Aros brei uit met hoër sertifikaat en honneursgraad in onderwys

Foto ter illustrasie. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) sal van 2024 af twee nuwe onderwyskwalifikasie aanbied, wat ʼn hoër sertifikaat in onderwys en ʼn honneurs in leerondersteuning insluit.

Aansoek vir albei hierdie studierigtings is reeds oop en voornemende studente kan aanlyn daarvoor aansoek doen.

 Die doel van die hoëronderwyssertifikaat is om studente toe te rus met kognitiewe en konseptuele gereedskap vir hoëronderwysstudie. Die fokus sal gerig wees op die ontwikkeling van basiese vaardighede wat noodsaaklik vir suksesvolle graadstudie op tersiêre vlak is. By Aros word die hoër sertifikaat aangebied deur ʼn oopafstandsleermodel (’n ODL-model). Kontaksessies vind egter ook plaas. Die onderskeie modules van die hoër sertifikaat word begrond op die Christelike visie en missie van Aros om Christenonderwysers op te lei.

Hierdie doel hou dus verband met die verbetering van generiese akademiese vermoëns binne ODL. Hierby is basiese taalvaardighede, basiese wiskundevaardighede en leer-en-onderrig-vaardighede ingesluit.

Die kwalifikasie bied toegang tot graadstudies in veral onderwyskwalifikasies by tersiêre instellings. Ná suksesvolle voltooiing van die hoër sertifikaat sal voornemende onderwysstudente voldoen aan die toelatingsvereistes vir Aros-programme waartoe hulle nie vantevore toegang gehad het nie. Hierdie programme sluit die BEd Grondslagfase-, BEd Intermediêre Fase- en die Senior Fase & VOO-program by Aros in.

Op sy beurt het die BEd Honneurs in Leerondersteuning ten doel om studente se teoretiese kennis in die leerondersteuningsveld te konsolideer en verdiep. Sodoende sal leerders in primêre skole (grondslagfase en intermediêre fase) met diverse leerhindernisse doeltreffend geassesseer, ondersteun en bemagtig kan word. Die program sal ook studente in staat stel om diverse en unieke leervermoëns en -uitdagings te identifiseer en dit binne die onderwys te akkommodeer. Verder het die kwalifikasie ten doel om studente vir MEd-studie voor te berei deur op navorsingsvaardighede te fokus.

Aros se onderrigmodel bied die ideale geleentheid vir voornemende onderwysers om hul studie en praktiese onderwyservaring gedurende hul studietydperk te kombineer.

Tans lewer Aros roepingsgedrewe studente wat gekwalifiseer het met ʼn diploma in Graad R-onderrig, BEd in Grondslagfase, BEd in Intermediêre Fase of ’n BEd in Senior Fase en Verdere Onderwys en Opleiding grade. Studente kan ook ʼn nagraadse onderwysdiploma by die private Afrikaanse Christelike hoëronderwysinstelling, wat op die onderwyssektor fokus, behaal.

ʼn Afstandsonderrigmodel word gevolg wat beteken studente van regoor Suid-Afrika vorm deel van ʼn korps van meer as 2 400 jongmense wat hier opleiding ontvang.

Aros sien uit om hierdie nuwe opleidingsgeleenthede van 2024 af aan te bied. Aansoeke om by Aros in 2024 te studeer, is reeds oop. Voornemende studente kan gedurende die week die splinternuwe Aros-kampus in Montanapark in die noorde van Pretoria vir ʼn kampustoer besoek. Afsprake met bekwame studentewerwers kan ook virtueel plaasvind.

Besoek www.aros.ac.za om meer inligting.

Aros het in April sy nuwe kampus in Montanapark amptelike bekendgestel. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.