Aros vestig internasionale bande met toer

Foto: Aros

Deur dr. Morne Diedericks, Akademiese hoof by Aros

Die groei in die Afrikaanse private hoër onderwys die afgelope paar jaar en die bereiking van 1 000 studente het die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) laat besluit om vanjaar sy internasionale bande te versterk.

Met die talle openbare universiteite in Suid-Afrika is die mark en kennis van private hoër onderwys in Suid-Afrika beperk. Daarom het Aros besluit om die volgende paar jaar bande te bou met wêreldklas private universiteite in Noord-Amerika. In April vanjaar het Aros vyf private universiteite in Noord-Amerika besoek.

Die toer het deeglike beplanning geverg met die doel om bestuursaspekte aangaande akademiese diepte asook die operasionele vermoë van Aros te versterk. Hierdie bestuursaspekte sluit aspekte in soos tersiêre bestuurstrukture, finansies, fondswerwing, bemarking, menslike hulpbronne, logistiek, kurrikulumontwikkeling, gehaltebeheer, inligtingstegnologiestelsels, e-Leer, onderrig en leer, studente-ondersteuning, studentelewe, werkslading van personeel en dosente, identiteitsontwikkeling, beleid, toelating en registrasie van studente, navorsing, sport, biblioteekfasiliteite en materiaalontwikkeling.

Oor die afgelope 50 jaar het private hoër onderwys aansienlik gegroei. Om dus te kies watter instellings Aros sou besoek was nie ʼn maklike taak nie. Aros se historiese bande met Dordt College (wedersydse besoeke en dosente-uitruilprogramme) in die VSA, het Aros laat besluit om instellings te besoek wat in Noord-Amerika (Kanada en VSA) geleë is. Aros het die volgende vyf instellings besoek: Trinity Western University, King’s University, Dordt College, Covenant College en Geneva College. Meer as 150 vrae is elektronies aan hierdie instellings gestuur aangaande verskillende aspekte van tersiêre onderwys.

Foto: Aros

Hierdie instellings het Aros met groot opgewondenheid en openheid ontvang. Aros het meer as 70 verskillende persone ontmoet wat by die verskillende instellings betrokke is met byna 60 uur se opnames wat getranskribeer en vanuit die verskillende gesprekke verwerk is.

Aros se verwagtinge van die toer is oortref en met groot dank aan die vyf instellings kon Aros sy eie institusionele bekwaamheid op ʼn hoë gehaltebasis verder uitbou. Planne, idees en rigting wat Aros se toekomstige uitbouing van sy eie universiteitsidee vorm, was die uitkomste van hierdie toer.

Aros glo en hoop dat die uitwerking van hierdie toer ʼn goeie grondslag vestig vir verdere internasionale bande; en dat Aros as ʼn wêreldklas-instelling sal ontwikkel wat ook sy akademiese en navorsingskapasiteit sal uitbou in samewerking met hierdie internasionale universiteite.

Foto: Aros

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Albaster ·

Hoe sterker bande met ander top instellings oorsee, hoe sterker gaan ons onsself weer opbou.

Johan Neuteman ·

Dit lyk na goeie skakeling. Die foto’s wys indrukwekkende geboue. ‘n Artikel of twee oor die universiteite wat besoek is, sal nuttig wees om ‘n breër bewustheid van universiteitswese en begrip van hoe dit elders werk, te kweek.

Casper Beukes ·

Goeie werk! Eks nie verbaas dat hulle julle met openheid ontvang het nie, hierdie is intellektuele groot broers wat omgee. Noú doen julle mos die regte ding. Dit sal báie beteken vir graad akkreditasie. En as ons kuikens die nes verlaat sal ons hulle met ń goeie hart kan laat Noord vlieg saam met voëls van eenderse vere.

Aros skakeling ·

Goeiedag Casper Beukes,

Ons maak graag so – kontak ons gerus ook vir nog inligting!
Groete
Aros skakeling

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.