Atlantis: “Iets goeds kan hier gebore word”

Atlantis

Foto: Izak de Vries

Dit is al soveel keer bewys dat ʼn mens se omstandighede nie jou toekoms in die lewe bepaal nie – maak nie saak hoe haglik jou omstandighede is nie, jy kan iets besonders doen, of iets vir iemand beteken.

Dis met dié gees wat Annie Peterson, gemeenskapsleier en die Voorsitter van die ATKV-tak op Atlantis, haar gemeenskap bemagtig.

Sy het ʼn tuinbouprojek in samewerking met Die ATKV, Lapa Uitgewers en die Orion Organisation op die been gebring, wat mense sal oplei om hul eie, volhoubare tuine te begin. “Hier is ʼn probleem met werkloosheid en hierdie projek gaan mense help om hulself te onderhou,” sê Annie.

Een van Lapa se skrywers, Wynand Boshoff, het oor die afgelope drie dae sy kennis en ervaring oor tuinbou met die inwoners van Atlantis gedeel. Boshoff het ʼn meestersgraad in volhoubare landboupraktyke.

Volgens Annie sal mense nie net hul gesinne kan voed nie, maar die moontlikheid van werksgeleenthede word ook gebied. “Ons het baie padstalletjies waaraan ons kan verskaf. Ons mense met groter stalletjies gaan uit die dorp uit om hul produkte te koop, maar hoekom kan ons nie aan hulle verskaf nie?”

Vir mense wat nie ʼn lappie grond het nie, sal voorsiening gemaak word deur verskeie organisasies wat dié projek ondersteun. “Ons is besig om met ʼn paar mense te gesels wat hul grond beskikbaar sal stel.”

Annie dryf verskeie projekte in Atlantis en mens wonder of sy genoeg tyd in die dag het vir al dié werk. Annie sê dis juis die mense van Atlantis wat haar motiveer. “Ek het vyf kinders op hierdie dorp grootgemaak, wat uit hierdie omstandighede uitgestyg het. Ek wil vir ander mense wys jou omstandighede bepaal nie jou identiteit nie. Jy kan meer wees – jy kan beter wees. Iets goed kan uit Atlantis gebore word.”

Dis ongelooflik om te sien wat ʼn handjievol mense kan doen. Volgens Izak de Vries van Lapa Uitgewers het die tuin, wat hulle oor die afgelope drie dae bewerk het, nie ʼn sent gekos nie. “Ons het letterlik alles van ashope opgetel, of uit die veld gekry. Hierdie tuin sal vir vyftien jaar lank (of meer) vrugbaar wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.