‘As jy dit droom, kan jy dit bereik’

Hope Swart help graag in haar gemeenskap. (Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Hope het met geboorte ophou asemhaal. Haar ma, Preline Swart, vertel hulle kon net hoop en vandaar haar naam. Dié 12-jarige meisie se jong hande staan vir niks verkeerd nie – nie net maak sy ’n verskil in haar gemeenskap nie, maar sy bring hoop aan vele ander.

Hope vertel sy is die laatlammetjie in haar gesin en word goed ondersteun in hul gesin met drie broers en twee susters.

“Ek is ’n graad 7-leerder aan die Laerskool Bredasdorp, een van die beste skole in ons omgewing, en is ook onlangs verkies tot ons BD-raad. Dit is ’n groot eer en voorreg om tot diens te wees van my skool. Skoolgaan is die beste, ek leer elke dag iets nuuts en sien my skoolvriende.”

Sy vertel haar rolmodel is Tamaryn Green, Mej. Suid-Afrika van 2018. Sy hoop om haar eendag te ontmoet, want sy is ’n groot inspirasie vir Hope.

“Ek glo daaraan om elke dag my beste te gee by die skool asook in my buitemuurse aktiwiteite en is al vanaf graad 1 ’n topleerder. Ek speel netbal en sing in die skoolkoor. My skoolwerk is boaan my prioriteitslys. Ná skool ry ek perd, doen Jeugskou met suiwelbeeste en neem ek aan skoonheidskompetisies.

“Ek is passievol en toegewyd en glo daaraan om elke dag ’n verskil te maak in die lewe van ’n mens of dier.” Soos meeste jongmense hou sy van lees, om TikTok-videos te maak, te swem, op die trampoline te speel en tyd saam met haar vriende deur te bring.

“Ek is baie lief vir die plaaslewe en leef vir die naweke wat ons plaas toe gaan, want dan kan ek rondry en tussen die vee wees en ons plaasmense bederf.”

Hope klink dalk soos net nóg ’n 12-jarige meisie, maar op haar jong ouderdom is sy reeds gefokus en weet sy waarvan sy hou en waar sy ’n verskil wil maak.

Na skool ry Hope graag perd, maar skou ook met suiwelbeeste en neem aan skoonheidskompetisies deel. (Foto: Swart Storm Fotografie/Verskaf)

Twee maande gelede het Hope begin perdrylesse neem, want gedurende inperking is hul Jeugskou afgestel. Sy is baie lief vir diere en geniet dit om tyd saam met hulle te spandeer.

“Ek is mal daaroor om te skou en het my provinsiale kleure behaal waarop ek baie trots is. Ek skou al vanaf 2017 en as boeremeisie wat lief is vir skape en bietjie bangerig was vir beeste, was dit ’n groot aanpassing, maar nou verruil ek dit vir niks.”

Sy vertel haar hoogtepunt was toe sy ’n eerste plek verwerf het by die Suid-Afrikaans Kampioenskappe. Al ry sy nog nie lank perd nie, geniet sy elke oomblik daarvan.

“Die tannie wat my afrig, het so ’n sagte, liefdevolle manier van praat met my en die perd. Ek was eers bang vir perde, maar nou is ek baie lief vir hulle en die afrigter sê ek is baie natuurlik.”

Preline, Hope se ma, sê sy het in 2018 die besluit geneem om haar dogter aan skoonheidskompetisies bloot te stel om te kan leer hoe om dit te hanteer wanneer daar verloorslae is.

“My ma was bang dat omdat ek so goed presteer op skool, dat ek sal dink dat ek net altyd orals sal goed doen. Sy het my vanaf my eerste kompetisie geleer om die wenners geluk te wens. Al was dit moeilik aan die begin, het dit my geleer as jy iets vir ander opreg gun, seën die Here jou met iets groters. Sy het nie rekening daarmee gehou dat ek sou lief word daarvoor nie.”

Inperking het baie veranderinge meegebring en Hope doen aanlyn Zoom-klasse by Valerie Begbie van Vogue Catwalk Models.

“Al het ek haar nog nie persoonlik ontmoet nie, laat sy my op my gemak voel en hanteer my asof ek by haar in die klas is. Sy leer my dat ek alles moet insit en my beste gee. Ek het al baie spesiale oomblikke beleef en baie vriende gemaak. Van my mooiste krone het ek vir kinders in ons omgewing gegee om hulle ook te laat spesiaal voel. Wat baat dit ek sit met ’n kas vol krone en daarbuite is dogtertjies wat netso graag een wil hê?”

In April was dit Outismemaand en Hope het een van haar rokkies en ’n kroon vir ’n outistiese dogtertjie gegee. Sy was in ekstase.

