Atheense Eed nou in Afrikaans beskikbaar

Foto ter illustrasie. (Foto: Puk Patrick/Unsplash.)

Deur Paul Maritz

Die Efebiese Eed, dikwels ook bekend as die Atheense Eed is ’n eed wat deur jong mans van Athene gesweer is wanneer hulle ingesluit is by die militêre akademie van hierdie stad, bekend as die Efebiese Kollege.  Alle jong mans moes aan hierdie kollege studeer en slaag om as burgers van Athene erken te word.

Die teks van hierdie eed is reeds in die vierde eeu voor Christus deur die Atheense outeur Leikourgos neergepen, alhoewel gespekuleer word dat hierdie teks reeds in die eeu voor dit verbaal versprei is.

Van hierdie eed het Flip Buys, hoof van die Solidariteit Beweging, onlangs die volgende te sê gehad:

“Hierdie eed, en dit wat dit onderlê, het myns insiens die grondslag van ons Westerse kultuur geword.  Die kern daarvan was dat jong mans van 18 jaar moes beloof om die erfenis wat hulle van hul voorgeslagte gekry het, te bewaar, en in ’n beter toestand as wat hulle dit ontvang het, aan die volgende geslag na te laat. Daarby moes hulle ook onderneem om hul mense dapper te verdedig, die stad se wette te gehoorsaam, verantwoordelikheid vir hul gemeenskap te neem en om die God van hul vaders te dien.”

Hierdie moderne verwysing na die Efebiese Eed, het Solidariteit Jeug, die Jeug-gilde van Solidariteit, geprikkel om ’n Afrikaanse vertaling van hierdie eed te bekom, wat daar tot dusver nie was nie. Die Jeugorganisasie het in kontak met prof. Jorrie Jordaan van die NWU gekom, en Jordaan het ’n Afrikaanse vertaling van hierdie antieke teks gemaak, juis sodat dit vrylik gebruik kan word in die Afrikaanse taalgemeenskap se denke en gesprekke oor sake van lojaliteit, verantwoordelikheid, en die oordrag van kultuur tussen geslagte.

Die Afrikaanse teks, soos deur Jordaan verskaf:

Ek sal die wapens wat ek aan my taak toewy, nie oneer aandoen nie, en ek sal my medestryders met wie ek skouer aan skouer veg, nie verlaat nie. Ons heiligdomme en sedes sal ek verdedig, op my eie of saam met my medestryders. Ek sal toesien dat ons vaderland vir die nageslag behoue bly, nie in kleiner vorm as wat ek dit ontvang het nie, maar nog groter en beter. Ek sal die heersende bewindhebbers met bereidwilligheid gehoorsaam, en aan die neergelegde Grondwet sal ek my onderwerp, en ook aan alle ander wette wat deur die landsburgers neergelê word. En as iemand die Grondwet sou wou ophef of ongehoorsaam of omverwerp, sal ek dit afweer, op my eie of saam met my medestryders. Die godsdiens van my voorouers sal ek eerbiedig.

Solidariteit Jeug glo dat hierdie Afrikaanse vertaling nie net ’n bydrae tot die Afrikaanse taal maak nie, maar ook die punt bewys dat Afrikaans met enige taal ter wêreld kan kompeteer.

In sy bekende gedig “Die beiteltjie” stel NP van Wyk Louw dit so mooi:

“So moet ’n beitel slaan wat beitel is, of hoe?”

Hierdie Afrikaanse weergawe van die antieke Griekse teks dien as nog ’n sterk bewysstuk dat Afrikaans die vermoë het om op die hoogste akademiese vlak aangewend en geniet te word.

Die teks van die Efebiese Eed, soos wat dit deur Jordaan vertaal is, sal gratis op Wikipedia beskikbaar wees, as deel van Maroela Media se Wikipediaprojek.

Hier volg die Afrikaanse vertaling. Eers gee ek dit reël vir reël weer, met ʼn letterlike vertaling, direk gevolg deur ʼn gemakliker vertaling van elke reël. Aan die einde gee ek die gemakliker vertaling in een paragraaf.

Οὐ καταισχυνῶ τὰ ὅπλα τὰ ἱερὰ,

Ek sal nie my gewyde wapens oneer aandoen nie

Ek sal die wapens wat ek aan my taak toewy, nie oneer aandoen nie,

 

οὐδ’ ἐγκαταλείψω τὸν παραστάτην ὅτῳ ἂν στοιχήσω·

nòg sal ek my medestander met wie ek in gevegslinie staan, verlaat;

en ek sal my medestryders met wie ek skouer aan skouer veg, nie verlaat nie.

 

ἀμυνῶ δὲ καὶ ὑπὲρ ἱερῶν καὶ ὁσίων καὶ μόνος καὶ μετὰ πολλῶν.

ook ons heiligdomme en sedes sal ek verdedig, sowel op my eie as saam met baie (medestanders).

Ons heiligdomme en sedes sal ek verdedig, op my eie of saam met my medestryders.

 

καὶ τὴν πατρίδα οὐκ ἐλάσσω παραδώσω, πλείω δὲ καὶ ἀρείω ὅσης ἂν παραδέξωμαι.

En ons vaderland sal ek (aan die nageslag) oordra, nie kleiner nie, maar groter en beter as wat ek dit ontvang het.

Ek sal toesien dat ons vaderland vir die nageslag behoue bly, nie in kleiner vorm as wat ek dit ontvang het nie, maar nog groter en beter.

 

καὶ εὐηκοήσω τῶν ἀεὶ κραινόντων ἐμφρόνως καὶ τοῖς θεσμοῖς τοῖς ἰδρυμένοις πείσομαι

Ek sal die wat op die gegewe tyd aan bewind is, met bereidwilligheid gehoorsaam, en aan die neergelegde Grondwet sal ek my onderwerp

Ek sal die heersende bewindhebbers met bereidwilligheid gehoorsaam, en aan die neergelegde Grondwet sal ek my onderwerp,

 

καὶ οὕστινας ἂν ἄλλους τὸ πλῆθος ἰδρύσηται ὁμοφρόνως·

en alle ander (wette) wat die burgers ook al eenparig mag neerlê;

en ook aan alle ander wette wat deur die landsburgers neergelê word.

 

καὶ ἂν τις ἀναιρῇ τοὺς θεσμοὺς ἢ μὴ πείθηται οὐκ ἐπιτρέψω,

En as iemand die grondwet sou wou ophef of ongehoorsaam of omverwerp,

En as iemand die Grondwet sou wou ophef of ongehoorsaam of omverwerp,

 

ἀμυνῶ δὲ καὶ μόνος καὶ μετὰ πολλῶν.

sal ek dit verdedig, sowel op my eie as saam met baie (medestanders).

sal ek dit afweer, op my eie of saam met my medestryders.

 

καὶ ἱερὰ τὰ πάτρια τιμήσω.

En die godsdiens van my vaders sal ek eerbiedig.

Die godsdiens van my voorouers sal ek eerbiedig.

 

ἵστορες τούτων Ἄγλαυρος, Ἐνυάλιος, Ἄρης, Ζεύς, Θαλλώ, Αὐξώ, Ἡγεμόνη.

Getuies hiervan is Agraulos, Enualios, Ares, Zeus, Thallon, Aukso, Hegemone.

Getuies hiervan is Agraulos, Enualios, Ares, Zeus, Thallon, Aukso, Hegemone.

  • Paul Maritz is die bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nikolaas ·

Was dit vanweë die bevraagtekening van die sedes in die eed wat Athene demokraties gestem het om Sokrates gif te laat drink?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.