Aros wys eerste ontvangers van onderwysbeurse aan

Onderwys__2

Argieffoto.

Aros, ʼn private hoëronderwysinstelling wat onderwysers oplei, het die eerste ontvangers van sy onderwysbeurs in samewerking met Pretoria FM en Rapport Onderwysfonds Vrydag aangewys.

Anje du Toit en Bianca Moller ontvang elkeen ʼn beurs ter waarde van R200 000, wat van toepassing is vir die volgende vier jaar. Dit is grootste onderwysbeurse in die private hoëronderwys-sektor in die land.

Studente kan kies tussen ʼn BEd-graad in die grondslag- of intermediêre fase. Die intermediêre fase het twee rigtings waaruit gekies kan word, naamlik wiskunde en natuurwetenskappe of lewensvaardighede en sosiale wetenskappe.

Die kandidate is albei top-presterende studente. Du Toit het in 2018 aan Hoërskool Grens in Oos-Londen gematrikuleer terwyl Moller tans ʼn matriekleerling aan Hoërskool Merensky in Tzaneen is. Prof. Rikus Fick, Aros se rektor, het die nuus persoonlik aan hulle oorgedra. Du Toit is tans verbonde aan Target Life in Pretoria en is tydens ʼn klassessie voor al haar klasmaats verras. Moller het in haar tuisdorp, Tzaneen, die nuus ontvang. Albei was oorstelp toe hulle met hierdie goeie nuus verras is.

Du Toit gaan in 2020 haar studie by Aros in die BEd Grondslagfase begin en Bianca in die BEd Intermediêre Fase. Vir albei wenners is dit ʼn droom wat bewaarheid is en hulle is uitgesproke daaroor dat hulle graag ʼn verskil in kinders se lewe wil maak.

“Ons wil graag belê in belowende voornemende studente wat dit as ʼn roeping sien om onderwyser te word en wat wil studeer by ʼn instelling waar hulle op ʼn reformatoriese grondslag onderrig ontvang. Ons land het sulke mense dringend nodig,” sê Fick.

Aros se gemengde onderrigmodel bied die ideale geleentheid waar onderwysers hul studie en praktiese onderwyservaring deur hul vier jaar kan kombineer. Studente het of op ʼn Vrydag of op ʼn Saterdag klas op Aros se kampus in Waverley, Pretoria, en kan dus deur die week onder meer as assistent by verskillende skole werk.

Aansoeke vir studie in 2020 by Aros is tans oop en sluit op 31 Oktober 2019. Die jaarlikse Aros-kampuskuierdag vind op 26 Oktober 2019 plaas en voornemende studente word genooi om die dag te kom geniet. Besprekings vir die dag kan gedoen word op die Aros-webwerf by www.aros.ac.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Werner ·

Ek is so opgewonde as Afrikaner in Suid-Afrika, kyk net hier! So trots!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.