Aros bou band met top-universiteit in Finland

aros-in-finland

Prof. Rittva Kantelinen, departementshoof van die opvoedkunde fakulteit aan die Universiteit van Oos-Finland, oorhandig ʼn sertifikaat aan Niclaas Roets en Dr Morne Diedericks van Aros na die voltooiing van ʼn kursus oor die onderwysstelsel van Finland by die universiteit. Foto: Verskaf.

Finland is wêreldwyd bekend vir ʼn moderne en toekomsgerigte onderwysstelsel. Die onderwysprofessie word hoog geag in dié land waar die skooldae korter is, daar minder geassesseer word en die fokus veral op kuns, musiek, taal en beweging lê.

Twee bestuurslede van Aros, ʼn Afrikaanse, private, Christelike hoëronderwysinstelling wat onderwysers oplei, het onlangs die Universiteit van Oos-Finland besoek om meer oor dié land se onderwys en die opleiding van onderwysers te leer.

Die universiteit het die grootste opvoedkunde fakulteit in Finland en is doelbewus ingestel op moderne opleiding van onderwysers. Net ongeveer 10% van alle studente se aansoeke om onderwys te studeer aan dié universiteit word aanvaar. Die opvoedkunde fakulteit is in Joensuu, 400 km noordoos van Helsinki geleë. Die universiteit het ongeveer 15 000 studente en word wêreldwyd as een van die 300 top-universiteite in verskeie vakgebiede gelys.

Dr. Morné Diedericks, akademiese hoof van Aros, en Niclaas Roets, uitvoerende hoof van die instelling, het ook ʼn drie dag kursus aan die universiteit voltooi. Die kursus het gehandel oor die suksesse wat gelei het tot die gehalte van die Finland se onderwysstelsel.

Diedericks en Roets sê die doel van die Aros se besoek was om lesse te leer oor die verbetering van praktiese onderwys sodat plaaslike opleiding in pas kan bly met beste praktyke. “ʼn Verdere oogmerk van ons besoek was om samespreking te voer oor die mees onlangse pedagogiese grondslae wat Finland gebruik en aan hulle studente oordra. Om die besoek af te rond het Aros die moontlikheid van toekomstige samewerking met die Universiteit van Oos-Finland ondersoek.”

Volgens Diedericks en Roets was die kursus veral waardervol omdat hulle eerstehands kon leer hoe die universiteit die praktiese opleiding van onderwysstudente struktureer. “Nog ʼn unieke aspek van die kursus was om te sien hoe die universiteit dink oor die samestelling van sy kurrikulum en die leerruimtes van studente en leerlinge.”

Aros gaan tans deur sy eerste herkurrikuleringsproses en talle van die relevante aspekte gaan in die nuwe kurrikulum ingewerk word.

Diedericks en Roets meen daar is ʼn goeie verhouding tussen Aros en die universiteit gevestig. “Van die moontlike samewerkingsooreenkomste in die toekoms sluit in uitruilprogramme tussen studente, asook die moontlikheid van Aros-dosente om gratis in te skryf vir verdere studie aan die Universiteit van Oos-Finland.

“Die universiteit was ook opgewonde oor Aros se opleiding en hulle wou ook meer van dié hoëronderwysinstelling se unieke onderwysopleidingsmodel leer. Personeel van die Universiteit van Oos-Finland sal ook in die nabye toekoms Aros in Suid-Afrika kom besoek,” het Diedericks en Roets bygevoeg.

  • Voornemende onderwysstudente kan reeds aansoek doen vir hul studie in 2019 by Aros. Besoek Aros.ac.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

André Badenhorst ·

Baie goeie inisiatief, baie geluk Aros!

Ons moet egter nie die ons eie vermoëns onderskat nie. Afrikaanse skole het uitstekende onderwysers. Daar is egter baie ruimte vir verbetering in terme van “nuwe onderwys”.

Finland het wel op onderwysgebied uitgestyg in die wêreld, maar dis ook maar nie altyd maanskyn en rose daar nie.

Die antwoord lê beslis in onsself.

Disselboom ·

Stem saam ons moet onsself nie onderskat nie – is goed om orals kers op te steek, maar die Afrikaner is ‘n unieke volk. Mens vertrou dat AROS die insig sal hê om wat in ‘n godlose samelewing soos Finland geleer kan word, te sif en toe te pas in die Christelik-Afrikaanse kultuur en sonder kompromie van Bybel en belydenis en wat dit ons leer van waar die mens staan in God se skepping. AROS is waarskynlik geoefend in die ding om vreemde humanisme te “vertaal”, gegewe staatsregistrasie en staatsakkreditasie by ‘n nie so christelike regering nie. Dit verg seën om al die insig te kry.

Kannaland ·

Privaatskole moet hulself heeltemal losmaak van hierdie grapland se onderwyssisteem, en akkreditasie van lande soos Finland aanneem. ‘n Finse matrieksertifikaat of sertifikaat van enige ander beskaafde land is baie meer werd as dit watookal ons patetiese onderwysowerhede uitdruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.