Aros brei uit met nuwe opleidingsgeleenthede in die onderwys

onderwyser

Foto: Homeyesterday.com

Aros het onlangs akkreditasie by die departement van hoër onderwys en opleiding (DHOO) ontvang om vanaf 2021 twee nuwe onderwyskwalifikasies aan te bied. Dit sluit die BEd in senior fase (SF) en verdere onderwys en opleiding (VOO), asook ʼn nagraadse onderwyssertifikaat (NGOS) in SF en VOO in.

Dié private, Christelike hoëronderwysinstelling, wat by die departement van hoër onderwys en opleiding geregistreer is, weet die onderwyslandskap in Suid-Afrika is dinamies.

“Tans is daar heelwat uitdagings waarvoor die onderwys te staan kom. ʼn Beduidende tekort aan onderwysers is een hiervan. Juis hierom wil Aros roepingsgedrewe studente oplei wat ná hul studies die onderwysprofessie met kundigheid kan betree,” het prof. Rikus Fick, rektor van Aros gesê.

“Ons wil graag voornemende studente, wat dit as ʼn roeping beskou om onderwyser te word en by ‘n instelling studeer waar die onderrig op ʼn Christelike reformatoriese grondslag geskied, verwelkom en uitnooi om aansoek te doen by Aros. Ons land het sulke mense dringend nodig.”

Die fokus van die BEd in SF en VOO-graadkursusse is daarop gerig om studente toe te rus om vakspesialiste in hul onderskeie rigtings te word.

“Hierdie studente word opgelei om leerders vanaf graad 7 tot 12 te onderrig. Hierdie program is veral daarop gemik om die student met genoeg teoretiese kennis oor die modules toe te rus. Op sy beurt rus praktykervaring die student weer toe om eendag as volwaardige en bekwame onderwyser in die klas te kan staan. Studente in die BEd in SF en VOO-graadkursus se kontaksessies sal voorlopig op ʼn Dinsdag en Woensdag plaasvind,” het Fick gesê.

Die NGOS- en BEd in SF en VOO-kwalifikasie bestaan uit drie rigtings waarin studente kan kwalifiseer. Hierdie rigtings is natuurwetenskappe, ekonomiese en bestuurswetenskappe, asook tale. Daar sal van studente verwag word om vir bepaalde tye praktiese ervaring by ʼn skool op te doen. Indien die student nie alreeds by ʼn skool betrokke is nie, word studente vir die praktiese tydperk deur Aros by ‘n skool geplaas. Hierdie skool moet binne ʼn radius van 165 km van Aros geleë wees.

Die NGOS, wat ook vanaf 2021 aangebied word, se programstruktuur bestaan uit e-leer en twee blokweke (April en September); een jaar heeltyds (met moontlike verlenging tot twee jaar) of twee jaar deeltyds (met moontlike verlenging tot drie jaar).

Wanneer ʼn student heeltyds studeer, sal daar van hom of haar verwag word om vier weke in die eerste semester en vier weke in die tweede semester die praktiese deel te voltooi. Deeltydse studente sal agt weke oor die verlengde tydperk moet voltooi. Hiervan moet ten minste twee weke aaneenlopend per geleentheid afgehandel word.

Aros poog om jaarliks studente van hoogstaande gehalte te lewer. Tans bied Aros ʼn diploma in gr. R-onderrig, BEd in grondslagfase en BEd in intermediêre fase-onderrig aan. Studente in bogenoemde rigtings woon verpligte kontaksessies op Vrydae of Saterdae by.

Die instelling se onderrigmodel bied die ideale geleentheid vir voornemende onderwysers om hul studies en praktiese onderwyservaring gedurende die vier jaar te kombineer.

Aros sien daarna uit om hierdie nuwe opleidingsgeleenthede vanaf 2021 aan te bied. Aansoeke om by Aros in 2021 te studeer, open op 1 April 2020. Aros se eerste opedag vind hierdie jaar op 4 April 2020 plaas. Besprekings vir die opedag kan gedoen word op Aros se webtuiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.