Art deco-teater in die Karoo

Die Apollo-teater soos die gebou vandag lyk. (Foto: Elize Perrin)

Deur Elize Perrin

Ouwêreldse sjarme, toegevou in geskiedenis en gegeur met heerlike herinneringe. Dit is die Apollo-teater in Victoria-Wes, die enigste oorspronklike art deco-teater in die land.

Aan die voet van die koppie waarop die dorp se naam in wit klippe pryk, het die teater sy staan in die 1920’s gekry. Dit was die geesteskind van Andrew Bassil, ’n Griekse immigrant, wat hom ná die oorlog in Suid-Afrika kom vestig het.

In Kerkstraat staan die Apollo-teater en die stadsaal regoor mekaar. Ná laasgenoemde se voltooiing in 1910, is dit gebruik vir, onder meer, filmvertonings met ene Phillip Vos wat die taak verrig het. Hy moes die stadsaal by die munisipaliteit huur vir die vertonings. As vergunning kon hy sy toerusting in die stadsaal bêre, tensy die saal vir ander funksies uitverhuur is.

Gauvouras, ook ’n Griek, is as bestuurder van die Good Hope Café aangestel. Gauvouras is egter kort ná sy aanwysing oorlede. Andrew Bassil, ’n Griekse immigrant, het in Gauvouras se voetspore gevolg en later die Good Hope Café gekoop.

Soos die Art Deco Cafeteri toeka gelyk het. (Foto: Petrus Maartens)

Ooptrek van die gordyne

Bassil, wat in die Eerste Wêreldoorlog geveg het, het in 1923 via Lourenco Marques (nou Maputo), die land binnegekom. Hy het homself Engels geleer deur die Cape Argus en Cape Times te lees. Bassil het hom as ’n florerende sakeman bewys met ’n kafee, winkel en die fliek. Die filmteater is agter die kafee gebou en het aanvanklik die Apollo Talkies-teater geheet. Die deure het in 1928 geopen.

Die onderste vlak van die teater is met opgestopte sitplekke uitgerus, terwyl daar op die galery houtbankies en -stoele was. Slegs wit mense kon die onderste vlak gebruik met die res van die inwoners wat van die galery gebruik moes maak. In 1976 is die grondvlak vir almal oopgestel toe ’n oudinwoner se kleinseun, Willem Kempen, die teater by die destydse eienaar, Casper Landman, gehuur het.

Die destydse foto’s van Elizabeth Taylor, Lana Turner en Stewart Granger hang vandag steeds daar. Rooi fluweelgordyne voor die verhogie het die prentjie afgerond. Die verhogie is onlangs vergroot om meer prakties vir verhoogoptredes te wees.

Die filmrolle en houers van die Apollo-teater. (Foto: Elize Perrin)

In 1956 het Andrew Bassil die aanvanklike Good Hope Café vervang met ’n meer moderne weergawe.

Verskeie van die ouer inwoners onthou die flieks met nostalgie.

“Pouses is etes bedien”, vertel een. “Meneer Bassil het graag tussen die tafels deur beweeg en almal gemaan om nie te lank te draai nie, net om self vas te haak met ’n geselsie.”

Bassil se seun, Drew, onthou hoe die films per spoor vanaf Johannesburg of Kaapstad na Victoria-Wes vervoer is en op katrolle in groot blikke aangekom het.

“Die grootste uitdaging was dat die film nie tydens vertonings moes skeur nie,” vertel hy. “Indien dit wel gebeur, moes dit so gou as moontlik herstel word.”

Oor hoekom sy pa die naam Apollo vir die teater gekies het, is Drew nie seker nie.

“My pa het nadat hy van die Eerste Wêreldoorlog teruggekeer het, gestrewe na geregtigheid en wysheid,” vertel hy. “Dit was ook twee van Apollo, uit die Grieks en Romeinse mitologie, se eienskappe. Dalk kan dit die rede wees.”

In Maart 1973 is die gordyn vir Andrew Aristides Bassil op aarde toegetrek. Die plaaslike koerantjie, Victoria West Messenger (23 Maart) berig as volg: “The Victoria West community was shocked to learn of the sudden death of Mr. A.A. Bassil last Monday. He collapsed in his office while attending to his business affairs.”

In dieselfde berig verwys hul ook na Bassil as ’n uitstaande karakter in Victoria-Wes en dat sy gesegdes dikwels in die publiek aangehaal is. Hy word ook as ’n aristokraat en ware heer beskryf; iemand waarop Victoria-Wes baie trots was.

Nog nie die einde

Die oorspronklike kasregister van die Good Hope café. (Foto: Elize Perrin)

Dit was ’n hartseerdag vir die gemeenskap toe die Apollo in 1981 sy deure moes sluit. In 1998 raak David en Gail Robins by die Apollo teater betrokke en herstel dit tot sy volle glorie. Die Apollo Development Association (ADA) word in 2001 gestig en bied in dieselfde jaar die eerste filmfees aan.

Ongelukkig beleef die Apollo ’n paar jaar later ’n insinking en die filmfees kom ook tot ’n einde. Die Apollo se asem is egter nog nie uit nie. Dit herleef weer in 2016 onder leiding van Contessa Kruger en verskeie ander inwoners.

Tans word jeugopleidingsprogramme en talentkompetisies in die Apollo aangebied. Kunstenaars tree dikwels daar op en ouwêreldse kortfilms word in die Desembervakansie vertoon, kompleet met springmielies en koeldrank. Groepe en individue kan ook die teater besoek en hul inleef in die herinneringe van gister. Groepe kan selfs reël vir ’n filmvertoning.

’n Interessante uitstalling van oorspronklike gebruiksartikels komplementeer die geskiedenis van die Apollo-teater. Dit sluit outydse projektors en die eertydse filmrolle en -houers in, asook die oorspronklike kasregister van die Good Hope Café.

Die Apollo-teater is beslis ’n besoek werd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.