ATKV vier sy 90ste bestaansjaar

Gemeenskappe bly die spil waarom die ATKV se doen en late draai. Mag die volgende 90 jaar gevul wees met sielsverrykende ervarings, vele geleenthede om Afrikaans uit te bou en te bemark en om saam ’n verskil in die wêreld om ons te maak. (Foto: Verskaf.)

Op 19 Augustus vier die ATKV sy 90ste bestaansjaar en 2020 sal vir dié taal- en kultuurorganisasie die jaar wees waarin in dit nege dekades onthou van opbou, uitbou en voortbou om die Afrikaanse taal te vier.

Vir die ATKV klink die woorde van NP van Wyk Louw al te bekend: “Heer, gee ons reg, ons eis met diep ontsag… dat ons daad in hierdie land moet bly ’n lig wat wink, ’n vlam wat skroei”.

Amper ’n eeu later is die ATKV steeds sinoniem met die Afrikaanse taal en woeker die organisasie en sy takke om die taal te laat voortleef en ook ’n verskil in Afrikaans te maak.

Uitsonderlike projekte bied aan deelnemers die nodige platforms om hulle vaardighede te verbeter en hul talente te ontgin en te ontwikkel.

Tydens die jubileumjaar in 1980 was die woorde “’n monument van lewende diensbaarheid” deel van die ATKV se leuse. In ’n SAUK-program wat indertyd gehandel het oor die ATKV het die programaanbieder, Nic de Jager, ter afsluiting opgemerk: “Klein was die begin. Gering die krag wat gemonster kon word. Monumentaal die bouwerke wat opgerig is”.

Ná 90 jaar word die kernwaardes van die ATKV steeds met onverdunde ywer aktief en doelgerig gehandhaaf en tot uitvoer gebring in belang van sy lede en die groter gemeenskap.

Volgens Sonél Brits, besturende direkteur van ATKV-MSW (maatskappy sonder winsoogmerk), is die ATKV 90 jaar terug gestig juis met die doel om die Afrikaanse taal en kultuur te bemark en te steun.

“Die eerste vakansieoord is ses jaar daarna aangekoop en só het die belange en bedrywighede van die ATKV gegroei tot die grootste taal- en kultuurorganisasie in Suid-Afrika.”

Sy sê dit is veral in die laaste dekade of twee dat die ATKV as die mees inklusiewe en verteenwoordigende kultuurorganisasie gevestig is.

“Die feit dat die ATKV by jonk en oud aanklank vind, hetsy met ’n verskeidenheid van taal- en kultuurprojekte of by die vakansieoorde, spreek boekdele dat die ATKV oor die jare relevant gebly het.

“Die ATKV het daarin geslaag om ’n brugbouer te word tussen die verskeidenheid van Afrikaanses wat lede van die organisasie word of aan die taal- en kultuuraktiwiteite deelneem, sowel as tussen sprekers van ander tale en kultuurgroepe in Suid-Afrika.”

Weens die streng maatreëls wat die inperking gebring het, moes die ATKV ook aanpas en hul projekte op ’n vindingryke manier aanbied.

“Sosiale afstand was nog nooit ’n term wat ons sou gebruik om die ATKV se projekte te beskryf nie. Ek dink aan verhoë vol singende Applous-deelnemers, jong akteurs en aktrises wat hul slag op die verhoog wys en werkswinkels en feeste waar ons kon skouers skuur,” sê Sonél.

“ATKV-DigiProjekte gee aan Afrikaanssprekendes – jonk en oud, oor landgrense heen – steeds die geleentheid om deel te neem. Covid-19 het weer bewys dat die ATKV die vermoë het om in ’n korter tydperk produkte van gehalte in die mark te posisioneer.

“Vaardigheidsontwikkeling lê ons nog altyd na aan die hart. Met DigiProjekte skep ons geleenthede vir ’n verskeidenheid van mense om te bou aan hul toekoms. Net daar waar hulle nou is. Dit geld ook Afrikaans se tweedetaalsprekers. Dit is die ATKV se visie om die Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar deel te maak van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika.”

Sy sê hulle werk hard om tegnologie en innovasie te omarm sodat mense van oor die wêreld heen met ope arms by die ATKV verwelkom kan word.

“Tog bly die kernwaardes die ankers waaraan alles verbind word. Gemeenskappe bly die spil waarom die ATKV se doen en late draai.

Mag die volgende 90 jaar gevul wees met sielsverrykende ervarings, vele geleenthede om Afrikaans uit te bou en te bemark en om saam ’n verskil in die wêreld om ons te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Ek sal graag wil sien dat die ATKV erkenning gee oor sy ontstaan en watter mense die ATKV vir die grootste deel van sy verlede gedra het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.