwelkom. Inskrywings neem jaarliks toe en 1 195 studente het al Aros as hul opleidinginstelling gekies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan Neuteman ·

Prof Fick se ervaring lyk reg vir die pos – wonder nou net of hy nou nog predikantstatus het of nie – dit sit vir my nie so lekker dat die professore by die GKSA se Teologiese Skool so oor en weer met die “Fakulteit Teologie” van die NWU vermeng nie. En buitendien lyk dit of prof Fick lankal ‘n wêreldse beroep (die bestuurspos by die NWU) doen, maar hy het steeds predikantstatus? Dit bietjie onduidelik hoe dit met die gereformeerde kerkorde saamgedoen kan word. Maar sterkte aan AROS met die onderwysersopleiding.

Theoman ·

AROS….. GEBOU DEUR AFRIKANERS VIR AFRIKANERS ons inwooners van Waverley is trots op hier die pragtige Afrikaanse Akademise instelling, en om ONS studente in en om die kampus te sien is wonderlik. Doen so voort AROS

Disselboom ·

Gebou deur Afrikaners, maar nêrens op hulle webblad enige vermelding van Afrikanerskap nie – wel Afrikaans. Maar dis nogtans lekker om iets dan ten minste in Afrikaans te sien funksioneer. Disselboom is net so bietjie versigtiger met die opgewondenheid, want van Afrikanerskap is daar maar min oor.

Martha ·

Dit is net vreeslik jammer Aros ht op so ‘n onsmaaklike manier van Niklaas Roets ontslae geraak wat uitstekende leiding aan Aros gebied het. Niklaas het self sy eie beroep laat vaar om Aros te dien net om versaak te word.

Johan Neuteman ·

Is daar iets waarvan ons meer behoort te weet? Is Morné Diedericks nog in sy pos by Aros?

lewies ·

Ek het nog altyd gese dat Dirk Postma met sy Kskool, Lskool en Hskool met Aros as Universiteit op dieselfde kompus, ‘n wenresep is vir opvoeding en opleiding.
Ouers, leerlinge en studente saam met die opvoeders is mense met integriteit en ‘n passie. Ek praat uit ervaring omdat ek self dit beleef het.
Mag julle van krag tot krag gaan en aanhou kwaliteit en geroepe onderwysers lewer soos julle nog altyd gedoen het. Julle eindproduk staan uit in die staats en privaatskole waarvan ek steeds deel is.

klip in die bos ·

Weet die wat negatief is waarvoor die afkorting AROS staan. Ek twyfel baie sterk daaroor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.