Atleet hardloop kilometers vir plaasaanvalslagoffers

Bennie Roux (Foto: Verskaf)

Die 41-jarige ultramarathon-atleet Bennie Roux van Centurion gaan vandeesweek honderde kilometers in die Vrystaat aflê vir die #HardloopvirHoop-projek ten bate van AfriForum se trauma-ondersteuningseenheid se slagoffers van geweldsmisdaad en plaasaanvalle.

Roux spring Dinsdag in Villiers in die Vrystaat weg en wil sowat 250 kilometer in vyf dae hardloop. Dié kranige atleet beoog om Saterdag sy liefdadigheidstog by die Roosfees op die Oranje Gasteplaas buitekant Fouriesburg te voltooi.

Roux vertel Maandagmiddag aan Maroela Media hoe hy al jare lank wil terugploeg in die gemeenskap en iets positiefs met sy hardloopvernuf doen. Hy is self by AfriForum se trauma-ondersteuningseenheid betrokke en het besluit om ʼn geldinsamelingsinisiatief van stapel te stuur ter bewusmaking van slagoffers van geweldsmisdaad – veral dié van plaasaanvalle.

Roux se roete strek van Villiers na Frankfort, dan na Reitz, na Bethlehem en dan tot by die Roosfees in Fouriesburg in die Oos-Vrystaat. Feesgangers kan Saterdag vyf kilometer saam met Roux van Fouriesburg na die feesterrein draf. “Ek is gebore en getoë in die Vrystaat. Ek het die Vrystaat vir my roete gekies omrede ek reeds die omgewings ken,” sê Roux.

Vyf vrywilligers gaan saam met Roux dié liefdadigheidstog aandurf. Van die skole in die onderskeie Vrystaatse dorpe gaan ook vir ʼn kilometer of twee saam draf. “Die idee dat daar mense die tog saam met my aanpak, maak dit vir my ligter en beter,” sê Roux.

Roux hardloop al vir die afgelope twintig jaar as ultramaraton-atleet. “Op skool het ek niks gehou van hardloop nie. Ek het eerder fiets gery. In matriek het my broer aan die Comrades-marathon deelgeneem. Ek wou hom wys dat ek dit ook kan doen. Dit is tóé dat die hardloop-gogga my gebyt het,” vertel hy.

Roux vertel plaasaanvalle lê hom na aan die hart. “Skoolvriende, ’n oom en tannie en hul destydse bure is op ’n plaas tussen Bethlehem en Reitz aangeval op hul plaas. Dit ruk ’n mens as dit so naby aan jou kom,” vertel hy.

Bennie Roux is ‘n ultramarathon-atleet (Foto: Verskaf)

Roux wil met die #HardloopvirHoop-projek weer opnuut die aandag op plaasaanvalle vestig. Buiten die bewusmaking van plaasaanvalle wat Roux met die projek wil skep, is sy doel hoofsaaklik om fondse vir AfriForum se trauma-ondersteuningseenheid in te samel.

Volgens Carina Bester, AfriForum se mediaskakelbeampte, lewer dié burgerregte-organisasie se trauma-ondersteuningseenheid ʼn unieke, persoonlike diens aan sowat 238 slagoffers van geweldmisdaad. Sowat 38 van dié slagoffers is kinders.

Bester vertel dié eenheid is in 2015 gestig en het sedertdien weens die toename in misdaad, en veral plaasaanvalle, uitgebrei. Die eenheid verskaf ook kos aan behoeftige slagoffers en bied ondersteuning met basiese mediese uitdagings, die voorsiening van klere, hofsake, die afneem van verklarings en in sekere gevalle die nodige sielkundige ondersteuning.

Die publiek kan dié projek ondersteun deur #HardloopvirHoop-plasings en -artikels op AfriForum se Facebook-blad te deel. Ondersteuners kan ’n bedrag per kilometer skenk of enige ander skenkings ter ondersteuning van die slagoffers doen. Besoek gerus AfriForum se webblad vir bankbesonderhede vir skenkings en meer inligting oor die projek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alida ·

Ons vertrou en bid dat Die Here vir Bennie sal beskerm op hierdie roete.

SAARTJIE ·

Wens ek kon saam met jou hardloop. Die Here sal jou behoed en bewaar. Dankie vir jou onbaatsugtige daad!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.