“My grootste droom is om eendag die Mej. Suid-Afrika- en Mej. Wêreld-krone te dra, maar vir nou gaan ek hard werk in my omgewing en oral waar ek kom. Dit is belangrik om te werk na jou droom en nie net daarvoor te sit en wag nie.”

Hope glo geensins dat ’n model ’n kroon en sash nodig het om ’n verskil te maak nie, maar jy moet die liefde en passie daarvoor hê om ander te wil dien.

“Skoonheidskompetisies kos geld, tyd en baie opoffering. Ek doen lankal reeds liefdadigheidswerk, dit is maar tweede natuur in ons huis, so ek doen dit nie net omdat ek aan kompetisies deelneem nie, dit kom agterna.”

Hope skou ook met suiwelbeeste en het al talle pryse losgeslaan. (Foto: Verskaf)

Een van die skoonheidskompetisies wat die meeste vir haar uitstaan, was Hope Journey International 2019/2020 wat in Kaapstad plaasgevind het.

“Dit het modelle ingesluit uit verskillende lande. Ek het kinderhuise besoek en vriende gemaak uit ander lande. Ek is gekroon as Miss Pre-Teen Hope International Eerste Prinses. Ander titels sluit in: Queen – Mej. Elim Basaar 2017, Miss Hollywood 2019, Miss Gucci Africa 2021 en 8 Charities Title Holder.

Hope het saam met Preline haar eie projek, Hope Give Hope, begin om ander te help wat niks het om te eet nie. Sy is nou al drie jaar aktief betrokke in die gemeenskap met dié projek.

“’n Mens lees en sien so baie op televisie van mense wat swaar kry… al kan ek net een mens help, dan het ek ook iets gedoen om te help. Ek weet ek sal nooit almal kan help nie, maar ek kan ten minste probeer.”

Hope deel weekliks kospakkies en brode uit in haar plaaslike gemeenskap. Sy samel ook klere, skoene, speelgoed, meubels en kosse in en deel dit uit waar nood is en probeer help waar sy kan.

“Enigiets wat ek ontvang wat bruikbaar is, gee ek aan ander. Ek hou fotokompetisies en raffles om geld in te samel om kos en brood te koop. My projek is die verlengstuk van ander se harte en hande. Ek gee ook strooibale en voer aan kleinboere vir hul vee. Sonder die hulp van my ouers, vriende en vreemdelinge sou ek nooit ’n verskil in ander se lewens kon gemaak het nie. Ek is so dankbaar vir almal wat my help.”

Hope glo geensins dat ’n model ’n kroon en sash nodig het om ’n verskil te maak nie, maar jy moet die liefde en passie daarvoor hê om ander te wil dien. (Foto: Verskaf)

Hope reik ook uit na ander organisasies en kinders in die skoonheidsbedryf sodat hulle van hul uitreikings en projekte ’n sukses kan maak, want sy glo saam-saam kan hulle ’n groter verskil maak.

“Dit verskaf my baie plesier om ander te help. Ek wil onthou word as die dogtertjie met die warm hartklop vir mense en diere wat probeer het om ander te help in hul uur van nood. My grootse wens is dat plaaslike besighede my sal ondersteun sodat ek ’n groter verskil kan maak in ons pragtige Overberg-area. Dit wat ek uitdeel, is nie baie nie, maar ek weet dit help beslis iemand. Om gemeenskapswerk te doen, is vir my lekker – dit is lekker om die glimlagte op ander se gesiggies te sien. Dit laat my hart vinnig klop. My leuse in die lewe is: “As jy dit kan droom, kan jy dit bereik.”

Hope is in 2020 benoem vir die African Children’s Awards, waar sy twee toekennings ontvang het: Community Development/Engagement 1st Runner-Up en Education & Skills Development 1st Runner-Up. Sy is ook ’n Ambassador of The Stacey Fru Foundation, in die Earth Squad International Team en ’n African Children Awards Nominee 2020.

“Ek is tans ’n finalis van Toddler & Tween of the World wat in September plaasvind. Ek verteenwoordig ook die Wes-Kaap in Desember by die Hope Journey International 2021/22 kompetisie teen ander lande. Ek is benoem vir die SA Children Awards wat op 16 Desember in Johannesburg plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Wat ‘n aangrypende storie van ‘n meisie wat wyd leef om voluit te kan LEEF! Gryp elke geleentheid om ‘n verskil te maak en is op vroeë leeftyd reeds ‘n rolmodel.

Johan

Wat ‘n sprankelende meisie. Sy gebruik elke geleentheid om voluit te LEEF. Op vroeë ouderdom is sy reeds ‘n navolgingswaardige rolmodel. Sy gaan die vrugte van lewensvreugde pluk.