Aros spog met nog ’n onderwysgraad

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Aros (Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies) het akkreditasie ontvang vir ʼn onderwysgraad in Intermediêre Onderwys (graad 4 tot 7). Aros het tans 900 studente wat ingeskryf is vir die graad in Grondslagfase-onderwys asook ʼn diploma in graad R-onderrig. Met die nuutste toevoeging, die Baccalaureusgraad in Intermediêrefase-onderwys, lei Aros Afrikaanse onderwysers op vir alle kleuterskole en laerskole in Suid-Afrika, vanaf graad R tot 7.

In Januarie 2017 begin Aros met opleiding vir die nuwe graad in Intermediêre Onderwys en met die huidige tekort aan onderwysers in Suid-Afrika skop die onderwysgraad op die regte tyd af. Die doel van hierdie graad is om studente te bemagtig om die beginsels van die onderwys vir die spesifieke fase te verstaan en om die beginsels in praktyk toe te pas. Die belangrikste komponent van Aros se opleiding is die Christelike grondslag wat studente ontvang om as roepinggedrewe onderwysers in die klaskamer te staan. Die graad is veral daarop gemik om die student goed toe te rus in die teorie van spesifieke vakke, terwyl die praktykervaring die student laat verstaan wat dit beteken om ʼn onderwyser te wees.

Aros se fokus is primêr op gehalte-onderwys, en dit sluit in moedertaalonderrig, werkgeïntegreerde-leer en vakspesialiste. Dit is om hierdie rede dat Aros se kwalifikasies aangebied word in Afrikaans volgens ʼn afstandsonderrig-model. Terwyl studente inskakel by skole kan hulle studeer en naweke hulle dosente tydens kontaksessies sien. Vir die nuwe graad in Intermediêre Onderwys kan studente kies tussen twee rigtings, Wiskunde en Natuurwetenskappe enersyds en Geesteswetenskappe andersyds. In die rigting Wiskunde en Natuurwetenskappe word studente toegerus oor ʼn tydperk van vier jaar met ʼn indieptekennis in wiskunde en natuurwetenskappe. In die rigting Geesteswetenskappe word studente toegerus in die vakke geografie, geskiedenis en lewensvaardighede. In albei rigtings word studente veral toegerus in die tale Afrikaans en Engels.

Die toekomsplanne vir Aros sluit in ʼn graad in die senior fase en VOO-fase (graad 8 tot 12), nagraadse onderwysdiplomas (die ou NGOS), asook verskillende honneurs- en meestersprogramme. By Aros wil ons nie hê ons studente moet ʼn graad in administrasie ontvang nie, daarom is ons registrasieprosesse aangenaam en ons studiegidse en handboeke betyds. Ons studente moenie sukkel om te leer nie, daarom is dit vir Aros veral belangrik om vir studente goeie ondersteuning te bied. Onderwys is Aros se passie en gehalte-onderwys sy leuse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Victor Correia ·

Dit is ‘n antwoord op baie gebede en harde werk. Dankbaar.

Riaan ·

Dit is duidelik die Here se seën oorvloedig geskenk word. Soli Deo Gloria!

Stephné du Toit ·

Absoluut trots om deel te kan wees van hierdie instansie!

Sarina ·

Met dankbare harte, volkome vertroue en biddende afhanklikheid op ons Hemel Vader wat ons sover gelei het, pak ons ook nou hierdie nuwe fase aan.

Johann ·

Aan Hom kom toe al die lof en heerlikheid, tot in ewigheid!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.